Die vrees van die Here

Wat is die vrees van die Here.

Wanneer ons vandag hierdie vraag sou vra is die antwoord gewoonlik in die rigting van ontsag, eerbied, aanbidding, eer, dankbaarheid en liefde. Ek dink dit is nogal ‘n goeie opsomming aangesien dit wys op ons houding teenoor die Almagtige. 

Die een ding wat mense nie sal noem, of spesifiek sal sê nie, is dat dit enigsins iets sou insluit wat daarop dui dat ons moet bang wees. Ons dink byvoorbeeld aan 1Jn 4:18  Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite, want die vrees sluit straf in, en hy wat vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie. .

Die vraag is egter, beteken dit dan nou dat in my wandel met die Here, ek glad nie bang hoef te wees nie.

Laat ons gou gaan na Handelinge 5.

Hand 5:1  Maar ‘n sekere man met die naam van Ananías het saam met sy vrou Saffíra ‘n eiendom verkoop,  en ook met die medewete van sy vrou van die prys agtergehou en ‘n sekere deel gebring en aan die voete van die apostels neergelê. 

 Toe sê Petrus: Ananías, waarom het die Satan jou hart vervul om vir die Heilige Gees te lieg en van die prys van die grond agter te hou?   As dit nie verkoop was nie, het dit nie joue gebly nie? En toe dit verkoop is, was dit nie in jou mag nie? Waarom is dit dat jy hierdie saak in jou hart voorgeneem het? Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God. 

En toe Ananías hierdie woorde hoor, het hy neergeval en gesterwe; en ‘n groot vrees het gekom oor almal wat dit gehoor het. Daarna het die jongmanne opgestaan en hom toegedraai en uitgedra en begrawe.  En ná verloop van omtrent drie uur kom sy vrou in sonder om te weet wat voorgeval het. En Petrus het haar aangespreek: Sê vir my of julle die grond vir soveel verkoop het? En sy sê: Ja, vir soveel. En Petrus sê vir haar: Waarom het julle ooreengekom om die Gees van die Here te versoek? Kyk, die voete van die wat jou man begrawe het, is by die deur, en hulle sal jou uitdra. Toe val sy onmiddellik aan sy voete neer en het gesterwe. En die jongmanne het ingekom en haar dood gevind en haar uitgedra en by haar man begrawe. 

En ‘n groot vrees het oor die hele gemeente gekom en oor almal wat dit gehoor het.

Hierdie was ‘n gemeente van gelowiges,  en tog lees ons twee maal dat ‘n groot vrees oor hulle gekom het. 

Die vrees was in reaksie op wat hulle gesien het die gevolge was van Ananías en Saffíra se optrede. Die woord wat hier vir vrees gebruik word, “Phobos” is presies dieselfde woord wat in die term vrees van die Here gebruik word. 

Ek besef daar is vertalings wat in die geval van Handeling 5, die woord as ontsag vertaal, maar as ons byvoorbeeld na Luk 20 kyk sal ons sien daar is ‘n ander woord wat as ontsag vertaal word naamlik die Griekse woord entrepo.

Luk 20:13 Gaan oor die gelykenis van die Landbouer wat sy wingered uit  verhuur het. Ons lees in vers 13 Toe sê die eienaar van die wingerd: Wat sal ek doen? Ek sal my geliefde seun stuur; miskien sal hulle ontsag hê as hulle hom sien .  Die woord hier wat as ontsag vertaal is, is entrepo en nie Phobos nie.

So dit is nie so vergesog om te sê dat as die skrywer van Hand 5, ontsag in gedagte gehad het , hy ‘n ander woord kon gebruik het nie.

Nou voordat u dink die boodskap van vandag is om u in vrees en bewing te laat leef, wees gerus, dit is die bedoeling nie.  Onthou “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.

Dink maar net aan die pragtige belofte in Heb 4:

Ons lees vanaf vers 14 -16  Terwyl ons dan ‘n groot Hoëpriester het wat deur die hemele deurgegaan het, naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou. Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. 

En dan hierdie uitnodiging vers 16   Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.

Kinders van die Here is nie bang vir God nie. Hy het dan juis die Heilige Gees gestuur as ons helper en vertrooster. Ons boodskap vir vandag is egter dat optredes gevolge het, ja selfs ook vir kinders van die Here.

Die vrees van die Here is nie om bang te wees vir God nie, maar wat dit wel insluit, is die vrees vir die gevolge van sonde. Ons leef vandag in ‘n wêreld waar selfs in die kerk daar nie meer ‘n vrees vir die gevolge van sonde is nie.

Ek het ‘n baie  bevoorregte kinder lewe gehad, in die sin dat anders as wat ek baie keer by ander mense hoor, het ek nie in huis groot geword waarvan ek wou ontvlug nie. Ons as kinders was lief vir ons ouers en ons het geweet ons ouers is lief vir ons.

Maar net soos met alle kinders het ons ook maar dinge gedoen en kanse gevat, alhoewel ons geweet het dit is verkeerd. Een ding het ons egter  gou geleer,  my pa het net een maal gepraat. Of eintlik in ons geval.. Hy het jou net ‘n sekere kyk gegee en jy het geweet, So ons was nooit bang vir my pa nie, maar ons het wel ‘n vrees gehad vir dit wat kon gebeur as ons dinge te vêr vat.

So die punt is jou optrede gaan altyd gevoge hê, veral in geestelike realm.

Voordat ons verder gaan net die volgende  om in gedagte te hou , wanneer die Bybel praat van die vrees van die Here, dan word dit gewoonlik gebruik in die konteks van God se volk ,in die Ou Testament en ook so in die Nuwe testatement , sien ons dat dit gebruik word met die kind van God in gedagte.  Met ander woord die vrees van God is vir die een wat sê dat hy of sy God dien.

Byvoorbeeld as ons vinnig kyk na voorbeelde van mense wat God nie vrees nie. Dink maar aan die gelykenis van die onrevergdige regter.. Hy sê “Al vrees ek God ook nie en al ontsien ek geen mens nie, tog sal ek, omdat hierdie weduwee my moeite gee“  Die regter, die onregverdige een,  erken dat hy God nie vrees nie.

En byvoorbeeld Genesis 20 , Abraham en Abimeleg, toe hy gesê het Sara is sy suster,. Hy verwag nie dat die heiden nasie God sal vrees nie, Hy sê , “Ek het gedink daar is regtig geen vrees vir God in hierdie plek nie, sodat hulle my oor my vrou sal doodmaak. “

So wanneer ons praat van die vrees van God, verwag ons om dit in die kerk te sien, en die vraag is, as die wêreld inkyk in die kerk in, sou die wêreldling dit kon sien.

Let wel, soos ons vroeër gesê het, die vrees van God, is nie ‘n vrees vir God nie, maar dit sluit in ‘n vrees vir die gevolge sonde. Onthou u ons het net nou 1 Joh 4:18 aangehaal. Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite, want die vrees sluit straf in, en hy wat vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie. 

Die direkte konteks daarvan kry ons egter net in die vorige verse. 

1 Joh 4: 16 – 17 En ons het die liefde wat God tot ons het, leer ken en geglo. God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom.  Hierin het die liefde by ons volmaak geword, dat ons vrymoedigheid kan hê in die oordeelsdag; want soos Hy is, is ons ook in hierdie wêreld. 

Jesus sê in  Joh 14:15  As julle My liefhet, bewaar my gebooie. En dan weer in vers 23   As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak.

Hoor wat die Woord sê,God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom.  En dan sal ons vrymoedigheid hê in die oordeelsdag

Ons redding is uit genade, Efes_2:8 sê. Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; 

Onthou ons redding is ‘n geskenk van God, ons sal nooit iets kan doen om ons redding te verkry of te verseker nie, Mar 8:37 sê  Of wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy siel? 

Die losprys is deur Jesus betaal, dit is baie duur en kosbaar, ons kan niks daarby voeg nie en dit is verniet. Maar ons moet altyd onthou, anders as wat die wêreld leer dat jy altyd ‘n keuse het, is dit nie so by Christenskap nie. Gaan kyk maar self, nêrens sal u in die Woord van die Here sal u vind dat jy ‘n keuse het om heilig te leef nie. 

Lev_11:45  Want Ek is die HERE wat julle uit Egipteland laat optrek het om julle God te wees. So moet julle dan heilig wees, omdat Ek heilig is. 

Lev_20:7  Toon dan dat julle heilig is en wees heilig, want Ek is die HERE julle God. 

En in die Nuwe Testament haal Petrus dit aan in  1 Pet 1:16 .. Wees heilig, want Ek is heilig.  Wanneer ons dan in kyk in die kerk vandag, wat sien ons.

Die bekende Ravi Zacharias , ‘n baie bekende Christen apologeet van ons tyd, is nou onlangs oorlede, maar daar hang ‘n donker wolk oor sy bediening soos inligting en ondersoeke nou aan die lig kom oor sy seksuele aktiwiteite buite die huwelik.  En hy is nie die enigste nie , ek is seker u sal self ook van ander gevalle weet.  

Hoekom gebeur dit, hierdie mense het ook God gevrees, deur hulle liefde, eerbied en aanbidding  , net soos die res van ons.  En die antwoord is, hierdie mense het die vrees vir die gevolge van sonde verloor. Dieselfde het met Dawid gebeur, ons lees hy was ‘n man na God se hart, maar tog pleeg hy oewerspel met Batseba.  En die een sonde lei tot ‘n ander, eers die begeerte na ‘n ander man se vrou, dan die egbreek, dan die manipulasie om sy oortredinge weg te steek, en dan eindig dit in moord.

Kyk na Dawid se lewe, ‘n lewe vol aandbidding , lofsange en psalms tot eer van God. Ek weet daar is mense wat wanneer iemand vandag in hierdie of soortgelyke situasies beland , vinnig is om te oordeel en te sê hierdie of daardie man of vrou was nooit regtig kind van God nie, want anders sou hulle dit nooit gedoen het nie. 

Die argument is gewoonlik dat jy uit liefde vir die Here nie verkeerde dinge sal doen nie. Maar dit is net ‘n halwe waarheid. Die liefde vir ‘n persoon laat jou beslis die regte dinge doen, maar terselfder tyd is dit geen waarborg, dat jy nie ‘n verkeerde ding sal doen nie.

Kyk wat het Dawid gedoen, en ek is seker nie nie een van ons gaan hom beskuldig dat hy nie die Here lief gehad het nie. En wat van Petrus, die man wat gesê hy sal nooit aanstoot aan die Here gee nie, is toe die een wat ontken dat hy Jesus ken.

Die Bybel sal ons nie verniet waarsku om voortdurend te waak en bid nie. Waak teen hierdie versoekinge wat oor jou pad kom. Waak teenoor ‘n vals versekering dat omdat ons onder genade is daar niks met jou sal gebeur nie.

En dit is nie net seksuele sondes nie, alles in ons lewens moet wees volgens die gebooie van Jesus.  Ja , Rom_8:1 sê, Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, 

Maar onthou om die laaste deel van die vers saam te lees dit sê …vir die wat NIE na die vlees wandel nie, maar na die Gees.  Die Woord sê verder (Jak_4:7)  Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.  Efes 6:13 neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil

Hierdie is alles ding wat die kind van die Here aktief self mee moet besig wees, dit kom nie sommer vanself nie. En reg deur die Nuwe Testament sal u hierdie waarskuwings aan die liggaam van Christus hoor.

Neem nou maar Hebreërs. Die brief is geskryf aan die heilige broeders, deelgenote van die hemelse roeping, wie  Christus Jesus het as Apostel en Hoëpriester van ons belydenis. Met ander woord die brief word gerig aan mense soos ons, kinders van die Here.

Te slotte, hoor wat sê die skrywer van Hebreërs. Heb 3 ;12 -13 Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ‘n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie.  Maar vermaan mekaar elke dag so lank as dit vandag genoem word, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie.

Let wel, vermaan mekaar,  dit is nie net die pastoor, of leraar se werk om te vermaan, ons moet mekaar vermaan. Veral in ons eie omgewing, ons gesinne en families en vriende.

Maar onthou , bo alles, die Woord sê

 “In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade” (Ef. 1:7). En 1Jn 1:9  As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.

Laat ons almal die waarskuwings uit God se Woord ernstig opneem,