Het jy geweet dat daar in die hemel boeke is waarin daar oor jou geskrywe word?
Die Bybel praat van verskillende boeke.
Mal 3:16 sê daar is ‘n gedenkboek voor die Here se aangesig geskrywe vir die wat die HERE vrees en sy Naam eer.
Ja Psalm 65 praat van ‘n boek waarin jou trane opgeskryf word.
Openbaring praat weer van die boeke waarin al ons dade opgeteken is
En dan is daar ook ‘n ander boek. Die boek van die lewe. Jesus sê in Lukas dat ons moet bly wees as ons name in hierdie boek opgeskrywe is. Openbaring noem dit die boek van die lewe van die Lam. Ons weet Jesus is die Lam van God. So in hierdie boek gaan net die name wees van mense wat aan Hom behoort.
Wanneer jy jou tot die Here bekeer en Sy volgeling word, word jou naam opgeskryf in die boek van die lewe van die Lam. En daar is niks wat ons kan doen om dit te verdien nie. Jesus het klaar die prys betaal, soos die dief aan die kruis moet ons dit net erken en glo dat Jesus die enigste weg na die hemel is.
Hoekom is hierdie boek van die lewe van die Lam so baie belangrik. Ons lees in Openbaring dat die mense wie se name nie in die boek van die lewe is nie, nie toegang tot die hemel sal kry nie maar in die vuurpoel gegooi sal word.
Daarom is dit so belangrik, dat jy seker maak dat jou naam in die boek van die lewe van die Lam geskryf is.