Daar is boeke in die hemel en van daardie boeke is direk op jou en my van toepassing. En ons weet dit want die Woord van God, die Bybel sê so in geen onduidelike taal nie.
Open 20:12 En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ‘n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke.
Hierdie vers kom uit Openbaring waar Johannes opteken van die groot wit troon waarop God sit. Dit is dan na die duisend jaar vrede ryk en die duiwel is reeds in die poel van vuur gewerp.
Ons lees verder vanaf vers 13 tot 15 En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke.
En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood.
En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.
Daniël het reeds hiervan geprofeteer in Dan 7:9 – 10 Ek het bly kyk totdat trone reggesit is en ‘n Oue van dae gaan sit het; sy kleed was wit soos sneeu en die hare van sy hoof soos skoon wol; sy troon was vuurvlamme, die wiele daarvan ‘n brandende vuur;
‘n stroom van vuur het gevloei en voor Hom uit gegaan; duisend maal duisende het Hom gedien, en tien duisend maal tien duisende het voor Hom gestaan; die gereg het gaan sit, en die boeke is geopen.
Ons verstaan dat hierdie wit troon oordeel slegs vir die ongeredde mense sal wees. Die bruilof van die Lam het reeds plaasgevind. Ons lees daarvan in Openbaring 19, en dan ook hierdie bevestiging in Open 20 :5 – 6 En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie. Dit is die eerste opstanding.
Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.
So die tweede opstanding is na die 1000 jaar vrederyk en die eerte opstanding is voor die 1000 jaar vrederyk. Ons lees van die eerste opstanding in 1Thessalonicense 4:13 – 17 Maar, broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie.
Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring.
Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie.
Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan.
Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees.
Jesus was natuurlik die eersteling van hierdie eerste opstanding. Hy was die eerste wat gesterf het, opgestaan het en nie weer gesterf het nie, maar ‘n verheerlikte liggaam ontvang het en leef tot in alle ewigheid.
Jesus sê in Open 1 :17 en 18 “Ek is die eerste en die laaste
Rev 1:18 en die lewende; en Ek was dood en kyk, Ek leef tot in alle ewigheid. “
Natuurlik was daar ander opstandings voor Jesus, soos bv. Laserus en andere wat God uit die dode opgewek het, maar hulle het met hulle oorspronklike vlees en bloed liggame opgestaan en het weer gesterwe.
Allhoewel die gereddes nie geoordeel gaan word by die groot wit troon nie, gaan die kinders van die Here wel beoordel word by die regterstoel van Christus.
2 Kor 5:10 Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad.
God is alwetend en Hy het beslis nie boeke nodig nie, maar Hy is ‘n regvergdige God en ‘n God van orde. En in enige regverdige hofsitting sal daar daar bewyse wees. So wanneer die gereg gaan sit en die boeke geopen word is dit dat niemand sal kan sê hy of sy is ongregverdig behandel nie.
So die dag gaan kom dat elkeen van ons, elke mens wat ooit geleef het op hierdie aarde voor die lewende, heilige en almagte God gaan staan by ‘n boek of boeke vol getuienis wat of vir jou of teen jou gaan getuig. En almal in die hofsaal teenwoordig sal instinktief weet dit is die waarheid. Jy en almal daar gaan weet die beloning of die straf wat jy gaan ontvang gaan regverdig wees.
U sal dus verstaan hoekom hierdie boeke so belangrik is en hoekom ons moet weet hoe hulle by ons lewens inskakel.
Ons het gehoor dat daar ‘n onderskeid is, daar is die boeke wat oopgemaak is en dan die ander boek, die boek van die lewe.
So wat is hierdie boeke?
Eerstens die Bybel.
Ja die Bybel wat jy hier op die aarde lees is ook in die hemel, En die Bybel gaan daar wees in die hof verrigtinge.
Psa 119:89 sê … Die Woord van God staan vas in die hemele.;
1 Pet 1:25 sê … Dit bly tot in ewigheid
In Joh 12:48 lees ons : Wie My verwerp en my woorde nie aanneem nie, het een wat hom oordeel: die woord wat Ek gespreek het, dit sal hom oordeel in die laaste dag.
Wanneer die boeke dus oopgemaak word in die hemel, gaan die Bybel ook daar wees.
Die Bybel is die enigste boek wat ons die weg na die hemel wys, en die enigste boek wat ons leer van die aard en karakter van God.
Dit is seker die belangrikste boek wat ooit oor jou pad sal kom, want wat daarin staan en hoe jy daarop reageer bepaal die ewigheid vir jou en my.
Net so ‘n paar interessante feite oor die Bybel.
Die boeke in die Bybel is deur Jode geskryf, Ons lees in
Rom 3:1- 2 Wat is dan die voordeel van die Jood? Of wat is die nut van die besnydenis? Groot, in alle opsigte: ten eerste tog seker dat aan hulle die woorde van God toevertrou is.
Daar is wel een skrywer wat party Bybel geleerdes beweer montlik nie ‘n Jood was nie en dit is Lukas, omdat Paulus hom nie insluit in die groep van manne wat uit die besnydenis is nie in Kol 4 : 11 -14.
Die Bybel is “die boek van alle boeke”, daar is nie nog so een nie, enig in sy soort. Dit is die enigste boek wat.
- Geskryf is oor ‘n tydperk van +_ 1500 jaar.
- Geskryf is deur meer as 40 skrywers uit elke sosiale stand, van konings tot vissermanne, van geleerdes tot skaapwagters.
- Geskryf op verskillende plekke. Byvoorbeeld deur Moses in die woestyn, Jeremia in ‘n ondergrondse tronksel, Daniel op heuwels en in ‘n paleis, Johannes in ballingskap op ‘n eiland.
- Geskryf op verskillende tye. Byvoorbeeld Dawid in tye van oorloë en opoffering, Salomo in tye van voorspoed.
- Geskryf is op drie kontinente, Asië, Afrika en Europa.
- Geskryf is in drie tale, Hebreeus (Die grootste deel van die Ou testament), Aramees (Daniël 2-7 en ‘n groot deel van Esra 4-7 en self sekere stellings in die Nuwe testament waarvan die bekendste Jesus se uitroep aan die kruis is: “Eli,Eli, Lema sabagtani”) en Grieks die taal van die Nuwe testament.
En natuurlik is daar die baie profesieë in die Bybel wat al waar geword het.
So is daar al die profesieë oor Jesus wat almal deur Hom vervul is.
So het wiskundiges net 8 van hierdie profesieë gevat en uitgewerk wat is die kanse dat al ag deur een mens vervul kon word. Die antwoord was ‘n ongelooflike 1 in 10 tot die mag 17. Een op die getal 1 met 17 nulle, so groot ons sal dit nie eers kan uitspreek nie.
Tog het Jesus dit gedoen. Die Bybel is nie ‘n boek deur mense uitgedink nie, Net ‘n alwetende God kon hierdie profesieë honderde jare vooruit gegee het.
Die tweede boek waarna ons gan kyk is die boek van God se wil vir my lewe.
Vie elkeen van ons is daar so ‘n boek in die Bybel, Ook genoem die boek van bepaling of in Engels, The books of destiny.
Psa 139:13 – 16 Want U het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef.
My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, kunstig geweef in die dieptes van die aarde.
U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.
Die Here het presies geweet wie en wat ons is nog voor ons geboorte. Die samestelling van ons liggaam en al ons lewens dae was aan God bekend lank voor ons geboorte.
Hier is twee baie belangrike dinge betrokke wat baie maal verkeerd verstaan en verkondig word.
Eerstens vers 13, Want U het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef. Dit beteken nie God het jou letterlik gemaak soos jy is nie. Slegs twee mense wat op hierdie aarde geleef het, is fiesies deur God geskep, en dit was Adam en Eva.
Die psalm digter gee egter erkenning aan God dat Hy die gewer van lewe is, en dat die Here die eienaar van lewe is.
Die Here was daar toe jou eerste selle gevorm is met bevrugting en net daarna.
Dawid noem dit ‘n ongevormde klomp, Dit is nog nie eers as mens erkenbaar nie, maar die Here weet al hoe jou gebeente lyk, Jou DNS is bekend aan God.
Jou fiesiese voorkoms hoe jy lyk wanneer jy gebore word is die produk van al die generasies voor jou se genetika, en partykeer gaan daar iets fout en mense word met ‘n mediese defek of abnormaliteit gebore. En ons weet dit as as gevolg van die sondeval in die tuin van Eden waar dorings, en distels en siektes en die dood die wêreld ingekom het.
So weet ons ook dat daar eksterne faktore is wat negatief kan inwerk op verwagtende moeders, soos byvoorbeeld die gebruk van alkohol en ander dwelms of blootstelling aan atoom bestraling.
Vandag word hierdie verkeerde leerstelling, dat God jou gemaak het wie en wat jy is veral gebruik om ‘n sondige lewe te regvedig.
Vandag hoor ons baie, “Do not judge me, God made me who I am” en dan word verwys na Psalm 139.
Byvoorbeeld soos die uitspraak van ‘n baie bekende Amerikaanse politikus, (Pete Buttigieg )
“My marriage to Chasten has made me a better man and yes, Mr. Vice President, it has moved me closer to God . . . If me being gay was a choice, it was a choice that was made far, far above my pay grade. And that’s the thing I wish the Mike Pences of the world would understand—that if you’ve got a problem with who I am, your problem is not with me. Your quarrel, sir, is with my creator.
Die Here het alle inligting nodig vir voortplanting en groei reeds ingebou in Adam en Eva. God het Adam en Eva geskep, in hulle was ingebou al die inligting, prosesse, en masjienerie nodig om te kon voortplant.
Daarom kon die Here sê in Genesis “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde”.
En van toe af tot nou maak die mens homself. Maar dit vat niks weg van die lof van die psalm digter in psalm 139 nie. Ons moet vandag nog saam die Here loof en prys omdat Hy alleen die gewer en eienaar van lewe is, Ja toe jy in jou moederskoot gevorm is het jy reeds aan Hom behoort.
Die tweede foutiewe leerstelling is dat wanneer iemand doodgaan dan word gesê, ja dit was sy of haar tyd, God het dit so bepaal. Maar in baie gevalle is dit glad nie waar nie.
Het u al hierdie warskuwing in Prediker 7:17 raak gelees?
Wees nie alte goddeloos, en wees nie dwaas nie: waarom sou jy sterwe voor jou tyd?
Wat ‘n waarskuwing vir al vir ons jong mense.
En in die Psalm102 gebed word in vers 25 gevra: My God, sê ek, neem my nie weg in die helfte van my dae nie—u jare is van geslag tot geslag!
Die Nuwe testament ego dit met die waarskuwing oor die nagmaal in 1 Kor 11:29 – 30 Want wie op onwaardige wyse eet en drink, eet en drink ‘n oordeel oor homself, terwyl hy die liggaam van die Here nie onderskei nie.
Daarom is daar onder julle baie swakkes en sieklikes, en ‘n aantal het ontslaap.
Let wel die wat dood is het nie gesterwe omdat dit hul tyd was wat vir hulle bepaal is nie, maar omdat hulle ‘n oordeel oor hulle self gebring het.
Dit is belangrik dat ons besef dat in hierdie boek oor ons lewe, is geskryf dit wat die Here bepaal het vir ons lewe. Met ander woorde dit wat ons lewens veronderstel is om te wees. Dit is nie wat ons met ons lewens gedoen het nie.
Efes 2:10 Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.
Ons moet seker maak ons leef ons lewens in ooreenstemming met wat God vir ons bepaal het. Jesus was vir ons die perfekte voorbeeld.
Hy kon sê in Joh 14:30 …die owerste van hierdie wêreld kom en het aan My niks nie
Jesus sê dan ook in Heb_10:7 … Kyk, Ek kom—in die boekrol is dit van My geskrywe—om u wil te doen, o God.
Ons lewe met ‘n koningkryks doel,
2Tim 1:9 wat ons gered en geroep het met ‘n heilige roeping, nie volgens ons werke nie, maar volgens sy eie voorneme en genade wat ons van ewigheid af in Christus Jesus geskenk is
Wanneer ons voor die regterstoel van Christus staan en hierdie boek word oopgemaak hoe ver of hoe naby gaan ons wees van wat God eintlik vir ons in gedagte gehad het.
En dit bring ons natuurlik by die derde boek.
Die boek waarin die verloop van ons lewe opgeteken is. Onthou ons het in die begin genoem dat daar in die hemel ‘n volledige oudit bestaan oor ons lewens.
U weet tot jou woorde word opgeteken.
Job sê in Job_19:23 Ag, mag my woorde tog maar opgeskrywe, mag hulle maar in ‘n boek opgeteken word—
Dit laat ‘n mens dink aan Jesus se verklaring in Mat_12:37 Want uit jou woorde sal jy geregverdig word, en uit jou woorde sal jy veroordeel word.
Ons praat so maklik en soms is dit negatief en ons besef nie die ewigheids impak wat ons woorde het nie. Hier op aarde kan mense nog stry en sê, ek het dit nie gesê nie, of ek het dit nie so bedoel nie, maar die dag wanneer ons boek in die hemel oopgemaak word gaan geen ontkenning moontlik wees nie. Dit wat jy gesê en gedoen het, en belangrik die moetiewe daaragter gaan vir almal duidelik wees.
Maar die goeie wat jy gedoen en gesê gaan tot jou voordeel wees. Ja ook waar jy met trane gesaai het. Dawid sê in Psa_56:8 U het my omswerwinge getel; hou my trane in u kruik; is hulle nie in u boek nie?
Interessant dat in die ou tyd dit wel ‘n huishoudelike gebruik was dat lede van die gesin elkeen sy of haar eie trane bottel of kruik sou hê wat dan eendag by afsterwe saam met hulle begrawe is. Van hierdie trane bottels is in baie ou grafte gekry. Dit was ‘n baie kosbare besitting vir hulle en ons kan uit die Bybel ook sien hoe kosbaar trane voor God is.
Hier is ’n paar voorbeelde uit die Woord:
2 Konings 20:5 ( Die Here sê vir Jesaja) Draai om en sê vir Hiskía, die vors van my volk: So spreek die HERE, die God van jou vader Dawid: Ek het jou gebed gehoor, Ek het jou trane gesien; kyk, Ek sal jou gesond maak; op die derde dag sal jy opgaan na die huis van die HERE.
Job_16:20 My vriende spot met my; uit my oog drup trane tot God
Job het verstaan wat trane voor God beteken.
Dawid in Psa 39:12 Hoor, HERE, my gebed, en luister na my hulpgeroep; swyg nie by my trane nie; want ek is ‘n vreemdeling by U, ‘n bywoner soos al my vaders.
Opregte trane raak God se hart aan. Het jy al jou hart voor God uitgestort, wees verseker dit is opgeteken.
En dan is daar natuurlik hierdie wonderlike belofte in die Woord dat die Here eendag die trane sal afvee.
Jes 25:8 Hy sal die dood vir ewig vernietig, en die Here HERE sal die trane van alle aangesigte afvee; en Hy sal die smaad van sy volk van die hele aarde af wegneem; want die HERE het dit gespreek.
En hierdie Ou testamentiese belofte word twee maal in Openbaring bevestig:
Open 7:17 want die Lam wat in die middel van die troon is, sal hulle laat wei en hulle na lewende waterfonteine lei, en God sal alle trane van hulle oë afvee.
Open 21:4 En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.
Ons vierde boek is die boek van herinnering. Die boek van samesyn van die wat God vrees.
So lees ons dan in Maleagi van die Here se hemelse gedenkboek.
Mal 3:16 Toe het die wat die HERE vrees, met mekaar gespreek; en die HERE het dit opgemerk en gehoor, en daar is ‘n gedenkboek voor sy aangesig geskrywe vir die wat die HERE vrees en sy Naam eer.
‘n Aardse voorbeeld hiervan is Ester 6 waar die gedenkskrif of kronieke voor die koning gebring is, en hy leer van Mórdegai en hoe hy dan vir Mórdegai beloon.
In Heb 10:25 lees ons; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie,..
U weet alles wat God ons beveel is tot ons voordeel…
Wanneer ons bymekaar kom , as gemeente of in kleiner groep of net twee of drie en ons praat oor die Here, dan weet God daarvan en nie net weet hy daarvan nie, maar dit word opgeskryf.
So wanneer ons bymekaar kom is dit nie net tot stigting en voordeel vir ons hier op aarde nie, maar dink net wanneer hierdie gedenkboek voor die regter stoel van Christus opgemaak word en jou naam word uit die boek voorgelees en Jesus sê vir jou : Ek kan sien ook hier in was jy vir My ‘n goeie en getroue dienskneg.
Onthou egter, ons het nie ‘n geloof van werke nie. Alleen deur dit wat Christus aan die kruis gedoen het sal ons die ewige lewe be-erwe,
Efes 2:8 – 9 Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God;
nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.
Maar God is regverdig en Hy is ‘n beloner.
Heb 6:10 Want God is nie onregverdig om julle werk te vergeet nie en die liefde-arbeid wat julle betoon het vir sy Naam, omdat julle die heiliges gedien het en nog dien.
Mat 16:27 Want die Seun van die mens staan gereed om met sy engele in die heerlikheid van sy Vader te kom, en dan sal Hy elkeen vergeld volgens sy dade.
Mat 19:29 En elkeen wat huise of broers of susters of vader of moeder of vrou of kinders of grond ter wille van my Naam verlaat het, sal honderd maal soveel ontvang en die ewige lewe beërwe.
So daar gaan ook hierdie boek van jou dade in die hemel wees.
Daar is verskeie voorbeelde in die Woord oor hoe ons beloning in die Hemel bymekaar maak.
Mat 5:11 – 12 Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek om My ontwil.
Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele; want so het hulle die profete vervolg wat voor julle gewees het.
Mat_10:41 Wie ‘n profeet ontvang omdat hy ‘n profeet is, sal die loon van ‘n profeet ontvang; en wie ‘n regverdige ontvang omdat hy ‘n regverdige is, sal die loon van ‘n regverdige ontvang.
Mar_9:41 Want elkeen wat vir julle in my Naam ‘n beker water gee om te drink, omdat julle aan Christus behoort, voorwaar Ek sê vir julle, hy sal sy loon sekerlik nie verloor nie.
Ons redding en verlossing is ‘n geskenk en kan nie verdien word nie, maar dit wat jy vir Jesus doen dra ewige waarde en jy sal darvoor beloon word.
End dan die vyfde en laaste boek waarna on kyk; Die Boek van die Lewe Dit word agt maal genoem in die Nuwe Testament vermeld. Dit word sewe keer in Openbaring gemeld waarvan een die volledige titel, ‘die boek van die lewe van die Lam wat geslag is’ het.
Ons aanvaar dat dit dieselfde boek is waarna Jesus verwys het in Lukas 10 toe hy aan die 72 gesê het dat hulle liewer bly moet wees dat hulle name in die hemel opgeskryf is, eerder as dat geeste aan hulle onderworpe is.
Baie keer as daar na die boek van die lewe verwys word, dan is dit in verband met name en die ewige bestemming van mense. Die wie se name in die boek van die lewe gevind word, is die wat oorwin het en Jesus sê Hy sal voor Sy Vader en Sy engele verklaar dat hierdie mense, (die mense wie se name in die boek gevind word) aan Hom behoort.
Ons kry soortgelyke verwysings in die Ou testament en ons vind dieselfde beginsel daar.
Byvoorbeeld Psalm 69 : 28 waar Dawid vra dat die onregverdiges nie saam met die regverdiges opgeskrywe word nie, maar dat hulle uitgedelg word uit die boek van die lewe.
Esegiël skrywe van die boek van die huis van Israel in Eseg 13, waar die fals profete in Israel veroordeel word, en die Here sê dat hul name nie opgeskryf sal word nie.
Daniël noem dit weer net die boek
In Daniël 12 : 1 lees ons van ‘n tyd van benoudheid wanneer Israel gered sal word, en dan staan daar, elkeen wat in die boek opgeskrywe staan sal gered word.
Moses in Exodus 32 noem dit U Boek;
Exod 32:32 Nou dan, as U tog maar hulle sonde wou vergewe! En so nie, delg my dan maar uit u boek wat U geskryf het!
Exod 32:33 Toe het die HERE Moses geantwoord: Wie teen My gesondig het, dié sal Ek uitdelg uit my boek.
Bybel geleerdes het verskillende opinies oor hierdie boeke, of dit dieselfde boek is of verskillende boeke, maar die een vraag wat saak maak vir elkeen van ons vandag wat op hierdie aarde lewe is dood eenvoudig, Is jou naam in die boek van die lewe van die Lam wat geslag is.
Rev 20:11 – 15 En ek het ‘n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie.
En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ‘n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke.
En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke.
En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood.
En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.
Is jou naam in die boek van die lewe?
Onthou jy kan nie werk vir ‘n plek in die boek van die lewe nie,
Jy kan nie ‘n plek daarin koop nie, Jou familie naam kan nie vir jou ‘n plek verseker nie. Jou pa, ma, broer, suster of beste vriend kan nie names jou onderhandel om jou naam in die Boek van die lewe te kry nie.
Daar is net een manier, en die Bybel vertel ons dit is ‘n saak van die hart.
Rom 2:5 Maar ooreenkomstig jou verhardheid en onbekeerlike hart vergader jy vir jou toorn as ‘n skat in die dag van die toorn en die openbaring van die regverdige oordeel van God
Ons lees in Handelinge 2 van hoe Petrus op pinksterdag vir die skare preek en die Woord sê in vers 37 hulle is diep in die hart getref, en vra hom wat hulle moet doen om gered te word.
En Petrus antwoord hulle Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.
God kyk na jou hart en as jy vandag opreg berou het en na Hom uitroep dan sê die Woord : Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig. (1 Joh 1:9)
Jy kan nie betaal vir jou plek in die Boek van die lewe nie, maar iemand anders het wel ‘n duur prys betaal. Jesus het met Sy lewe en Sy bloed betaal
Rom 10:8 -13 Maar wat sê dit? Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart. Dit is die woord van die geloof wat ons verkondig:
As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word;
want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.
Want die Skrif sê: Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie.
Want daar is geen onderskeid tussen Jood en Griek nie; dieselfde Here tog is Here van almal en is ryk oor almal wat Hom aanroep.
Want: Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.
Amen