Doktriene oor God

 

Laat ons  kortliks kyk na die leerstelling oor God. Oor hierdie onderwerp is daar al baie gesê en sal daar sekerlik nog baie gesê word. Ons gaan nie ‘n in-diepte studie daarvan maak nie, maar ek wil kortliks net weer die basies begrippe aan u uitlig.

As Christen sal u wel een of ander tyd gekonfronteer word met ander Godsdienste. Gelukkig hoef ons nie die ander in diepte te ken nie, want as ons die Bybelse leerstelling oor God ken en verstaan dan sal ons sommer die valsheid van die ander dadelik erken wanneer dit na ons toe kom.

Hier is so ‘n paar en wat die Here daaroor te sê het .

  1. Atieïsme ontken die bestaan van God.
    1. Ps 14   Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie.
  2. Agnostisisme beweer dat die bestaan van God nie bewys of ontken kan word nie.
    1. Ps 19 Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande.
    2. Ps 97 Die hemele verkondig sy geregtigheid, en al die volke sien sy heerlikheid.
  3. Deïsme erken dat God geskep het maar dat Hy hom daarna aan die skepping onttrek het.
    1. 1. Heb 1:3 Hy, wat die afskynsel is van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese en alle dinge dra deur die woord van sy krag,
    2. 2. Ps 118:24: dit is die dag wat die Here gemaak het, laat ons daaroor juig en bly wees
  4. Panteïsme is die siening dat God alles en almal is en dat almal en alles God is. Dit moet nie verwar word met die Bybelse leerstelling dat God alomteenwoordigheid is nie.
    1. Efes 3:20 En aan Hom(God) wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink
    2. 1 Kor 15:25 Want Hy(Jesus) moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het.
  5. Politeïsme glo dat daar baie gode is soos byvoorbeeld in die Hindoe geloof.
    1. Psa 18:31 (18:32) Want wie is God buiten die HERE, en wie is ‘n rots behalwe onse God?
    2. Deut 6:4 Hoor, Israel, die HERE onse God is ‘n enige HERE.
    3. Psa 86:10 want U is groot en doen wonders, U alleen is God.
  6. Dualisme is die sienig dat daar ‘n goeie god en ‘n bose god is. Twee koninkryke wat ewe sterk is en gedurig in stryd is om in beheer te wees.
    1. Rom 16:20 En die God van vrede sal die Satan spoedig onder julle voete verbrysel.
  7. Drie-teïsme is amper soos politeïsme maar die aantal gode word tot drie beperk. Drie-teïsme is ‘n dwaalleer wat die eenheid van die drie persone in die Godheid ontken maar Hulle onderskei as drie verskillende gode.
    1. Mat 28:19 doop hulle in die Naam (let wel een naam) van die Vader en die Seun en die Heilige Gees
  8. Monoteïsme is die geloof in een God wat in beheer is van die heelal. Christene is monoteïste wat glo dat God een is.
    1. Jak 2:19 Jy glo dat God één is. Jy doen goed; die duiwels glo dit ook, en hulle sidder.

Vir ons om die wese en karakter van God te ken moet ons dus na die Bybel gaan, aangesien dit die manier is wat God gekies het om Homself aan die mense te openbaar. Alles is aan My oorgegee deur my Vader, en niemand ken die Seun(die Woord) nie, behalwe die Vader; ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun dit wil openbaar. (Mt 11:27)

Die name van God.

Die name van God in die Bybel het elkeen ‘n spesifieke betekenis. Ons kyk nou na ‘n paar kragtige name van God wat ons help om iets van die grootheid van God te verstaan.

EL en Elohim

Die Bybel begin met die woorde:”In die begin het God die hemel en die aarde geskape. “ Dit is die woord Elohim wat hier as God vertaal is en dui op krag en sterkte wat vir ons die betekenis van “Almagtige” het, wat totale of algehele krag aandui. Die woord El Shaddai in Psa 91 word dan ook as Almagtige vertaal.

Elohim is die meervoud van die woord El en is ook die mees algemene term vir God. In Gen 1:16 lees ons “En God(Elohim) het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld..

Yaweh

Dit is die persoonlike naam wat aan Moses geopenbaar is. Dit word meer algemeen as HERE vertaal. Jy mag die Naam van die HERE jou God nie ydellik gebruik nie, want die HERE sal die een wat sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie. (Ex 20:7)

Dit word dikwels as Jehova geskryf. Opgesluit in hierdie woord is die verstaan van God se onafhanklike en beginlose bestaan. En God sê vir Moses: EK IS WAT EK IS. Ook sê Hy: So moet jy die kinders van Israel antwoord: EK IS het my na julle gestuur. (Ex 3:14)

 

Jehovah Jireh             Die Here sal voorsien

Jehovah Rapphai       Die Here ons geneesheer

Jehovah Nissi              Die Here is my banier

Yahweh Shalom         Die Here is vrede

Yahweh Tsuri             Die Here my Rots

Yahweh Roh               Die Here is my herder.

Adonai

Adonai is ook ‘n meervoudige vorm en die grondbetekenis van hierdie woord is heerser of meester. Want die HERE julle God is die God van die gode en die HERE van die here; die grote, magtige en gedugte God wat die persoon nie aansien en geen geskenk aanneem nie; (Deut 10:17)

Hierdie naam gee die begrip van outoriteit, beheer, oppergesag of heerskappy. 

Die aard en wese van God.

God is Gees. (Joh 4:24)

Hy is grensloos en onbeperk, buite tyd, ruimte en die heelal.

God is ewig, Hy is nie tydsgebonde nie.

Voordat die berge gebore was en U die aarde en die wêreld voortgebring het, ja, van ewigheid tot ewigheid is U God. (Ps 90:2)

God is bo alles.

Hy is nie deel van Sy skepping nie. God is verhewe op ‘n total hoër vlak.

By wie wil julle God dan vergelyk? Of watter gelykenis naas Hom stel? (Jes 40:18)

God onderhou die skepping.

Hy is nie slegs verhewe nie, maar tog veroorsaak hy ‘n aanhoudende siklus van beweging en groei. Hy gee vir alles en alles om.

want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons, soos sommige van julle digters ook gesê het: Want ons is ook sy geslag. (Hand 17:28)

En van julle is selfs die hare van die hoof almal getel. (Mat 10:29 – 30)

God is lig. (1 Joh 1:5)

Lig en duisternis is simbole vir die waarheid en die leuen.

Die opening van u woorde gee lig (Ps 119:130)

Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter. (Jes 5:20)

As kinders van God moet ons in die lig wandel.

As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie.

Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde. (1 Joh 1:6 – 7)

 God is liefde. (1 Joh 4:8)

God se definisie van liefde.

Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie, is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. Die liefde vergaan nimmermeer… (1 Kor 13:4 – 8)

God se voorbeeld hoe liefde uitgeleef word.

Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. (Joh 3:16)

maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. (Rom 5:8)

Onthou die Woord sê

1Jn 4:8 Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde.

1Jn 4:16 En ons het die liefde wat God tot ons het, leer ken en geglo. God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom.

Wanneer ons oor die liefde van God praat is dit onmoontlik om terselfdertyd die swaarkry, pyn en lyding in die wêreld te ignoreer. Die beswaar word altyd gebring dat hoe kan ‘n God van liefde soveel swaarkry toelaat en waarom doen Hy nie iets daaraan nie.

Dit is volgens my ‘n geldige vraag en behoort ‘n behoorlike antwoord te kry, daarom gaan ek nie probeer om dit nou te beantwoord nie. Die kort antwoord hierop, is egter die leerstelling van die sondeval. God het alles goed gemaak, maar Adam en Eva se keuse om teen God se direkte waarskuwing en opdrag, van die boom van die kennis van goed en kwaad te eet, het die dood, pyn, lyding en verval in die wêreld gebring.

En ja God, het iets daaraan gedoen, Hy het sy enigste Seun, Jesus Christus, gestuur om te betaal en te kom reg maak wat sonde gebreek het. Indien ons in Christus is, wag daar ‘n ewige lewe waar God sal kom en die laaste trane afvee, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie. Geen siekte en geen dood nie, die dood self word in die poel van vuur gewerp.

God is ‘n verterende vuur (Heb 12:29)

In Sy passie vir Sy mense.

Want die HERE jou God is ‘n verterende vuur, ‘n jaloerse God. (Deut 4:24)

Teen ons vyande .

Weet dan vandag dat die HERE jou God die Een is wat voor jou oortrek soos ‘n verterende vuur. Hy sal hulle vernietig en hulle voor jou onderwerp, sodat jy hulle gou kan verdrywe en tot niet maak soos die HERE jou beloof het. (Deut 9:3)

In Sy haat vir en oordeel oor sonde.

Die sondaars in Sion bewe, siddering het die roekelose aangegryp. Hulle sê: Wie van ons kan woon by ‘n verterende vuur, wie van ons kan woon by ‘n ewige gloed? (Jes 33:14)

Die karakter van God.

Die karakter van God is wie God is. ‘n Mens kan sy karakter verander. Hy kan goeie of slegte eienskappe bykry of verloor. God kan nie, Hy is Sy karakter.

Die karaktertrekke van God kan basies in twee groepe verdeel word. Ons lys kortliks sommge van hulle.

Kommunikeerbare karaktertrekke

Dit is die eienskappe waarmee ons as mense in ‘n sekere mate kan vereenselwig.

Wysheid

Rom 11:33 o Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë!

Spr 2:6 want die HERE gee wysheid, uit sy mond kom kennis en verstand

Goedheid

Ps 107:1 Loof die HERE, want Hy is goed, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid!

Ps 119:68 U is goed en doen goed; leer my u insettinge.

Jak 1:17 Elke goeie gif en elke volmaakte gawe daal van bo af neer, van die Vader van die ligte, by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie.

Geregtigheid

Psa 33:4 – 5 Want die woord van die HERE is reg, en al sy werk is met trou.

Hy het geregtigheid en reg lief; die aarde is vol van die goedertierenheid van die HERE

Onkommunikeerbare Karaktertrekke

Hierdie eienskappe van God kom nie in die mens voor nie. Dit is uniek aan God.

Selfbestaan

Maak nie staat op die bestaan van andere nie.

Joh 5:26 Want soos die Vader lewe het in Homself, so het Hy aan die Seun ook gegee om lewe in Homself te hê.

Net soos God liefde is, so is Hy ook lewe. Dit is hoekom die wat in Christus is, met ander woorde deel is van die liggaam van Christus, die ewige lewe sal hê.

Onveranderlik

God verander nie. Ons as mense verander maar God nie.

 Mal 3:6 Want Ek, die HERE, het nie verander nie;

Heb13:8 Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.

Alwetendheid

God weet alles.

Hier het ons die Engelse woord “omniscience”. Dit is ‘n samevoeging van die Latynse woorde “omni” wat “alles” beteken, en “scienta”, wat “kennis” beteken. Dus God het kennis van alles.

Ps 147:5 Onse Here is groot en ryk aan krag; sy verstand is oneindig.

Hand 15:18 Aan God is al sy werke van ewigheid af bekend.

Heb 4:13 En daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het.

God se kennis is so perfek dat Hy werklik alles weet; ook dit wat kon gewees het.

Ons lees in 1 Sam 23 van Dawid en sy manskappe in die stad Kehíla, Saul hoor hiervan en besluit om die stad aan te val. Dawid vra die Here of Saul gaan optrek teen die stad en of die mense van Kehíla hom en sy manskappe gaan uitlewer aan Saul. Die Here antwoord toe ja, op altwee vrae. Saul gaan kom en die stad gaan hulle uitlewer.

Dawid besluit toe om die stad te verlaat, en die Bybel sê Saul het toe nie die stad aangeval nie. Die punt hier is dat die Here geweet het wat sou gebeur al het dit nie gebeur nie.

En hierin lê ‘n belangrike beginsel van God sal alwetenheid opgesluit. God weet nie alles omdat Hy alles manipuleer nie, nee God weet eenvoudig alles.

Dit is hoekom ‘n profesie wat van God kom, altyd 100% korrek is. Nie alleen manipuleer God nie dinge nie, maar hy het ook nie mense nodig om “reg” op te tree om ‘n profesie waar te maak nie, want Hy het alreeds gesien wat die mens doen nog voordat die mens dit gedoen het.

Hierdie moet nie verwar word met ‘n belofte van God nie. Dink maar aan die vele beloftes wat God aan Israel gemaak het hoe Hy hulle sal seën as hulle Hom sal dien. Hier het dit van hulle optrede en gehoorsaamheid afgehang of dit wat God belowe het sou waar word.

Maar party mens bring ‘n beswaar in teen die leer van alwetenheid.

Die vraag word egter nou gevra, indien God dan alwetend is, is die feit dat ons leer God vergeet sonde wat vergewe is, nie ‘n teenstrydigheid nie. Nou ons weet die Bybel is ge-inspireer deur God so geen teenstrydigheid is moontlik in die skrifte nie.

Ons verwys hier na die baie bekende Jes 43:25 Ek, Ek is dit wat jou oortredinge uitdelg om My ontwil, en aan jou sondes dink Ek nie.

So die probleem is wanneer jy aan iemand getuig van God se alwetendheid, hoe gaan jy hierdie persoon antwoord indien hy of sy dit opbring dat jy nie kan sê dat God alles weet en terselfdertyd voorgee dat God seker dinge vergeet nie.

Die antwoord lê daarin dat die woord, vergeet, basies twee betekenisse het. Die een is ‘n absolute vergeet, dit is nou soos iets wat jy gedoen het toe jy nog baie klein was. Later het jou ouers of ander familie dit oor vertel. Gewoontlik tot groot vermaak van almal, maar jy kan dit regtig nie onthou nie.

Die ander betekenis is wanneer jy net eenvoudig nie aan iets dink nie, maar wanneer iemand daaroor praat weet jy presies waarvan hy of sy praat.

Dink maar as jy ‘n goeie vriend of vriendin van lank gelede weer raak loop. Skielik praat julle oor dinge waaraan jy jare nie gedink het nie. Nou hierdie is die tiepe vergeet waarvan God hier praat.

Die Hebreeuse woord wat as “onthou” vertaal is, dui op die oproep van geburetenisse of ondervinding uit die verlede op so ‘n manier dat dit jou huidige denke en optrede beinvloed. En die Here sê in hierdie vers, HY sal dit nie doen.

So wanneer God sê Hy sal aan iets nie weer dink nie, beteken dit, presies dit , Hy sal nie toelaat dat daardie gebeure weer terug geroep word om Sy huidige denke en handelinge te beinvloed oor die een wie vergewe is nie.

U weet mos die Bybel sê in Open 12:10 die duiwel is die aanklaer. So wanneer negatiewe gedagtes in jou opkom, neem dit gevange tot gehoorsaamheid aan Christus 2 Kor 10:5.

Moenie toelaat dat dinge uit die verlede jou huidige denke en optrede negatief beinvloed nie. As analogie kan ons ook die “Delete” op ‘n rekenaar neem. Wanneer jy ‘n lêer “delete” is hy weg, en die rekenaar programme weet nie meer daarvan nie. Maar ons weet daai lêer is nog in die Recycle bin. Jy kan dit weer gaan terug kry as jy wil.

God wil nie dat u dit terug roep om jou lewe negatief te beinvloed nie; So hier is dus geen teenstrydigheid in die Woord van God nie.

Alomteenwoordig

God is verhewe bo die beperking van tyd en ruimte.

Die Engels se woord, “omnipresence” , is ‘n samevoeging van die Latynse woorde, “omni”, wat “alles,” beteken en “praesens”, wat “hier” beteken. Dus God is altyd orals. Maak nie saak waar jy is nie, God is altyd hier by jou.

Jer 23:24 Sou iemand hom in skuilplekke kan wegsteek dat Ek hom nie sien nie? spreek die HERE. Vervul Ek nie die hemel en die aarde nie? spreek die HERE.

Psa 139:7 – 10 Waar sou ek heengaan van u Gees en waarheen vlug van u aangesig? Klim ek op na die hemel, U is daar; en maak ek die doderyk my bed, kyk, U is daar! Neem ek die vleuels van die dageraad, gaan ek by die uiteinde van die see woon, ook daar sou u hand my lei en u regterhand my vashou.

Gewoontlik sou die wat beweer dat Jesus nie God is nie, dit gebruik en uitwys dat terwyl Jesus op aarde was Hy ook plek gebonde was en nie orals gelyk kon wees nie. Wel ons stem staam voor die kruisiging was dit beslis waar vir Sy fisiese liggaam, hy het dan ook moeg, honger en dors geword.

Maar wanneer ons na Joh 3:13 kyk, sê Jesus die volgende : En niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlik die Seun van die mens wat in die hemel is.

Let wel terwyl Jesus op aarde staan sê HY, Hy is op daardie oomblik in die hemel.

Ons kan dit beter verstaan deur na Filip 2:5-11 te kyk. Dit leer dat Jesus nog te alle tye aan God gelyk was, ten spyte van die feit dat HY deur Homself te ontledig die gestalte van ‘n dienskneg aangeneem het.

Onthou wanneer Jesus sê dat die Vader groter is as Hy, verwys dit na die posisie van die Vader en nie na Sy aard of natuur nie. Beide die Vader en die Seun is en was en sal altyd God wees.

Jesus het vrywilliglik die laer posisie van dienskneg ingeneem, ter wille van my en jou, sodat daar vir ons kon redding kom om ook so in die ewige lewe te mag deel.

Almagtig

Van die woord ““omnipotence”, Die Latys “potens” beteken krag.

God kan alles doen wat met Sy wese versoenbaar is. 

Job 42:2 Ek weet dat U alles kan doen en geen plan vir U onuitvoerbaar is nie.

Jer 32:17 Ag, Here HERE, kyk, U het die hemel en die aarde gemaak deur u grote krag en deur u uitgestrekte arm; geen ding is vir U te wonderbaar nie.

Mat 19:26 Maar Jesus het hulle aangekyk en vir hulle gesê: By mense is dit onmoontlik, maar by God is alle dinge moontlik.

Psa 115:3 terwyl onse God tog in die hemel is; Hy doen alles wat Hom behaag.

Hier is dit belangrik om daarop te let dat die woord “alles”, net dit alles insluit wat nie teenstrydig met God se natuur is nie. Met ander woorde ons weet God kan nie lieg nie, en God kan nie sonde doen nie, want hierdie dinge is boos en teenstrydig met God se natuur.

Net soos met alwetendheid, is daar ook die wat beswaar maak en vra: As God dan almagtig is kan Hy ‘n rots maak wat te swaar is vir homself om op te tel?

Net soos God nie iets kan doen wat teen sy wil is nie, kan Hy ook nie iets absurds of onlogies doen nie. Om vir iemand wat enigiets kan optel iets te gee wat vir hom te swaar is om op te tel is ‘n teenstrydigheid in logika. Dit is soos om te praat van ‘n vierkantige sirkel.

Iemand het dit soos volg op gesom:

It is no more possible for God than for the weakest of His creatures to carry out both of two mutually exclusive alternatives; not because His power meets an obstacle, but because nonsense remains nonsense even when we talk it about God.

Ewig

God het geen begin of einde nie.

Exo 3:14 En God sê vir Moses: EK IS WAT EK IS.

Psa 102:12 (102:13) Maar U, o HERE, U bly tot in ewigheid, en u gedenknaam van geslag tot geslag.

Psa_90:2 Voordat die berge gebore was en U die aarde en die wêreld voortgebring het, ja, van ewigheid tot ewigheid is U God.

Die wil van God

God se volmaakte wil.

Rom_12:2 En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.

Dit wat God aan ons bekend gemaak het. Hoe ons moet optree en lewe. Die mens verontagsaam dikwels hierdie waarneembare wil van God.

God se soewereiniteit.

Dit wat God besluit het sal gebeur. God is in beheer van alles.

Jes 55:11 so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur.

Mat 10:29 Word twee mossies nie vir ‘n stuiwer verkoop nie? En nie een van hulle sal op die aarde val sonder julle Vader nie.

Eph 1:11 in Hom in wie ons ook ‘n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil,