Die doop

Wat sê die Bybel oor die Verbond, die besnydenis en die Doop? 

Om hierdie vraag te beantwoord moet jy seker maak dat jy objektief sal kyk na wat wel in die Bybel staan en nie sekere dinge daar probeer inlees wat nie daar staan nie.

Jy moet ook eerlik met jouself wees en erken dat :

  1. Tradisie wat vir jare aangehang word, nie noodwendig reg is nie.

Mark 7:6-9. En Hy antwoord en sê vir hulle: tereg het Jesaja oor julle, geveinsdes geprofeteer soos geskrywe is: Hierdie volk eer My met die lippe maar is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is. Want terwyl julle die gebod van God nalaat, hou julle aan die oorlewering van mense vas: die wassery van kanne en bekers, en ander dergelike dinge van dieselfde aard doen julle baie. En Hy sê vir hulle: Julle verstaan dit goed om die gebod van God opsy te sit en so julle oorlewering te onderhou.

  1. Dit nie noodwendig die slimmes en geleerdes is wat altyd die regte antwoorde aan jou gaan gee nie.

Luk 11:52 Wee julle wetgeleerdes, want julle het die sleutel van die kennis weggeneem; self het julle nie ingegaan nie, en vir die wat wou ingaan het julle verhinder.

Mat 11:25 In daardie tyd het Jesus gespreek en gesê: Ek loof U, Vader, Here van die hemel en aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het.

  1. Die meerderheid nie altyd reg is nie.

Num 13 en 14.  Tien van die twaalf verkenners sê dat die Israeliete nie die beloofde land sou kon inneem nie en daarom moet hulle veertig jaar in die woestyn bly en sou almal sterf en slegs die volgende geslag saam met Josua en Kaleb kon ingaan.

Laat ons dan nou eers kyk na die verbond met Abraham en of dit en die besnydenis iets met die belydenis doop (doop van die gelowiges) te doen het.

Die verbond bestaan uit twee dele of kan selfs twee verbonde genoem word indien jy so verkies.

  1. Die verbond of afdeling waardeur almal in Abraham geseën sal wees en waarna verwys word in Gal. 2:7-9. Julle verstaan dan dat die wat uit die geloof is, hulle is kinders van Abraham. En die skrif wat vooruit gesien het dat God die heidene uit die geloof sou regverdig, het vooraf aan Abraham die evangelie verkondig met die woorde: In jou sal al die volke ges­eën

Vers 29. En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename.

Kom ons kyk na hierdie verbond soos opgeteken in Gen 12:1-3. En die Here het aan Abram gesê; Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat ek jou sal wys. En ek sal jou ‘n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ‘n seën sal wees. En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.

Dit is baie duidelik dat die nie-Jode ook erfgename sal wees van die seëninge wat aan Abraham se nageslag belowe is. Hier is geen aanduiding van die besnydenis of die doop nie.

  1. Die verbond of afdeling waardeur Abraham se nageslag die beloofde land sou kry en die besnydenis.

Gen 17:7-10. En Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag na jou in hulle geslagte as ‘n ewige verbond, om vir jou ‘n God te wees en vir jou nageslag na jou. En Ek sal aan jou en jou nageslag na jou die land van jou vreemdelingskap gee, die hele land Kanaan, as ‘n ewige besitting; en Ek sal vir hulle ‘n God wees. Verder het God aan Abraham gesê: Maar jy moet my verbond hou, jy en jou nageslag na jou, van geslag tot geslag. Dit is my verbond wat julle moet hou tussen My en julle en jou nageslag na jou: Al wat manlik onder julle is, moet besny word. Hierdie verbond (Wat dui op Kanaan as dit wat Abraham se nageslag sal ontvang) word dan ook bevestig in Psm 105: 9-11. die verbond wat Hy met Abraham gesluit het, en sy eed aan Isak; wat Hy ook vir Jakob as insetting bekragtig het, vir Israel as ewige verbond, met die woorde: Ek sal aan jou die land Kanaan gee, julle aangewese erfdeel

Die land Kanaan is dus slegs vir die Jode beloof, geen nie-Jood sal daaraan deel hê nie. Die doop doen dus beslis nie aan ons wat die besnydenis aan die Joodse volk gedoen het nie.Om dus te probeer leer dat die doop en die besnydenis met mekaar verband hou of dat die besnydenis deur die doop vervang word is beslis nie skriftuurlik nie.

Jesus self was besny, so ook Paulus en baie ander maar hulle is nog steeds gedoop. As Jesus dan nou werklik die doop as vervanging van die besnydenis ingestel het ( en ons het geen skrif om dit te bewys nie)  sou dit mos nie nodig wees dat mense besny en gedoop moes word nie.Tog is Jode wat besny was en tot bekering gekom het nog steeds gedoop en Jode wat tot bekering gekom het maar nie besny was nie weer besny soos ons duidelik in die volgende skrifte sal sien.

Met die uitstorting van die Heilige Gees en na Petrus se boodskap (sien Hand 2) toe omtrent drieduisend tot bekering gekom het is hulle almal gedoop. Onder hierdie drieduisend was daar sekerlik baie Jode wat reeds besny was. Hand 10:45-48 wys hoe gelowiges uit die besnydenis met water gedoop moes word. In Hand 16 sien ons dat Paulus self die besnydenis op ‘n Jood doen en in Hand 21 kondoneer hy dit weereens, nadat daar in Hand 15 ooreengekom is dat die besnydenis nie nodig is vir die nie-Jode nie. Wanneer Paulus dus in Kol 2:11-12 die doop in verband met die besnydenis bring is dit soos hy self sê, nie die besnydenis van die vlees deur mense hande nie maar besnydenis van die hart. Rom 2:29 … en besnydenis is dié van die hart…

Indien u nog nie oortuig is dat die besnydenis en die doop niks met mekaar te doen het nie en dat die doop beslis nie in die plek van die besnydenis gekom het nie, gaan kyk na Paulus se waarskuwing aan die gemeente van Galasi­ë. Gal 5:1 tot 4. Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk bring nie. Kyk ek, Paulus, sê vir julle dat as julle jul laat besny, Christus vir julle tot geen nut sal wees nie. En ek betuig dit weer aan elke mens wat hom laat besny, dat hy onder verpligting is om die hele wet te onderhou. Julle wat geregtig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval. Probeer nou gerus die woord “besnydenis” met “doop” vervang. Kyk ek, Paulus, sê vir julle dat as julle jul laat doop, Christus vir julle tot geen nut sal wees nie. En ek betuig dit weer aan elke mens wat hom laat doop, dat hy onder verpligting is om die hele wet te onderhou. Die doop is tog ‘n instelling deur Jesus self soos ons later sal sien en enige leer met hierdie inhoud is tog verseker nie waar nie.

Kom ons kyk nou wat sê die Bybel oor die doop.

  1. Wie het dit ingestel?

Die doop van gelowiges is deur Jesus self vir ons ingetel. Mat 28:18-19.En Jesus het nader gekom en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde. Gaan dan heen , maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel. NB!  Let op die orde, eers maak dissipels, dit wil sê eers bekering en geloof dan die doop en dan verder lering.

Mark 16:15-16.   En Hy het vir hulle gesê: gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom. Hy wat glo en hom laat doop sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word.  (Party mense sal nou weer hierdie probeer gebruik om te sê dat jy gedoop moet wees om gered te word, maar dit is beslis nie wat Jesus hier sê nie. Jesus benadruk slegs die belangrikheid van die doop en dat jy dit nie moet nalaat nie. Indien doop ‘n voorwaarde vir redding was sou Jesus mos Homself  verkeerd bewys het deur aan die kruis vir die man langs hom te beloof dat hy saam met Jesus die Paradys sou ingaan sonder om die man eers te doop. ) Let egter weereens op die volgorde.  As die Een met die hoogste gesag dit dan beveel het, wie is ek en jy dan om dit te probeer weg redeneer?

 2. Wie mag gedoop word?

Die tekse hierbo aangehaal toon duidelik dat jy eers tot bekering moet kom en glo. Daarom ook die doop van die gelowiges genoem.

Dit is ook duidelik in Hand 2:37-38. Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir Petrus en die ander apostels gesê: Wat moet ons doen broeders? En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die Gawe van die Heilige Gees ontvang. En dan in ook in Hand 8:36-37. En terwyl hulle voortreis op die pad, kom hulle by water; en die hofdienaar sê vir hom: Daar is water, wat verhinder my om gedoop te word. Toe sê Filippus: As u glo met u hele hart, is dit geoorloof. En hy antwoord en sê: Ek glo dat Jesus Christus die seun van God is.

Dit is dus baie duidelik dat suigelinge nie by hierdie doop wat deur Jesus ingestel is, ingesluit is nie. Kan ons uit die feit dat die hele gesin partykeer gedoop is dan nie aflei dat daar babas kon gewees het nie? Wel kom ons kyk weer na van hierdie gedeeltes.

Lidia, die puperverkoper en haar gesin:

Hand 16:15. En toe sy en haar huisgesin gedoop is, het sy by ons aangedring en gesê: As u oordeel dat ek in die Here glo, kom dan in my huis en bly daar. En sy het ons gedwing.

Indien Lidia nie die hoof van haar huis was nie, is dit heel onwaarskynlik dat sy so daarop sou aandring dat vreemdes na haar huis kom om daar te bly sonder dat sy haar man in die saak sou ken. Dit is dus heel moontlik dat sy nie getroud was nie en daar dus nie suigelinge in die gesin was nie. Inteendeel, dus baie meer aanvaarbaar dat dit diensknegte ensovoorts was wat deel uitgemaak het van haar gesin waarna verwys word.

Cornelius en sy gesin:

Hand 10:1-2. En daar was in Cesarea ‘n man met die naam van Cornelius, ‘n hoofman oor honderd van die sogenaamde Italiaanse leërafdeling. Hy met sy hele huis was vroom en godvresend en het baie aalmoese aan die volk gegee en was altyddeur in gebed tot God. En vers 46 sê dat nadat die Heilige Gees oor hulle gekom het, hulle in tale gespreek het. Kan ‘n suigeling werklik enige van hierdie dinge doen? Besluit maar self.

          Die tronkbewaarder en sy gesin:

Hand 16:32. En hulle het aan hom die woord van die Here verkondig en aan almal wat in sy huis was. Kan die woord van die Here aan ‘n suigeling verkondig word? Weereens, gebruik u gesonde oordeel en laat u nie mislei deur ander nie.

3.  Waarom is die belydenis doop na bekering dan so belangrik?

 Soos ons reeds gesien het, die doop is deur God self ingestel.

Mat 28:18-19 en Mark 16:15-16

Jesus het dit nie net beveel nie, maar ook ‘n goeie voorbeeld gestel deur baie ver te stap om Homself deur Johannes te laat doop. Joh 1:28-34 en in Mat 3:15 sê Jesus dat om gedoop te word is om alle geregtigheid te vervul.

God duld geen wysiging aan sy bevele nie. Num 20. Moses en  Aaron mag nie in die beloofde land ingaan nie omdat hulle nie, soos God beveel het, met die rots gepraat  het nie, maar dit twee maal met die staf geslaan het.

Dit is deel van die fondament waarop jy as Christen sal groei en leer. Heb 6:1-2. Daarom moet ons nie bly by die begin van die prediking aangaande Christus nie, maar na die volmaaktheid voortgaan sonder om weer die fondament te lê van die bekering uit dooie werke en van geloof in God, van die leer van die doop en van handoplegging en van die opstanding van die dode en van die ewige oordeel.

Dit is hoe jy deel het aan die kruis van Jesus en aan die vleeslike en geestlike wêreld wys dat jy die ou sondige mens afgesterf en begrawe het en so ‘n nuwe lewe in Christus Jesus begin. Rom 6:1-4. Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word? Nee, stellig nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe? Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgwek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel.

Dit is ‘n toets van gehoorsaamheid waardeur die mens se gehoorsaamheid aan God weer verklaar word. Soos ons hierbo gesien het, dui dit ook direk op Jesus se oorwinning van die Satan en met elke doop word die hele geestes wêreld weer daaraan herriner. Satan hou nie daarvan nie, daarom dat hy alles probeer om die doop, of dan ook gehoorsaamheid aan God, te keer. Hy poog dus nog steeds om, soos met Adam en Eva, die mens aan God ongehoorsaam te maak. Ons weet mos Satan val alles aan wat vir God belangrik is, soos bv:

  1. die huwelik en gesin daarom doen hy alles in sy vermoë om die huwelik te vernietig en die gesinne op te breek
  2. die liggaam wat die tempel van God is daarom val hy mense aan met wellus en oewerspelige gedagtes sodat die mens sondig teen sy eie liggaam.

Ons kan die hoekom van die doop dus soos volg  opsom.

  1. Simbolies van die vergifnis, afwassing van ons sonde en redding.

Act 2:38  En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.

Act 22:16  En nou, waarom versuim jy? Staan op, laat jou doop en jou sondes afwas, terwyl jy die Naam van die Here aanroep.

1Pet 3:21  waarvan die teëbeeld, die doop, ons nou ook red, nie as ‘n aflegging van die vuilheid van die vlees nie, maar as ‘n bede tot God om ‘n goeie gewete–deur die opstanding van Jesus Christus

‘n Begrafnis word uitgebeeld. (die ou mens). Ons het saam met Jesus Christus gesterf, is begrawe en deel in Sy opstanding.

Rom 6:4  Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel.

Gehoorsaamheid aan Jesus Christus.

Mat 28:19  Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.

Dit is ‘n bewys van jou geloof in Jesus Christus.

Act 8:36 – 37 En terwyl hulle voortreis op die pad, kom hulle by water; en die hofdienaar sê vir hom: Daar is water; wat verhinder my om gedoop te word? Toe sê Filippus: As u glo met u hele hart, is dit geoorloof. En hy antwoord en sê: Ek glo dat Jesus Christus die Seun van God is.

  1. Hoe moet ons gedoop word?

Besprinkeling is weereens iets wat nie uit die Bybel geregverdig kan word nie. Die woord ‘Baptize” beteken om ten volle met vloeistof te bedek, d.w.s onderdompeling. Ons sien dan ook bevestiging hiervan met die doop van die hofdienaar in Hand 8:38-39. En hy het beveel dat die wa moes stilhou; en hulle het altwee in die water afgeklim, Filippus en die hofdienaar; en hy het hom gedoop. En toe hulle uit die water opklim, het die Gees van die Here Filippus  skielik weggevoer, en die hofdienaar het hom nie weer gesien nie, want hy het sy weg met blydskap gereis. Ons het ook reeds gesien dat die Woord van God die doop as ‘n begrafnis beskryf. ‘n Paar drupples water op die voorhoof kan sekerlik nie as ‘n begrafnis gesien word nie. Met ‘n begrafnis word die hele liggaam van die afgestorwene mos bedek. Tog interessant dat self die Gereformeerde kerke in een van hul belydenis skrifte, die Heidelbergse Kategismes, presies dit erken.

Gaan lees maar self onder Sondag 26.

  1. Vraag: Hoe word jy in die heilige doop daarop gewys en daarvan verseker dat die enige offer van Christus aan die kruis jou ten goede kom?

Antwoord: So: Christus het die uitwendige waterbad ingestel (a). daarby het Hy beloof (b) dat ek net so seker met sy bloed en Gees van die onreinheid van my siel, dit is van al my sondes, gewas is wat die vuilheid van die liggam wegneem.

Weet asseblief, God is nie ‘n mens dat Hy kan lieg nie. Hy kan Hom ook nie self verloën nie. Dit beteken dat wat in Sy Woord staan is altyd waar en enige iets strydig daarmee is nie van God af nie. Besluit dan nou, watter is van God, die doop van gelowiges deur onderdompeling of die besprinkeling van suigelinge. Na watter stem gaan jy luister?

Die stem van Jesus wat in Mat 28:19 sê “Maak dissipels van al die nasies, en doop hulle…” of die stem van mense en tradisie wat sê besprinkeling van ‘n suigeling is vir God aanvaarbaar.

Onthou ook, God het nie nodig om dit wat Hy reeds in Sy  Woord aan jou openbaar het, spesiaal weer tot jou te bring deur die stem van Sy Heilige Gees nie.

Met ander woorde, moenie soos party mense sê, ek voel nog nie so nie, of die Heilige Gees het my nog nie van die belydenis doop oortuig nie en daarom gaan ek my nie laat doop nie.

Ons kan die doop en ons verhouding met Christus verder verstaan deur dit met ‘n huwelik te vergelyk.

  1. Wanneer twee mense seksueel verkeer, beteken dit nie dat hulle daarna getroud is nie. Net so beteken dit nie omdat ‘n baba besprinkel is, dat hy/sy daarna ‘n ewige lewende verhouding met God het nie. Inteendeel, ‘n intieme vehouding voor die huwelik word nie deur God erken nie, maar veroordeel. ‘n Man en vrou moet eers aan mekaar ewige trou beloof en wettig getroud wees voordat God se seën ook op die intieme sy van die huwelik sal rus. Die doop van ‘n ongelowige mens (groot of klein) beteken niks en gaan so ‘n persoon nie red nie.
  1. Verder is die doop soos ‘n trouring. Die trouring vervul die funksie om aan alle die mense wat jy teëkom te wys dat jy reeds aan iemand behoort. Jy gaan sekerlik nie baie gelukkig wees as jou maat sê, ja ek sal met jou trou maar niemand mag weet nie, en sodoende weier om jou trouring te dra nie. Net so is die doop ‘n teken in die geestes wêreld dat jy aan God behoort. Almal, engel en demoon sal weet dat jy aan God behoort.

Onthou jy die storie van die verlore seun in Lukas 15.

Nadat die vader hom terug verwelkom het in sy huis, gee hy opdrag om die seun met ‘n nuwe kleed aan te trek en ‘n ring aan sy vinger te sit. Net so, nadat jy to bekering gekom het en vergifnis by God die Vader ontvang het wil onse vader ook vir jou ‘n nuwe kleed aan trek en die ring aan jou vinger sit.

As Christen bely jy tog dat Jesus jou Koning en Here is, dat jy lief is vir Hom en al sy gebooie (opdragte) sal gehoorsaam. Daarby het jy ook gesien dat die Woord sê dat aan Jesus alle gesag in hemel en op aarde gegee is.  As dit alles dan vir jou ook waar is moet jy ook vir jouself die vraag afvra soos in Hand 8:36, “wat verhinder my om gedoop te word” want uit die Woord van God spreek Hand 22:16 tot elke gelowige; En nou, waarom versuim jy? Staan op, laat jou doop en jou sondes afwas, terwyl jy die naam van die Here aanroep. En Luk 6:46 En wat noem julle my: Here, Here! En doen nie wat ek sê nie.

One thought on “Die doop

Leave a comment