Die Bybel en verskillende Rasse

Ons lewe vandag in ‘n wêreld waar daar, wanneer ‘n negatiewe insident tussen mense van verskillende etniese groepe plaasvind, onmiddelik die rasse kaart gespeel word. 

En dit is nie net hier in Suid Afrika nie maar wêreld wyd.

Rassisme is basies wanneer ‘n persoon of ‘n groep op grond van velkleur of bloedlyn , of iets buite hul beheer bevoordeel of benadeel word. Daar is sekerlik verskeie redes vir rassime. 

Vrees en of hoogmoed is gewoontlik betrokke en baie keer is politieke korrektheid die groot dryfveer.

Met reg is daar al na rassisme as ‘n monster in die samelewing verwys en direk of indirek word ons almal daardeur geraak.

Dit is dus noodsaaklik dat ons as Christene uit die Bybel toegerus moet wees.

Die onderwerp kan uiters gekompliseerd raak, en die bedoeling is nie om vandag ‘n klip in elke rassisme bos te gooi en kyk wat uitspring nie. Ek wil eerder net ‘n paar fundamentele feite uitlig waarsonder enige debat rondom rassime nooit volledig sal wees nie. Veral as Christen kan ons nie anders  om te begin by die Bybelse waardes en norme nie.

So laat ons by die begin, begin, en Genesis is dus die aangewese boek.  Ek dink as ons moes sê watter Bybel boek die duiwel die meeste haat, sal dit sekerlik Genesis wees. Soos ons al voorheen gesê het Genesis is die boek waarop die meeste Christelike oortuiging en leerstelling gebou is en satan haat dit.

Ons lees dan in Gen 1:26 – 27 En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip. 

En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape

En dan weer in Gen 2, waar daar ‘n meer detail beskrywing is van wat alles op dag 6 gebeur het, lees ons hoe God eers die man gemaak het uit die stof van die aarde ( Gen 2:7) en dan die vrou uit die man se rib (Gen 2: 21 – 23) .

Gen 3:20  sê dan dat alle mense op aarde uit hulle voort gekom het. En die mens het sy vrou Eva genoem, omdat sy moeder geword het van alles wat lewe. Die Nuwe testament bevestig dan ook vir ons hierdie leerstelling dat alle mense van Adam en Eva af kom.

Hand 17:26  En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het

En natuurlik die bekende gedeelte oor die laaste Adam in 1 Kor 15:45 – 49 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. 

Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra

Wanneer ons dus  oor rasse praat is dit uiters belangrik om dan te onthou dat die ganse mensdom soos ons dit vandag sien, afkomstig is van slegs twee indivudue, Adam en Eva.

Mense val baie vinnig in die strik om te dink dat daar ander mense ook was.  ‘n Vraag wat baie keer gevra word, is waar het Kain dan ‘n vrou gekry en wie was die mense wat hom sou wou dood maak.

 U ken die storie in Genesis 4 waar Kain sy broer Abel doodslaan en waar hy dan in Gen 4:14 sê:  Kyk, U verdryf my nou uit die land uit, en ek moet my verberg vir u aangesig: ‘n swerwer en vlugteling sal ek op die aarde wees, en elkeen wat my kry, sal my doodslaan

En dan lees ons in verse 16 en 17, Toe gaan Kain weg van die aangesig van die HERE, en hy het gewoon in die land Nod, aan die oostekant van Eden. En Kain het sy vrou beken….

Nou waar het sy vandaan gekom.

Die probleem is, indien Adam en Eva die enigste mense was, en broers en suster met mekaar getrou het, sou dit dan nie bloedskande gewees het nie. Wel nee, want die opdrag dat naaste familie, soos broer en suster nie met mekaar mag trou nie, het eers honderde jare later gekom.

Die Here het hierdie opdrag vir Moses gegee. Dit is alles opgeteken in Levitikus.

Onthou God het Adam en Eva geneties perfek geskape, maar na die sondeval het mutasies (DNS kopieerfoute) ingetree. Daar was egter nog steeds baie min genetiese foute, dus kon Abraham met sy halfsuster trou. Met tyd het die genetiese foute egter vermeerder, dus het die waarskynlikheid van abnormaliteite ook groter geword. God weet altyd beter en dit is dus vir die nageslag van die mens se eie beswil dat naby familie nie meer kan trou nie.

Let wel ons trou nog steeds met ‘n familielid, indien ons nie met ‘n familielid trou nie, trou jy nie met ‘n mens nie. Onthou vir 

Hand 17:26  En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, Eers die nageslag van Adam, en dan na die vloed die nageslag van Noag.

Daar is absoluut geen Bybelse rede hoekom mense van verkillende etnisiteite of vel kleur nie met mekaar kan trou nie. Hoogmoed by die een groep teenoor die ander is egter ‘n groot rede. Hy of sy is nie goed genoeg vir ons familie nie.

Die Bybel waarsku duidelik teen hoogmoed. Spreuke 16:18  Trotsheid kom voor die verbreking, en hoogmoed kom voor die val.

Jesus is presies die teenoorgestelde: Mat 11:29  Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; 

En hierin lê die groot waarheid omtrent rassisme. By rassisme is daar nooit nederigheid van hart te vinde nie. En ja rassime kom by alle mense groepe voor. Dit is nie soos party ons vandag will laat glo dat dit net wit teen swart, of net tussen mense met verskillende kleur gebeur nie. Die van u wat wêreld nuus volg, sal weet hoe Whoopy Goldberg onlangs uitgehaal is omdat sy beweer het dat die nazi volksmoord op die Jode niks met ras te make gehad het nie.

Soos altyd sal daar ook natuurlik ‘n paar Bybel verse wees, wat deur party buite konteks aanghaal word om te bewys dat die Here nie toelaat dat mense van verskillende rasse trou nie. Dink maar aan Paulus in  2Kor 6:14 18  Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? 

En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige? Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees. Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem; en Ek sal vir julle ‘n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige

Dit is egter baie duidelik dat God nie hier van mense met verskillende velkleur praat nie. Hy praat van twee mense waarvan die een die Here dien en die ander nie, een is ’n wedergebore Christen en die ander nie.

Mense sou ook baie keer na die OU Testament verwys om hul punt te staaf dat mens van verkillende etniese groepe nie mag trou nie, maar dit is duidelik dat soos Paulus in die Nuwe Testament gewaarsku het, gaan dit egter in die OU Testament ook oor die ander groepe se geloofs oortuiging.

Die Here het geweet dat die Jode verlei sal word om agter ander gode aan te loop. En dit is dan presies ook wat gebeur het. Daar is egter ook verskeie uitsonderings wat ons kan gaan naslaan, waar Jode met nie Jode getrou het en dit nie ‘n probleem was nie.

Dink maar aan Boas en Rut. Dit is duidelik dat Rut besluit het om die Joodse geloof aan te neem. 

Ons lees van Rut se besluit in Rut 1:16  Maar Rut sê: Moenie by my aandring dat ek u moet verlaat om agter u om te draai nie; want waar u gaan, sal ek gaan; en waar u vertoef, sal ek vertoef; u volk is my volk, en u God is my God.

Luister hoe redeneer Rut u volk is my volk, en u God is my God. Later sou ons sien hoe hierdie Moabiet in die geslag register van Jesus opgeneem is. Mat 1:5  en Salmon die vader van Boas by Ragab, en Boas die vader van Obed by Rut, en Obed die vader van Isai, 

‘n Ander OU Testamentiese geval wat vir ons van groot waarde is in hierdie gesprek oor rasse is, is in Numeri. Ons lees vanaf Num 12:1 – 10:  En Mirjam en Aäron het teen Moses gespreek vanweë die Kusitiese vrou wat hy geneem het; want hy het ‘n Kusitiese vrou geneem.  En hulle het gesê: Het die HERE dan maar alleen met Moses gespreek? Het Hy nie ook met ons gespreek nie? En die HERE het dit gehoor.  Maar die man Moses was baie sagmoedig, meer as al die mense op die aardbodem.  Toe het die HERE dadelik met Moses en Aäron en Mirjam gespreek: Julle drie, kom uit na die tent van samekoms! En hulle drie het uitgekom. 

En die HERE het in ‘n wolkkolom neergedaal en by die ingang van die tent gaan staan. Daarna het Hy Aäron en Mirjam geroep, en hulle twee het uitgekom.  Toe sê Hy: Hoor tog my woorde. As julle profeet van die HERE is, sal Ek deur ‘n gesig My aan hom bekend maak, deur ‘n droom sal Ek met hom spreek.  So is dit nie met my kneg Moses nie: in my hele huis is hy getrou.  Mond tot mond spreek Ek met hom, en deur aanskouing en nie deur duister woorde nie; en hy sien die verskyning van die HERE. Waarom het julle dan nie gevrees om teen my kneg, teen Moses, te spreek nie? 

En die toorn van die HERE het teen hulle ontvlam, en Hy het weggegaan.  En toe die wolk van die tent af weggetrek het, kyk, toe was Mirjam melaats, soos sneeu. En Aäron het Mirjam aangekyk en—sy was melaats! 

Hierdie hele storie begin met die insiggewende stelling dat  Mirjam en Aäron teen Moses gespreek vanweë die Kusitiese vrou wat hy geneem het.

Hulle het dit ‘n ras ding gemaak, en God was glad nie gelukkig daarmee nie en Mirjam het melaats geword.

Die Bybel is dus baie duidelik ons is almal dieselfde. En net soos met slawerny het die kerk die bal laat val en in ‘n seker mate daartoe bygedra. Maar net soos dit Christen gelowiges was wat op die voorpunt was om slawerny, veral wit op swart slawerny af te skaf, So moet die kerk vandag ook opstaan en nie bang wees om die waarheid wat God in Sy Woord openbaar oor rassime te preek nie.

Waar het die idee van verskillende rasse dan vandaan gekom.  Dit is so dat daar van die vroegste tye af biologiese argumente vir rassisme was. Dit is egter die opkoms van evolusie in die laat 19de eeu en vroeë 20 ste eeu wat rassisme biologies en sosiaal aanvaarbaar gemaak het. Ongelukkig het die kerk nie sterk genoeg standpunt teen evolusie ingeneem nie.

So is daar dan vandag nog sogenaamde Christen groepe wat dit nodig vind om dit wat die Bybel so duidelik oor die skepping leer, te verdraai omdat hulle die eer van mense bo die eer van God soek. Dit is van hulle wat ons hoor dat daar ander mense groepe voor Adam en self saam met Adam bestaan het.

Wanneer ons egter die Bybel vat soos die geskiedenis van die mens daarin weergegee word, is daar geen probleem om al die verskillende nasies, volke en tale met hul duidelike uiterlike verskille te verstaan nie.

Genesis 11 gee vir ons die detail oor die toring van Babel. Hoe die mense nie wou uittrek oor die hele aarde nie, maar op een plek wou bly. Die Here kom toe en skep verwarring onder hulle deur hulle verskillende tale te gee. En hulle was verplig om op te deel en uit trek.

Dit is egter Gen 10:32 wat vir ons die inligting gee wat belangrik is om te verstaan waar die verskille in die verkillende nasies vandag vandaan kom.

Dit lees: Dit is die geslagte van die seuns van Noag volgens hulle afstamming, in hulle nasies; en uit hulle het die nasies op die aarde hulle verdeel ná die vloed

Dus toe die mense verskillende tale gekry het, was dit volgens spesifieke familie groep.

Ons lees weer.  Dit is die geslagte van die seuns van Noag volgens hulle afstamming, in hulle nasies; en uit hulle het die nasies op die aarde hulle verdeel ná die vloed..

Voor die verwarring van die tale kon hulle maklik tussen die verskillende families trou, na die verwarring van die tale, soos die verskillende familie groepe weggetrek het , was hulle verpilg om net onder mekaar te trou. Sekere uiterlike kenmerke het dus meer dominant geraak as gevolg van die ondertrouery.

En soos die wetenskap vorder, kan ons ook wetenskaplik hierdie verskille verklaar. Byvoorbeeld, jou kleur hang basies af van hoeveel melanien jou liggaam vervaardig. Hoe meer hoe donkerder jou vel kleur. Mense wonder baie keer watter kleur Adam en Eva was, wel heel moontlik bruinerig. Hulle het dan ook oor die genetiese diversiteit beskik dat hulle kinders verkillende kleure sou wees, van baie lig tot baie donker.

Net so kry ons ook die verskillende oog vorme, dood eenvoudig oor die hoeveelheid vet om die oë, asook ‘n liggament wat westerse babas na so ongeveer ses maande verloor. U kan dus verstaan hoe die verspreiding van die verskillend familie groepe, met die onafwendbare ondertrouing binne die famillie, sekere uiterlike kenmerke sou oorbeklemtoon by party en weer minder prominent by ander sal maak.

Soos die genetiese wetenskap opvang met die Bybel, leer ons ook ‘n ander interessante feit.

Het u al gehoor van Mitochondriese Eva? Wel die wetenskaplikes weet vandag dat daar ‘n deel van die DNS is wat slegs van die moeder afkomstig. Hulle sê dan volgens wat hulle in ons DNS vandag kan sien is almal van ons afkomstig van een vrou wat hulle dan Mitochondriese Eva of  Mitochondrial Eve noem. Dit beteken egter nou nie dat hulle God sal eer gee en Genesis as geskiednis aanvaar nie. 

Hulle argumenteer slegs dat alle ander bloedlyne uitgesterf het. Met ander woorde die ander vrouens in die begin het net later nie meer dogters gehad wat hulle mitochondriese DNS kon voortsit nie.  Amper soos by ons waar die man se van gewoontlik voortgesit word in die familie, en ‘n sal ‘n van uitsterf as daar nie meer seuns gebore word vir die spesifieke van nie.

Dit is verder interessant dat hulle ook van die Y – chromosoom Adam praat. Studies dui daarop dat die Y chromosoom van alle mans vandag, terug wys na net een man in die verlede. Die wetenskaplikes praat ook hier van die Y Chromsome Adam. Ons weet dit is eintlik Adam van Genesis, maar soos met  Mitochondrial Eve dink ek nie hulle sal sommer maklik oortuig word nie.

Die punt is egter, of jy dus uit die Bybel of uit die wetenskap will aanhaal, daar is absoluut geen genetiese gronde vir rassisme nie.

Voor God is daar geen onderskeid nie, Deut 10;17 leer ons dat God  die persoon nie aansien en geen geskenk aanneem nie; Petrus bevestig dit in Hand 10:34 wanneer hy sê: Ek sien waarlik dat God geen aannemer van die persoon is nie.

Die verskille tussen mense en mense groepe het alles te doen met kultuur, jou lewensuitkyk en tot ‘n groot mate die sosiale agtergrond waaruit jy kom. Lees maar net die kommentare op sosiale media en u sal gou sien hoe mense ander beoordeel op grond van hul kleur of etnisiteit.

Wanneer ‘n wit man , of swart of bruin of Amarikaner of Engels man iets verkeerd doen is ons so geneig om te veralgemeen, en onmiddelik die hele bevolkings groep waaraan die individu verbonde is, te veroordeel.

Dit sal almal van ons egter goed doen om ag te slaan op die waarskuwing in Jak 2:4  het julle dan nie by julleself onderskeid gemaak en regters met verkeerde oorlegginge geword nie?

Jak 2:9  Maar as julle partydig is, doen julle sonde

Ek wil afsluit met die opdrag in 2 Kor 5:18  En dit alles is uit God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus en ons die bediening van die versoening gegee het

Aan ons, dit is nou die Christene, die liggaam van Christus is gegee gegee die opdrag om versoening te bedien. En ek dink male sonder tel het ons seker al hierdie opdrag gevaal. Die bediening van versoening is niks anders om die evangelie uit te leef en te verkondig nie. En onthou die Evangelie boodskap begin in Genesis.

Dit is nie regerings wat rassimes gaan beindig met allerhande nuwe wette nie. Dit is harte wat moet verander, en net God kan dit doen deur die Heilige Gees. 

Amen.