Sê die Bybel iets oor leerstellinge (doktrines of soos in Engels doctrine) en wat sê die Bybel van God.
Wel wat leerstelling of doktrines betref is daar die baie bekende gedeelte in Hebr 6:
Daar lees ons van die leer (Engels doctrine) van die doop en van die handoplegging en van die opstanding van die dode en van die ewige oordeel.
Jesus sê in Johannes 7, “My leer is nie myne nie, maar van Hom wat My gestuur het.”Hand 2:42 sê die eerste gelowiges het volhard in die leer van die apostels. En so kan u vele ander tekste vind wat verwys na die leer van, of doktrine.Die woord leerstelling of doktrine klink meskien ingewikkeld, maar al wat dit is, is basies ‘n verduidelikking van ‘n begrip. So daar is geen rede om te skrik as iemand hierdie woorde gebruik nie.
In die boeke Timótheüs en Titus word daar nogal heelwat oor leerstellinge gesê. Ons lees daar van ‘n gesonde leer, en dat jy jouself voed met die woorde van die geloof en van die goeie leer. Ons lees van arbeid in woord en leer en dat die Naam van God en die leer nie belaster mag word nie. En verder dat ons met die gesonde geleer mekaar sal vermaan.
Doktrines is dus beslis nie net ‘n manier om ‘n Christen te verwar nie. Dit is ‘n noodsaaklike element in die fondasie van elke Christen. Daarsonder sou jy beslis een van die wees wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering.
Petrus sê ons moet altyd bereid wees om verantwoording te doen aan elkeen wat van ons rekenskap eis omtrent die hoop wat in ons. Dit beteken ons moet weet wat ons glo en in staat wees om dit wat ons glo uit die Bybel te kan verduidelik. Baie kom vandag met ‘n boodskap of evangelie wat hulle sê God het dit aan hulle openbaar. Die enigste manier om dit te toets is dan om te kyk wat die Bybel daaroor leer.
satan kom en sal self uit die Woord aanhaal, maar op ‘n slinkse en verdraaide manier. Die boodskap is duidelik uit Lukas 4 toe Jesus deur die Gees na die woestyn gelei is, waar Hy deur die duiwel versoek is.
Doktrines of leerstellinge is dit wat ons help om die Woord te verstaan.
Wees soos die mense van Beréa, Handeling 17:11 Hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was.