Jesus en die diewe.
“Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.” (Joh 10:10)
Daar was vier diewe betrokke in die gebeure rondom die kruisiging van Jesus.
Die eerste was een van sy eie dissipels. Judas Iskáriot, was ‘n dief was, het die beurs gehad het en die bydraes geneem het. (Joh 12:6). Dit was dan ook hierdie Judas wat Christus verraai en met Sy in hegtenis neming gehelp het.
Dan was daar die tweede dief, Barábbas wat met mede-oproermakers in die gevangenis was; en hulle het in die opstand ‘n moord begaan. En Barábbas was ‘n rower. (Mark 15:7; John 18:40) Hierdie veroordeelde rower en moordenaar wat moes sterf het onverwags begenadiging en vryspraak gekry toe Christus in sy plek kruis toe is.
Dan natuurlik die twee diewe wat saam met Jesus gekruisig is. Mat 27:38 Toe word daar saam met Hom twee rowers gekruisig, een aan die regter— en een aan die linkerkant.
Luk 23:39 En een van die kwaaddoeners wat opgehang is, het Hom gesmaad en gesê: As U die Christus is, verlos Uself en ons.
Die ander dief aan die kruis, het tot sonde besef gekom, en sy houding teenoor Jesus was anders:
Luk 23:42 En hy sê vir Jesus: Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom.
Luk 23:43 En Jesus antwoord hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.
Almal was diewe, oortreders net soos ons wat die straf verdien. Die een was ‘n verraaier, die ander het tydelik voordeel getrek, en dan die ander een wat Jesus gespot en gelaster het, maar een van hulle het gelowige geword.
Erken jy Jesus as die een wat in jou plek gestraf is?
Luk 23:40 Maar die ander een antwoord en bestraf hom en sê: Vrees jy ook God nie, terwyl jy in dieselfde oordeel is? —
Luk 23:41 ons tog regverdiglik, want ons ontvang die verdiende loon vir ons dade, maar Hy het niks verkeerds gedoen nie.
Jesus het niks verkeerds gedoen nie, maar Hy het gekom om Sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie, want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is. (Rom 3)
Onthou die een dief aan die kruis, dit is nooit te laat om berou te hê oor jou sondes en jou tot God te bekeer en Jesus as jou verlosser aan te neem nie.