God se soewereiniteit en hoekom daar boosheid swaarkry en lyding in die wêreld is.
Ons lewe vandag in ‘n wêreld waar ons daagliks gekonfronteer word met pyn, lyding en boosheid.
Vir baie word dit dan ook die hoof rede waarom hulle die God van die Bybel verwerp. En dit is nie net ateïste nie, dit gebeur ook dat Christene die geloof verlaat om hierdie rede.
Hulle redeneer basies dat indien God goed, almatig, alomteenwoordig en alwetend is Hy in staat moet wees om alle vorme van boosheid en lyding uit die wêreld weg te neem.
Omdat boosheid en lyding bestaan kom hulle dus tot die slotsom dat die God van die Bybel nie bestaan nie,
Of indien Hy wel bestaan, en Hy weet van al die boosheid en lyding, en Hy het die mag om iets daaraan te doen , en Hy dit nie doen nie, dan kan Hy nie goed wees nie,
Of miskien weet God van al die dinge, Hy is goed maar Hy het nie die mag om iets daaraan te doen nie.
Hierdie soewereiniteit van God, gekoppel met dit wat in die wêreld aangaan is dus ‘n groot struikel blok vir baie mense.
Die vraag is nou het ons as Christene ‘n antwoord, en ek sou sê ja. Ons mag dalk nie alles weet en tot in die fyn detail alles kan uitlê nie, want die Skrif sê wel dat nou ken ons net ten dele soos 1 Kor 13 leer, en ons kyk deur ‘n spieël in ‘n raaisel. Die Bybel leer egter ook om altyd bereid te wees om verantwoording te doen aan elkeen wat van ons rekenskap eis omtrent die hoop wat in ons is. 1 Pet 3:15
Dus waar sou ons begin om hierdie misterie te probeer beantwoord. Ons sal sekerlik nie nou al die waaroms en hoekoms kan beantwoord nie, maar God se belofte staan dat alhoewel ons nou net ten dele ken, eendag sal ons ten volle ken. 1Kor 13:12 Want nou sien ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is.
So waar begin ons, ek dink Genesis is net die regte plek. Gen 1:31 Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en—dit was baie goed. God is nie die outeur van boosheid nie. God kan wel peste en plae stuur , die Bybel het vele voorbeelde daarvan. Bv Amos 4:9 – 11 Ek het julle met brandkoring en met heuningdou swaar getref, …Ek het julle jongmanne met die swaard gedood saam met die wegvoering van julle perde; …. Ek het julle omgekeer soos God Sodom en Gomorra omgekeer het, sodat julle soos ‘n stuk brandhout was wat uit die vuur geruk is—nogtans het julle jul tot My nie bekeer nie, spreek die HERE.
Dink ook aan die plae wat gestuur is om Egipte te tref omdat die Farao nie die Israeliete wou laat trek nie. Dit is dus duidelik dat God hierdie dinge kan gebruik, wees net asseblief versigtig om nie sommer tot ‘n gevolgtrekking te kom dat dit nou God is wat jou straf vir een of ander sonde in jou lewe as dit met jou swaar gaan nie.
Onthou 1 Pet 1:6 -7 Daarin verheug julle jul, al word julle nou—as dit nodig is—’n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge, sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus
Vanaf Gen 1 (waar alles goed was) kan ons nou aan beweeg na Gen 3. Eva se ongehoorsaamheid om na die duiwel te luister en Adam se sonde toe hy deel word daarvan is verantwoordelik vir die swaarkry en dood in die wêreld. Rom 5:12 bevestig dat deur een mens het die sonde in die wêreld ingekom en deur die sonde die dood.
Ook lees ons in Rom 8:19 Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God. Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het in die hoop dat ook die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God. Want ons weet dat die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is tot nou toe.
Ons sien dus dat al die swaarkry, pyn en lyding terug geneem kan word na Gen 3. Toe Adam kies om deel te wees van die komplot teen God, en hy soos Eva die duiwel se woord bo die Woord van God stel, het hy basies dit wat God aan hom gegee het aan die duiwel oorgedra.
Gen 1:26 En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip.
U onthou mos toe die satan Jesus wou verlei het hy elke keer iets gebruik wat wel moontlik was.
Eers die versoek om klippe in brode te verander, satan het geweet dit is moontlik vir Jesus.
Tweedens die versoek om van die tempel dak te spring, en die engele wat sou sorg dat Jesus nie Sy voet stamp nie. Dit was ook moontlik.
Dan derdens toe die duiwel al die koninkryke van die wêreld en hulle heerlikheid aan Jesus aanbied, kon hy dit doen, want hy het reg daartoe gehad.
En ons lees dan ook in 1 Joh 5:19 … dat die hele wêreld in die mag van die Bose lê.
Soos ons vroëer gesê het, boosheid is nie geskep nie. Boosheid is soos duisternis. Jy kan lig skep , met ‘n elektriese lig of ‘n kers, of olie lampies ens. Duisternis beteken net daar is nie lig nie , neem die lig weg en jy het duisternis. Dieselfde geld vir die boosheid, waar die goedheid, welwillendheid en liefde afwesig is of onderdruk word, daar kom boosheid voor.
Boosheid is al met roes vergelyk. As jy ‘n goeie stuk yster net buite laat lê, sal dit later begin roes. Los dit lank genoeg en van die yster sal net roes oorbly. Net so het ons ‘n verantwoordelikheid om op te staan vir dit wat reg en goed is.
Laat ons egter terug kom by Gen 3, as dit dan nou als die duiwel se skuld is waarom het God die duiwel gemaak , as God wat alwetend is dan moes geweet het al hierdie dinge gaan gebeur.
Wel, God het nie die bose duiwel gemaak nie, onthou hoe God gesê, alles is baie goed, wat Hy gemaak het, en die een wat ons as satan leer ken in die Bybel was ook in die eerste 6 dae gemaak, so die een wat uiteindelik die duiwel sou word moes ook goed gewees het. Lees ons dan nie in Eksodus 20:11 nie, Want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is
Job 38 vertel hoe die môresterre saam gejubel en al die seuns van God gejuig het toe die aarde gegrond is en sy fondamentklippe ingesink is. So my skatting is die engele is iewers voor dag drie geskep.
In Eseg 28 en Jes 14 kry ons ‘n verwysing van die optrede van een van die engele, wat ons dan as die satan of duiwel leer ken. Open 12 praat van die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei,
In Eseg 28 kry ons die bekende profesie teen die vors van Tirus. Ons sal vind in vers twee dat dit as gevolg van die koning se hoogmoedigheid is dat die profesie teen hom uitgebring word.
Maar hier vanaf verse 12 en 13 neem die profesie ‘n wending waar ons agterkom die een wat beskryf word is ‘n engel. Die hoogmoedige hart van die koning is dieselfde wat by die engel gevind is.
Luister hoe word die engel beskryf en wat het met hom gebeur.
Eseg 28:13 -17 Jy was in Eden, die tuin van God; allerhande edelgesteentes was jou bedekking: …
Jy was ‘n gérub met uitgespreide vlerke wat beskut, en Ek het jou gestel op ‘n heilige berg; ‘n god was jy; jy het gewandel tussen vurige gesteentes.
Jy was volkome in jou weë van die dag af dat jy geskape is, totdat daar ongeregtigheid in jou gevind is. …
Hoogmoedig het jou hart geword oor jou skoonheid; jy het jou wysheid verderwe weens jou glans. Ek het jou op die grond gewerp...
Interessant vind ons dieselfde senario wanneer daar in Jesaja oor die koning van Babel geskryf word.
Jes 14:12 -14 Hoe het jy uit die hemel geval, o môrester, seun van die dageraad! …Jy het in jou hart gesê: Ek wil opklim in die hemel, my troon verhef bo die sterre van God en sit op die berg van samekoms in die uithoeke van die Noorde.
Ek wil klim bo die hoogtes van die wolke, my gelykstel met die Allerhoogste!
So die duiwel was een van die engele of môresterre van wie ons nou net in Job 38 gehoor het, hy het saam met die ander gejuig terwyl God die skepping voltooi het.
So ons leer uit die woord van God , waar die moeilikheid begin het, maar op die twee vrae,
Waarom het God die engel gemaak , wat Hy moes geweet het sou sondig,
En waarom stop Hy nie die boosheid , pyn en leiding in die wêreld nie , het ons nog nie ‘n antwoord nie.
Eerstens moet ons moet versigtig wees om nie hier God aan te kla en aan te dring dat Hy homeslf teenoor ons moet verdedig en Sy optrede regverdig nie.
Onthou Job 38:4 Toe die Here Job uit die storm antwoord en Hy vra vir Job. “Waar was jy toe Ek die aarde gegrond het? Gee te kenne as jy insig het”.
Tweedens onthou wat Jesus gesê het, “Niemand is goed nie, behalwe Een, naamlik God. “
So dink daaraan as God nie moes skep wat tot boosheid in staat is nie, dan moes hy sekerlike nie enige van ons geskep het nie.
En hierin lê ‘n gedeelte van die antwoord op die vraag hoekom die engel wat die duiwel geword het geskep is. Die engele soos ons, is geskep met ‘n vrye wil. Indien God ons nie met ‘n vrye wil geskep het nie, sou ons soos robotte gewees het, en daar sou dus geen sprake van ‘n verhouding gewees het nie. En onthou Adam en Eva, van die begin af het God dit so beskik dat hulle die vrye wil sou hê om Hom te gehoorsaam , of nie.
Toe die Here besluit het om wesens met ‘n vrye will te skep, was die vemoë om goed of sleg te kies inherent deel daarvan. Om te verwag dat God ‘n vrye wil moes skep wat net altyd goed sou kies is net so onlogies om te verwag dat God ‘n ronde vierkant moet kan skep. Soos een persoon tereg gevra het, as jy wil hê God moet ‘n ronde vierkant skep, persies hoe het jy gedink moet so iets lyk?
God is logies, hy kan nie die wette van logika verbreek nie, net soos God waarheid is, Hy kan nie lieg nie. Onthou altyd wanneer gesê word God kan alles doen , is dit net alles wat in lyn is met wie en wat Hy is.
Ek dink u kry die punt, God het mens en engele met ‘n vry wil geskep, en toe ongeregtigheid in die hart van satan opgekom het was net hy en hy alleen te blameer daarvoor.
Dan die tweede vraag, waarom stop die Here nie die boosheid , pyn en leiding in die wêreld nie?
En hier kan ons weerens ‘n wysheid uit die Bybel neem,
Die Here sê in Jes 55:8 -9 Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE.
Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes.
En ons lees in Rom 11:33 o Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë!
Eerstens moet ons daarop let dat in ‘n groot mate vir God om die boosheid, pyn en lyding weg te neem, Hy dan ook die vrye wil van die mens sal moet wegneem, aangesien baie van die boosheid, pyn en lyding deur ons eie keuses of die optrede van ander mense veroorsak word. Met ander woorde dan is ons weer terug by die robotte situasie , waar God wat liefde is, nie vrywillige liefde van ons sal kry nie, maar ons eintlik in gedwonge verhouding met God sal wees..
Tweedens leer ons ook uit die Woord dat God ons lyding tot iets goed kan gebruik. Ons dink veral aan Josef wat deur baie trauma is , verkoop as slaaf deur sy broers, en dan onskuldig in die tronk gegooi word., maar uiteindelik kan hy sê in Gen 50:20 Want júlle het wel kwaad teen my bedink, maar God het dit ten goede gedink om te doen soos dit vandag is, om ‘n groot volk in die lewe te hou.
En derdens soos ons reeds vroëer genoem het, ons karakter word daardeur gebou: 1 Pet 1:6 -7 Daarin verheug julle jul, al word julle nou—as dit nodig is—’n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge, sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus
Die belangrikste vir ons egter is om te weet dat God nie onverskillig staan teenoor ons swaarkry nie.
Ons lees in Lukas 7 van die vrou van Nain wie se seun oorlede is.
En toe Hy naby die poort van die stad kom, word daar net ‘n dooie uitgedra, die enigste seun van sy moeder, en sy was ‘n weduwee; en ‘n groot menigte van die stad was by haar.
En toe die Here haar sien, het Hy innig jammer vir haar gevoel en vir haar gesê: Moenie ween nie!
En Hy het nader gegaan en die baar aangeraak. Daarop staan die draers stil. En Hy sê: Jongman, Ek sê vir jou, staan op!
En die dooie het regop gaan sit en begin praat; en Hy het hom aan sy moeder teruggegee.
Vir baie is hierdie ‘n deel oor een van die groot wonderwerke van Jesus, maar in vers 13 sien ons iets van Jesus wat selfs groter is as die wonderwerk.
“En toe die Here haar sien, het Hy innig jammer vir haar gevoel en vir haar gesê: Moenie ween nie! Jesus voel jammer, Hy gee om en Hy kom troos.
Ons lees ook dieselfde in Joh 11:33 van Jesus se optrede oor Lasarus:
Daar staan geskrywe:
Toe Jesus haar dan sien ween en die Jode wat saam met haar gekom het, ook sien ween, het Hy geweldig bewoë geword in sy gees en Hom ontstel.
Weereens sien ons dat Jesus die dood nie ligtelik neem nie, Hy gee om. En omdat Hy omgee het Hy die Trooster , Die Heilige Gees, gestuur, en daarom kan ons vandag vertroosting kry deur Jesus homself deur Sy Gees wat in ons is.
Onthou Jesus het toe Hy mens geword het self deur al hierdie dinge gegaan, arm groot geword, verwerp deur mense , verraai deur iemand naby aan Hom, Hy is so gemartel dat Hy skaars as mens herkenbaar was, en soos ‘n krimineel tot dood veroordeel.
Daarom dat die Woord tereg sê in Heb 4:14 – 16 Terwyl ons dan ‘n groot Hoëpriester het wat deur die hemele deurgegaan het, naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou.
Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde.
Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.
Job het ten spyte van sy omstandighede nog steeds op God vertrou het. Die Woord sê dat by dit alles het Job nie gesondig en aan God niks ongerymds toegeskrywe nie.
So ook Dawid. Veral in Psalm 22 kan ons sien hoe Dawid na die Here uitroep sonder om antwoorde te kry. Hy begin die Psalm met : “My God, my God, waarom het U my verlaat, ver van my hulp, van die woorde van my gebrul?
My God, ek roep bedags, maar U antwoord nie; en snags, en ek kan nie swyg nie.”
En net soos Job sal hy nie van God kwaad praat nie, maar die Here bly eer en prys en aanbid.
God het nou wel nie alle boosheid, pyn en leiding kom stop nie, maar Hy het deur Sy Seun ingetree om te verseker dat ons nie vir altyd so hoef te leef nie. Deur Jesus word ons ‘n geleentheid gebied om ‘n toekoms te hê waar alle trane afgedroog sal word en daar geen moeite meer sal wees nie. En onthou die een wie dit alles begin het sal betaal. In Open 20- met die finale oordeel word die duiwel in die poel van vuur en swawel gewerp waar die dier en die valse profeet is; en hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid.
Wat u ook al van vandag se boodskap onthou, neem hierdie een fundamentele beginsel met u saam. Moenie opgee nie. As jy midde in ‘n vuurdoop is, hou vas aan die belofte dat die Here by jou is , al voel dit glad nie so nie. Moenie jou hart verhard nie. Onthou dit is jou besluit hoe jy gaan optree in enige situasie.
Die son wat skyn maak die modder hard maar die botter sag. Dit is dieselfde son maar die samestelling van die modder en die botter wat gaan bepaal of dit hard of sag word.
Moenie jou hart verhard en opgee nie. Moenie God blameer en van Hom wegdraai in moeilike tye nie.
Luister wat sê die Here vir Israel, en onthou as jy in Christus is, is jy ingeent op Israel :
Jes 43:1-2 Maar nou, so sê die HERE, jou Skepper, o Jakob, en jou Formeerder, o Israel: Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos; Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne!
As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere—hulle sal jou nie oorstroom nie; as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie.
Leer van Daniel se drie vriende wat in die vuuroond gegooi is. Hulle het dit duidelik gestel dat dit nie saak maak of God hulle red of nie, hulle sal nie voor ander gode buig nie.
Die HERE sal jou seën en jou behoed;
Die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees;
Die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.
Amen