Ons lees in Genesis dat God die mens geskape en dat Hy hulle geseën het.
Wat beteken dit om iemand te seën. Wel ons sou kon sê dit is om aan iemand goed te doen. Veral wanneer ons aan iemand iets gee wat hyself nie kan bekostig nie. Of miskien is dit iets wat ons self nie kan doen nie, dan help iemand anders ons daarmee. Dan seën daardie persoon ons met dit wat hy of sy vir ons doen.
Toe die Here dan gesê hat dat Hy die mens seën is dit dan ook presies wat Hy tot vandag toe nog doen. Hy gee ons wat ons nodig het en help ons wanneer ons nie iets vir ons self kan doen nie.
Die Bybel sê vir ons Hy is soos ‘n vader wat hom ontferm oor die kinders, ja, so ontferm die HERE Hom oor die wat Hom vrees
Die HERE is vir almal goed,
Die HERE ondersteun almal wat val, en
Hy rig almal op wat neergeboë is.
Die HERE is naby almal wat Hom aanroep, almal wat Hom aanroep in waarheid.
Hy vervul die wens van die wat Hom vrees, en Hy hoor hul hulpgeroep en verlos hulle.
En met kerstyd dink ons mos opnuut weer daaraan dat God die Vader sy eniggebore Seun vir ons gegee het omdat ons iets nodig gehad het wat ons nie kon koop of vir ons self kon doen nie.
Ja, Jesus het aarde toe gekom sodat Hy die straf op hom kon neem vir ons sonde . En die Bybel leer ons dat elkeen van ons wat Jesus aanneem sal kind van God genoem word. Ons lees in die Bybel in 1 Johannes 3 dat dit deur die Vader se groot liefde is dat ons kinders van God genoem kan word.
Julle ken mos almal Joh 3:16:
Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.
En Jesus het Sy lewe vir ons gegee omdat Hy met Sy bloed vir ons sondes moes betaal. Verstaan jy nou watter groot seëning God eintlik vir ons gegee het. Sonder Jesus, wat sonder sonde was, sou ons nie kon reg maak wat sonde hier op aarde gebreek het nie. Maar nou kan ek en jy deur ons eie sonde te bely en Jesus aan te neem as ons verlosser die ewige lewe verkry.
As jy dalk dink ja, maar ek is nie goed genoeg nie, onthou Jesus het juis aarde toe gekom vir die vuiles en siekes. Al kan jy maar net Sy naam fluister, Hy sal afbuk na jou toe.
In Openbaring lees ons van Johannes wat aan Sy voete neergeval het. Die Bybel sê hy het soos ‘n dooie gelê. Dus kon hy niks vir homself doen nie.
Maar dan lees ons dat Jesus Sy regterhand op Johannes gesit het. Wel dit beteken net een ding, as Johannes nie kon opstaan nie, omdat hy soos ‘n dooie daar gelê het, dan het Jesus afgebuk na hom toe.
Jy sien dus geliefde, moenie wag nie, as jy dit nog nie gedoen het nie, aanvaar Jesus , dit is die grootste seëning wat jy ooit sal kry, en die wonderlikste van alles. Dit hang nie van ons af nie. Nee, Jesus sal selfs afbuk na ons waar ons ook al is.