Jesus het nie geestelik gesterf, en toe die eerste wedergeborene geword nadat Hy in die doderyk gely het nie.
Daar is nêrens in die Bybel ‘n vers wat sê dat Jesus geestelik gesterf, en na die doderyk moes neerdaal om ter wille van ons, daar gestraf en gemartel te word nie. (Sommige predikers sê dat Jesus deur satan en sy demone na die hel gesleep is.)
Moet ons glo dat Jesus, vir wie die demone en onrein geeste bang was toe hy op aarde geloop nou skieklik magteloos geword het, en dat satan die oorhand oor Hom gehad het? En dat Jesus self nie die oowinning oor die bose behaal het nie maar na vele marteling moes God, die Vader dit stop?
Die antwoord op hierdie saak lê hoofsaaklik in die volgende vrae:
- Was Jesus God, terwyl Hy op aarde as mens gewandel het?
- Kan God sterf?
- Is die doderyk die plek van straf?
Vraag 1 : Was Jesus God terwyl Hy op aarde as mens gewandel het?
Antwoord : Ja.
Terwyl Jesus op aarde was, was Hy nie net ‘n mens nie, maar ook God. Deur die gestalte van ‘n mens aan te neem het Hy wel ook die fisiese beperkinge van ‘n mens gehad het. Hy moes ook loop waar Hy wou wees en het ook moeg, honger en dors geword. Dat hy egter wel God was, word baie duidelik in die Bybel gesê.
Luk 1:35 En die engel antwoord en sê vir haar: Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word.
Joh 1:1 In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.
Joh 1:14 En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon–en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom–vol van genade en waarheid.
Kol 2:9 Want in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik;
Joh 13:13 Julle noem My Meester en Here, en julle is reg, want Ek is dit.
Daarby is daar ook die baie “Ek is”, uitsprake van Jesus wat op Sy Godheid dui.
Joh 6:51 Ek is die lewende brood;
Joh 8:12 Ek is die lig van die wêreld;
Joh 10:9 Ek is die deur;
Joh 10:14 Ek is die goeie herder;
Joh 11:25 Ek is die opstanding en die lewe;
Joh 14:6 Ek is die weg en die waarheid en die lewe;
Joh 15:1 Ek is die ware wynstok;
Om te sê dat Jesus op aarde maar net ‘n mens was met die Woord in Hom, en daardeur soos sekere predikers, te sê dat indien hulle die Bybel so goed soos Jesus geken het, hulle die satan sou kon oorwin, is na my mening uiters gevaarlik. Soos wat die satan homself wou verhef, gelyk met God, is hierdie mense nou besig om Jesus af te trek, gelyk met die mens. Ons sal wel eendag soos Jesus wees. Die Woord sê dan ook dat ons gelykvormig aan sy beeld sal wees. Maar geen mens kan ooit Jesus wees nie.
Vraag2 : Kan God sterf?
Antwoord : Nee.
God is Gees. Jesus is God en een met die Vader, en God is van ewigheid tot ewigheid.
Joh 4:24 God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.
Fil 2:5-6 Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was. Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie,
1Joh 5:7 Want daar is drie wat getuig in die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een;
Gal 3:20 En die middelaar is nie net vir een nie; maar God is een.
1 Kron 16:36 Geloofd sy die HERE, die God van Israel, van ewigheid tot ewigheid! En die hele volk het gesê: Amen! en: Prys die HERE!
Psalm 90:2 Voordat die berge gebore was en U die aarde en die wêreld voortgebring het, ja, van ewigheid tot ewigheid is U God.
Indien Jesus geestelik gesterf het, ja selfs al was dit net vir ‘n minuut, sou al die tekste in die Bybel wat God se eenheid en ewigheid besing ‘n leuen wees, want dan was daar ‘n minuut wat God nie God was nie. Die eenheid van God is soos ‘n vuur. Vir ‘n vuur om te brand, d.w.s om vuur te wees, is daar brandstof, hitte en suurstof nodig. Indien jy enige een van die drie wegneem is daar nie meer ’n vuur nie. Net so is die drie-enige God. Indien jy die Vader, of die Seun of die Heilige Gees uit die eenheid sou neem het jy nie meer die God van die Bybel nie.
Vraag 3 : Is die doderyk die plek van straf?
Antwoord : Nee.
Daar is wel baie pyn en lyding tans in die doderyk soos ons uit die verhaal van Lasarus en die ryk man leer, maar dit is slegs ‘n tydelike plek waar ongereddes gehou word tot die tyd van oordeel. Die poel van vuur is die plek van straf. Verskeie woorde in die Bybel is met die woord “hel” vertaal, maar nie almal het dieselfde betekenis nie.
Hades : Die doderyk waarheen verlore siele gaan. Die paradys was eers ook daar.
Abussos : Die afgrond waar satan vir ‘n duisend jaar gehou gaan word.
Open 20:1 En ek het ‘n engel uit die hemel sien neerdaal, met die sleutel van die afgrond en ‘n groot ketting in sy hand.
Tartarus : Die bewaarplek van gevalle engele.
2 Pet 2:4 Want as God die engele wat gesondig het, nie gespaar het nie, maar hulle in die hel gewerp en aan kettings van duisternis oorgegee het, om vir die oordeel in bewaring gehou te word.
Gehenna : Die poel van vuur (Die hel waar die ewige straf sal plaasvind). Niemand is nou hier nie of was al hier nie. Die dier en vals profeet gaan eerste wees.
Mar 9:43 En as jou hand jou laat struikel, kap dit af. Dit is beter vir jou om vermink die lewe in te gaan, as om twee hande te hê en in die hel te gaan in die onuitbluslike vuur,
Open 19:20 En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand.
Die Bybel is baie duidelik dat die oordeel en straf van die wat nie deel het aan die eerste opstanding nie, eers by die wit troon sal begin.
Open 20:11-15 En ek het ‘n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie.
En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ‘n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke.
En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke.
En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood.
En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.
Uit die voorafgaande gedeelte is dit ook duidelik dat die plek van straf (die poel van vuur), nie binne die aarde in die doderyk is nie. Ons lees dat die aarde gaan weg vlug en dat die doderyk ook in die poel van vuur gewerp gaan word.
Openbaring 21:1 sê dan ook dat daar ‘n nuwe hemel en nuwe aarde kom. En dat die eerste hemel en die eerste aarde verbygegaan het. Markus 9:44-48 leer ons dat die vuur egter nooit geblus gaan word nie. Dit word bevestig in Openbaring 14:11 wat sê dat die rook van hul pyniging tot in alle ewigheid sal opgaan. As die vuur dus nooit geblus gaan word nie en die ongeredde mense en gevalle engele tot in alle ewigheid daar gaan wees, volg dit logies dat die poel van vuur nie in die aarde, wat sal verbygaan, kan wees nie.
Toe Jesus dus na die buik van die aarde is, was dit dus beslis nie om straf in ons plek te ontvang nie, want die plek van straf (die tweede dood soos ons in Openbaring 21: 8 lees) is nie in die buik van die aarde nie.
Uit die voorafgaande het ons dus gesien dat omdat Jesus, nog altyd God is en was, Hy nie geestelik kon sterf nie.
Open 1:8 Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, sê die Here, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.
Ons het ook gesien dat die doderyk is nie die plek van straf nie, so Jesus het nie op die kruis geestelik gesterf en nadat Hy sy laaste asem uitgeblaas het, is Hy nie na die doderyk gesleep om daar gemartel en gestraf te word nie.
Hier volg van die verse wat verkeerdelik vertolk word dat Jesus geestelik gesterf het.
Psalm 16:10 want U sal my siel aan die doderyk nie oorgee nie; U sal nie toelaat dat u gunsgenoot verderwing sien nie.
Psalm 22:1 My God, my God, waarom het U my verlaat, ver van my hulp, van die woorde van my gebrul?
Jes 53:11 Weens die moeitevolle lyde van sy siel sal Hy dit sien en versadig word; deur sy kennis sal my Kneg, die Regverdige, baie regverdig maak; en Hy sal hulle skuld dra.
Alhoewel hier nie gesê word dat Jesus geestelik gesterf het nie, of dat Hy in die doderyk gely het nie, word dit gebruik omdat hier van ‘n siel, die doderyk, lyding en God-verlatenheid gepraat word.
Al wat die Woord egter hier sê, is dat God die Vader, Jesus nie in die doderyk sou laat bly nie (KJV Act 2:31 He seeing this before spake of the resurrection of Christ, that his soul was not left in hell, neither his flesh did see corruption.), nie dat Jesus in die doderyk sou ly nie. Hierdie verse sê beslis nie vir ons hoekom hy na die doderyk moes neerdaal nie. Dit sê ook nie dat Jesus, straf en marteling daar moes gaan verduur, om vir ons sondes te betaal nie. Wanneer daar van die moeitevolle lyde van die siel gepraat word kan ons nie sommer net sê dit was straf in die doderyk nie. Aan die siel word baie dinge in die Bybel toegedig terwyl dit ‘n lewende siel / liggaam op die aarde is.
Gen 2:7 die mens het ‘n lewende siel geword.
Gen 34:3 siel verkleef.
Gen 34:8 siel is verlief.
Gen 42:21 siel raak benoud.
Lev 26:15 & Lev 26:30 die siel kan ‘n afsku hê.
Num 5:6 dié siel kan skuldig word.
Die siel word ook baie keer as sinoniem met die liggaam / mens gebruik:
Honger na fisiese kos.
Num 11:6 Maar nou is ons siel dor; daar’s glad niks nie: net die manna is voor ons oë.
Hy moet ‘n bokooi vang en as offer bring.
Num 15:27 En as ‘n enkele siel in swakheid sondig, moet dié ‘n jaaroud bokooi as sondoffer bring.
Die mens wat iets moedswillig doen moet doodgemaak word.
Num 15:30 Maar die siel wat iets moedswillig doen, van die kinders van die land of van die vreemdelinge, hy versmaad die HERE; en dié siel moet uitgeroei word onder sy volk uit.
Die lyde van die siel in Jes. 53:11 verwys dus heel waarskynlik na die emosionele trauma en fisiese lyding van Christus terwyl Hy nog lewendig was. Ons kan dit dan ook duidelik sien uit verskeie gedeeltes wat later behandel sal word. ‘n Baie duidelike bewys dat Jesus se lyding was terwyl Hy nog gelewe het, vind ons in die volgende twee verse.
Luk 12:50 Maar Ek het ‘n doop om mee gedoop te word, en hoe benoud word Ek totdat dit volbring is!
Joh 19:30 En toe Jesus die asyn geneem het, sê Hy: Dit is volbring! En Hy het sy hoof gebuig en die gees gegee.
In Lukas 12 verwys Jesus na die kruisiging wat voorlê en in Joh19 net voordat Hy sterf, sê Hy, dit is volbring. Met ander woorde die doop waarmee Hy gedoop moes word is volbring terwyl Hy lewendig was.
Die woord wat as “volbring” vertaal is, is dieselfde woord in beide verse. Dit het dan ook onder andere die betekenis van “ten volle betaal”.
Let veral op die volgende gedeelte:
Mat 27:50 Daarop het Jesus weer met ‘n groot stem geroep en die gees gegee. En kyk, die voorhangsel van die tempel het in twee geskeur, van bo tot onder, en die aarde het gebewe en die rotse het geskeur;
Die voorhangsel van die temple wat in twee geskeur is, dui op die skeiding na die allerheiligste wat weggeneem is. Met ander woorde ons het nou vrylik toegang tot God die Vader. Dit is verder bewys dat Jesus alles gedoen het wat nodig was voordat Hy gesterf het op die kruis. Indien Hy nog daarna eers in die hel moes gaan ly, kon die voorhangsel nie alreeds geskeur het nie. Dit bring ons dan ook by ‘n ander probleem. Indien Hy terwyl hy nog lewend was, geestelik in die hel gely het, beteken dit dat Hy as persoon nie in Sy liggaam was terwyl dit op die kruis gehang het nie. Dit sou beteken dat Hy nie werklik die lyding op die kruis verduur het nie, wat beslis totaal en al die teenoorgestelde is as van wat die Woord ons leer en waarvan verskeie gedeeltes in hierdie dokument aangehaal word.
Die woorde, “My God, my God, waarom het U my verlaat”, word dan ook dikwels gebruik om te staaf dat God letterlik vir Jesus die rug toegekeer het, en Hom alleen gelaat het. Hierdie is egter slegs profetiese woorde deur Dawid gebruik in psalm 22. Dit is waar dat Jesus hierdie profetiese uitspraak volbring het, met Sy uitspraak aan die kruis, maar min kom ooit tot die besef dat net ‘n entjie verder aan, het Dawid self die teendeel gesê en bely dat God hom nooit in die steek gelaat het nie.
Psalm 22:25 Want Hy het die ellende van die ellendige nie verag of verfoei en sy aangesig vir hom nie verberg nie; maar Hy het gehoor toe dié Hom aangeroep het om hulp.
Psalm 23:4 Al gaan ek ook in ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my
Psalm 28:1 ‘n Psalm van Dawid. Ek roep U aan, o HERE! My rots, draai nie stilswygend van my af weg nie, sodat ek nie, as U teenoor my bly swyg, word soos die wat in die kuil neerdaal nie.
28:6-9 Geloofd sy die HERE, want Hy het die stem van my smekinge gehoor.
Die HERE is my sterkte en my skild; op Hom het my hart vertrou, en ek is gehelp; daarom jubel my hart en sal ek Hom loof met my gesang.
Die HERE is ‘n sterkte vir hulle, en Hy is ‘n vesting van verlossing vir sy gesalfde.
Verlos u volk en seën u erfdeel, en wees vir hulle ‘n herder en dra hulle tot in ewigheid.
Die Gees van God is dan ook alomteenwoordig, ja selfs in die doderyk:
Psalm 139:7-8 Waar sou ek heengaan van u Gees en waarheen vlug van u aangesig?
Klim ek op na die hemel, U is daar; en maak ek die doderyk my bed, kyk, U is daar!
God is oral en sien alles, of dit nou goed of sleg is. Indien God van Jesus af moes wegkyk oor sonde, beteken dit dat God al vir die afgelope 6000 jaar nie Sy oë op die aarde kan rig nie, want al die sonde wat op Jesus geplaas was, is al die sonde van alle mense op die aarde oor die eeue heen!, of probeer ons leer dat God net na ‘n bietjie sonde op ‘n slag kan kyk maar nie na baie nie?
‘n Ander probleem is die woord, “dode”, en dat daar gesê word dat Jesus die eerste uit die dode is. Beteken “dode “ dat Jesus meer as een dood gesterf het? Kan ons die woord dode vertolk as twee sterftes , naamlik liggaamlik en geestelik van een persoon, en dit as bewys neem dat Jesus geestlik gesterf het. En wat van die woord, “eersteling”? Wat word bedoel met die eersgeborene uit die dode.?
Ons weet daar is mense voor Jesus uit die dood opgewek; Lasarus en ander in die evangelies is bewys daarvan. Beteken dit egter dat “eersteling” en “eersgeborene nou ‘n bewys is dat Jesus geestelik dood was en dus die eerste wedergeborene was?
Kom ons kyk eers na die woord, “dode”.
1Kor 15:20 Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het.
Die woord dode beteken slegs meer as een dooie mens, nie een mens wat twee dode gesterf het nie. Die wat in Christus gesterf het is tog sekerlik nie geestelik dood nie.
Open 14:13 En ek het ‘n stem uit die hemel aan my hoor sê: Skryf salig is van nou af die dode wat in die Here sterwe. Ja, sê die Gees, sodat hulle kan rus van hul arbeid, en hulle werke volg met hulle.
Lasarus was nie geestlik dood nie, inteendeel, Jesus het hom baie liefgehad en sy siekte was tot die heerlikheid van God.
Joh 11:3-5 Die susters het toe na Hom gestuur en gesê: Here, hy vir wie U liefhet, is siek. En toe Jesus dit hoor, sê Hy: Hierdie siekte is nie tot die dood toe nie, maar tot die heerlikheid van God, sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word. En Jesus het Martha en haar suster en Lasarus liefgehad.
Joh 12:1 En Jesus het ses dae voor die pasga na Betánië gekom waar Lasarus was, wat dood (liggaamlik) gewees het en wat Hy uit die dode opgewek het.
Die ryk man probeer Abraham oortuig dat een van die wat dood is na sy broers gestuur moet word, nie dat een wat liggaamlik en geestelik dood is dit moet doen nie. Sy versoek is dan ook dat Lasarus moet gaan, en ons weet tog dat Lasarus nie geestelik dood was nie, want dan kon hy nie in die boesem van Abraham wees nie.
Luk 16:30-31 Maar hy antwoord: Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dode na hulle gaan, sal hulle hul bekeer. Maar hy sê vir hom: As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan.
Romeine 8 is duidelik dat die opwekking uit die dode gaan oor sterflike liggame wat weer lewend word.
Rom 8:11 En as die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, dan sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.
Efesiërs 5 het wel ‘n voorbeeld van waar ons, “uit die dode” as geestelik kan vertolk, maar weereens wys dit slegs op die een tipe (geestelik) en nie albei (geestelik en liggaamlik nie). Die mense van wie hier gepraat word is liggaamlik lewendig.
Efes 5:14 Daarom sê Hy: Ontwaak, jy wat slaap, en staan op uit die dode, en Christus sal oor jou skyn.
Wanneer Paulus sê hy strewe na die opstanding uit die dode bedoel hy sekerlik nie dat hy in daardie stadium geestelik dood was en nog wedergebore moes word nie. Hy was klaar ‘n wedergebore Christen, maar praat hier van iets wat nog bereik moet word. Paulus verwys na iets wat hy nog nie verkry het nie.
Fil 3:11 of ek miskien die opstanding uit die dode kan bereik.
Wat beteken die woord eersgeborene?
Open 1:5 en van Jesus Christus, die getroue getuie, die eersgeborene uit die dode en die Owerste oor die konings van die aarde! Aan Hom wat ons liefgehad het en ons van ons sondes gewas het in sy bloed
Kol 1:18 En Hy is die Hoof van die liggaam, naamlik die gemeente; Hy wat die begin is, die Eersgeborene uit die dode, sodat Hy in alles die eerste kan wees.
Ons weet dat Jesus nie die eerste een was wat weer lewendig geword het nie, en ons weet ook dat daar teen die tyd dat Jesus gekruisig is reeds baie tot bekering gekom het.
Die Ou Testament is vol van waarskuwings en oproepe, tot bekering en ‘n God vresende lewe.
In Johannes 3 sê Jesus dat geen mens die koninkryk van God kan sien as hy nie wedergebore word nie. Jesus sê dan ook vir Nikodémus, dat as leraar hy hierdie dinge (die werking van wedergeboorte) behoort te weet. Indien wedergeboorte nodig is om die koninkryk van God in te gaan, dan moes daar al wedergeboorte in die Ou Testament plaasgevind het, of ons moet aanvaar dat geen mens uit die Ou Testament in die koninkryk van God is nie.
Joh 3:5-6 Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie.
Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees.
Die storie van Saggéüs in Lukas 19 is net nog ‘n voorbeeld van iemand wat tot redding kom voordat Jesus aan die kruis sterf.
Al hierdie argumente dat Jesus nie twee dode gesterf het nie word duidelik in die Woord bevestig. Die Middelaar (Jesus) het “ ‘n dood” gesterf, met ander woorde net een dood.
Heb 9:15 En daarom is Hy Middelaar van ‘n nuwe testament, sodat, terwyl daar ‘n dood plaasgevind het vir die verlossing van die oortredinge onder die eerste testament, die wat geroepe is, die belofte van die ewige erfenis kan ontvang.
1Pet 3:18 Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring–Hy wat wel gedood is na die vlees, maar lewend gemaak deur die Gees;
Dat dit net een dood en die dood van die fisiese liggaam was word verder bevestig.
Heb 2:14 Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het—dit is die duiwel—
Dus, Jesus moes vlees word soos dat Hy in die vlees kon sterf.
Die woord eersgeborene verwys dus na iets heeltemal anders as wedergeboorte, en ons kry die antwoord in Filippense 3.
Fil 3:21 wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam volgens die werking waardeur Hy ook alles aan Homself kan onderwerp.
Jesus was die eerste om ‘n verheerlikte liggaam te ontvang. Hy was die eerste een wat nie weer gesterf het nie. Al die ander wat uit die dood (of dode) opgestaan het, het weer gesterf. Hulle het ook nie bonatuurlike eienskappe gehad, soos om net in ‘n plek te verskyn, soos Jesus na sy opstanding kon doen nie. Almal behalwe Jesus, was na hulle opstanding, nog steeds mense net soos ek en jy. Jesus was die eerste wat ‘n onverganklike liggaam ontvang het:
1Kor 15:50-53 Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie. Kyk, ek deel julle ‘n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word. Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word.
In Lukas 24:39 sê Jesus dan ook dat Hy vlees en bene is, nie vlees en bloed nie.
Hierdie opwekking van die verheerlikte liggaam word ook na verwys in Psalm 2..”U is my Seun, vandag het Ek self U gegenereer: Dit is hierdie woorde wat in die Nuwe testament aangehaal word. Dit is dan ook ‘n bevestiging van die belofte aan Dawid dat hy ‘n seun, Salomo, sal hê, wat die tempel sal bou en dat die troon van sy koningskap tot in ewigheid oor Israel bevestig sal word.
Psalm 2:7 Ek wil vertel van die besluit: Die HERE het aan My gesê: U is my Seun, vandag het Ek self U gegenereer.
1Kron 22:10 Hy sal vir my Naam ‘n huis bou, en hy sal vir My ‘n seun wees, en Ek vir hom ‘n Vader; en Ek sal die troon van sy koningskap oor Israel bevestig tot in ewigheid.
Heb 1:5 Want aan wie van die engele het Hy ooit gesê: U is my Seun, vandag het Ek U gegenereer? en weer: Ek sal vir Hom ‘n Vader wees, en Hy sal vir My ‘n Seun wees?
As Jesus dan nie na die doderyk is om gestraf te word nie, wat het Hy dan daar gaan maak?
Daar is wel baie duidelike aanduidings in die Bybel oor hoekom Jesus na die dodedryk moes neerdaal en wanneer en waar Sy lyding en oorwinning was. Kom ons kyk na ‘n paar sulke verwysings.
Jesus het sy oorwinning gaan aankondig:
Aan die in die doderyk wat wag op die oordeel en aan die in die paradys (aan die boesem van Abraham) wat na die hemel geneem moes word.
1Pet 4:6 Want daarom is ook aan die dode die evangelie verkondig, sodat hulle wel geoordeel kan word na die mens in die vlees, maar lewe na God in die gees.
Die ongereddes wat in die vlees gelewe het, sal oordeel ontvang by die wit troon, soos ons reeds gesien het, en die gereddes by die regterstoel van Christus hulle loon.
Rom 14:10 Maar jy, waarom oordeel jy jou broeder? Of jy ook, waarom verag jy jou broeder? Want ons sal almal voor die regterstoel van Christus gestel word.
1Kor 3:14 As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang;
Eph 6:8 omdat julle weet dat elkeen vir die goeie wat hy doen, loon van die Here sal ontvang, of hy ‘n slaaf is of ‘n vryman.
Die paradys was eers aangrensend of deel van die doderyk soos ons uit die storie van Lasarus en die rykman leer. Dit wil sê beide geredde en ongeredde mense het na hul dood na die buik van die aarde gegaan soos ook uit ander dele in die Bybel afgelei kan word:
Gen 37:35 En al sy seuns en al sy dogters het moeite gedoen om hom te troos, maar hy (Jakob ‘n geredde mens) het geweier om hom te laat troos en gesê: Nee, treurende sal ek na my seun in die doderyk afdaal! So het sy vader hom dan beween.
Num 16:30 Maar as die HERE iets nuuts skep en die grond sy mond oopmaak en hulle verslind met alles wat aan hulle (Korag en sy bende wat as goddelose manne beskryf word) behoort, en hulle lewendig na die doderyk afdaal, dan sal julle weet dat hierdie manne die HERE verag het.
Die dag toe Jesus gesterf het, is hy na die paradys. Dit het hy tog aan een van die wat saam met hom gekruisig is, beloof. Die paradys was dus ook in die aarde, deel van die dodederyk. Aangrensend tot die plek waar die ongeredde mense gehou word, maar beslis geskei daarvan, deur ‘n groot kloof soos ons uit die storie van Lasarus en die ryk man leer.
Luk 23:43 En Jesus antwoord hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.
Luk 16:26 En by dit alles is daar tussen ons en julle ‘n groot kloof gevestig, sodat die wat hiervandaan wil oorgaan na julle, nie kan nie; en die wat dáár is, nie na ons kan oorkom nie.
Nou is die paradys in die hemel. Efésiërs 4:8 kan moontlik ‘n aanduiding wees van wanneer die paradys en die mense daarin na die hemel geneem is en Paulus sê in Korinthiërs waar die paradys nou is.
Efes 4:8 Daarom sê Hy: Toe Hy opgevaar het in die hoogte, het Hy die gevangenes gevange geneem en gawes aan die mense gegee.
2Kor 12:2 – 4 Ek weet van ‘n man in Christus, veertien jaar gelede–of dit in die liggaam was, weet ek nie, of buite die liggaam, weet ek nie, God weet dit–dat so iemand weggeruk is tot in die derde hemel. En ek weet van so ‘n man–of dit in die liggaam of buite die liggaam was, weet ek nie, God weet dit–dat hy weggeruk is in die Paradys en onuitspreeklike woorde gehoor het wat ‘n mens nie mag uitspreek nie.
Jesus het ook die sleutels van die dood en die doderyk gaan haal.
Open 1:18 en die lewende; en Ek was dood en kyk, Ek leef tot in alle ewigheid. Amen. En Ek het die sleutels van die doderyk en van die dood.
Jesus het die gevalle engele in sy triomf tog uitgeklee.
Kol 2:15 nadat Hy die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer het.
Die plek waar Jesus gely het was baie beslis die kruis voordat Hy gesterf het.
Kol 1:21-22 Ook julle wat vroeër vervreemd was en vyandig gesind deur die bose werke, het Hy nou versoen in die liggaam van sy vlees deur die dood, om julle heilig en sonder gebrek en onberispelik voor Hom te stel;
Heb 10:5&10 Daarom sê Hy, as Hy in die wêreld inkom: Slagoffer en spysoffer wou U nie hê nie, maar U het vir My ‘n liggaam berei. Deur hierdie wil is ons geheilig deur die offer van die liggaam van Jesus Christus, net een maal.
Johannes 10:35 leer ons dat Skrif nie gebreek kan word nie. Die volgende Bybel tekse en begrippe moet egter erg geweld aangedoen word om te kan sê dat, Jesus geestelik gesterf het, in die doderyk moes ly en toe wedergebore is.
Jesus kon nie geestelik gesterf het nie want:
Jesus noem God, “My God”, maar die wat nie geregverdig is nie, spreek God nie so aan nie.
Mark 15:34 En die negende uur het Jesus met ‘n groot stem uitgeroep en gesê: Eloï, Eloï, lamma sabagtáni? wat, as dit vertaal word, beteken: My God, my God, waarom het U My verlaat?
Luk 18:13 En die tollenaar het ver weg gestaan en wou selfs nie sy oë na die hemel ophef nie, maar het op sy bors geslaan en gesê: o God, wees my, sondaar, genadig!
‘n Persoon wat geestelik dood is, het dus nie die wetlike reg om God, “my God” te noem nie, want hy of sy is nie ‘n kind van God nie.
Rom 8:14 Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God.
Indien Jesus geestelik gesterf het, sou Hy ook heel moontlik moes uitroep, ”O God, O God..” Die Woord sê mos, God is ‘n God van lewendes. Hierdie lewendes bedoel geestelike lewendes, nie fisiese lewendes nie. Abraham, Isak en Jakob is al lankal fisies dood, maar God is (vandag nog) nog steeds hulle God!
Mat 22:32 Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob? God is nie ‘n God van dooies nie, maar van lewendes.
Reeds as kind het Jesus die Gees gehad en noem God dan ook, “Vader”.
Luk 2:40 En die Kindjie het gegroei en sterk geword in die Gees en vol van wysheid. En die genade van God was op Hom.
Luk 2:49 En Hy sê vir hulle: Waarom het u My gesoek? Het u nie geweet dat Ek in die dinge van my Vader moet wees nie?
Jesus noem God dan ook , “Vader”, aan die kruis die oomblik toe Hy sterf, maar net die wat die Gees het kan God so noem.
Rom 8:15 Want julle het nie ontvang ‘n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader!
Luk 23:46 En Jesus het met ‘n groot stem uitgeroep en gesê: Vader, in u hande gee Ek my gees oor! En toe Hy dit gesê het, blaas Hy die laaste asem uit.
Indien Jesus geestelik gesterf het, sou hy beslis nie vir die Heilige God, “Vader”, kon genoem het nie, wat nog te sê ‘n gestorwe gees aan Hom oorhandig.
Jesus kon nie in die doderyk of die hel gely het nie, want:
Jesus het met Sy liggaam die prys betaal en Sy liggaam was in die graf en het nie na die doderyk neergedaal nie.
Kol 1:21-22 Ook julle wat vroeër vervreemd was en vyandig gesind deur die bose werke, het Hy nou versoen in die liggaam van sy vlees deur die dood, om julle heilig en sonder gebrek en onberispelik voor Hom te stel;
Heb 10:5 Daarom sê Hy, as Hy in die wêreld inkom: Slagoffer en spysoffer wou U nie hê nie, maar U het vir My ‘n liggaam berei.
Heb 10:10 Deur hierdie wil is ons geheilig deur die offer van die liggaam van Jesus Christus, net een maal.
Dit is Jesus se bloed (nie marteling in die hel) wat vergifnis, verlossing en versoening bring.
Efes 1:7 In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade,
Efes 2:13 Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus.
Kol 1:14 in wie ons die verlossing het deur sy bloed, naamlik die vergifnis van die sondes.
Kol 1:20 en dat Hy deur Hom alles met Homself sou versoen nadat Hy vrede gemaak het deur die bloed van sy kruis–ek sê deur Hom–die dinge op die aarde sowel as die dinge in die hemele.
Die Bybel leer dat Jesus reeds op die kruis (nie in die hel) die vyand oorwin en alles volbring het.
Efes 2:16 en albei in een liggaam met God kon versoen deur die kruis, nadat Hy daaraan die vyandskap doodgemaak het.
Joh 19:30 En toe Jesus die asyn geneem het, sê Hy: Dit is volbring! En Hy het sy hoof gebuig en die gees gegee.
Is dit die reeds oorwonne vyand wat Jesus na die doderyk afgetrek het? Indien Jesus op die kruis geestelik gesterf het, is dit nie ‘n bietjie baie gevra om te glo dat Hy in sy verlore toestand self besluit het om na die kruis verder gemartel te word nie, en sommer vrywillig daarvoor aangemeld het. Onthou hierdie Jesus, met ‘n dooie gees, is nou een van die sinnelike mense wat die Gees nie het nie, maar skeuring maak, volgens Judas 1:19. Dit is dan juis deur die Gees dat Hy homself aan God offer volgens Hebreërs 9:14.
Joh 10:15-18 Net soos die Vader My ken, ken Ek ook die Vader; en Ek lê my lewe af vir die skape.
Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder.
Daarom het die Vader My lief, omdat Ek my lewe aflê om dit weer te neem.
Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit Myself af. Ek het mag om dit af te lê en Ek het mag om dit weer te neem. Hierdie gebod het Ek van my Vader ontvang.
Die teorie dat Jesus asyn (suur wyn) gedrink het om ‘n tipe sonde te word sodat hy fisies/geestelik kon sterf het dus ook geen Bybelse gronde nie. Die Bybel sê in elk geval dat Jesus toe nooit die asyn gedrink het nie.
Mat 27:34 en vir Hom asyn, met gal gemeng, gegee om te drink; en toe Hy dit proe, wou Hy nie drink nie.
Die wat na die poel van vuur gaan kom nooit weer daar uit nie.
Open 20:10 En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp waar die dier en die valse profeet is; en hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid.
Die straf is pyniging tot in ewigheid, nie drie dae en drie nagte nie! Indien Jesus names ons in die hel gepynig moes word, sou Hy nou nog daar gewees het.
Jesus kon nie wedergebore word nie want:
Belydenis is nodig vir vergifnis en wedergeboorte.
Spreuke 28:13 Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind.
Rom 10:10 want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.
Die vraag is nou, waaroor moes Jesus bely? Hyself sê in Joh 14:31 dat Hy net doen wat die Vader Hom beveel. En wanneer? Kan iemand dan gered word indien hy klaar in die doderyk is? Ek dink alle Bybel gelowiges sal saamstem wedergeboorte vind op die aarde plaas, nie in die doderyk nie.
Daar is ook geen vergifnis sonder bloed nie, en onbesmette bloed is nodig as offer om die lewende God te sien.
Indien Jesus terwyl Hy op die kruis was geestelik gesterf het, voordat hy liggaamlik gesterf het, dan was sy bloed besoedel en het dit geen versoenings krag gehad nie. Wie se bloed kon dan ook voor Vader kom om versoening vir Jesus te bring? Die besmette bloed sou dan ook nie vir ons sondes kon betaal nie.
Lev 17:11 Want die siel van die vlees is in die bloed, en Ek het dit aan julle op die altaar gegee om vir julle siele versoening te doen; want die bloed bewerk versoening deur die siel.
Heb 9:22 En byna alles word met bloed gereinig volgens die wet, en sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie.
Heb 7:26 Want so ‘n hoëpriester was vir ons gepas, een wat heilig, onskuldig, onbesmet, afgeskeie van die sondaars is, en wat hoër as die hemele geword het;
Heb 9:14 hoeveel te meer sal die bloed van Christus, wat Homself deur die ewige Gees aan God sonder smet geoffer het, julle gewete reinig van dooie werke om die lewende God te dien.
Ten slotte besluit vir uself of God ‘n regverdige regter is.
2 Ti 4:8 Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het.
Rom 6:23 Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.
Ons weet dat hierdie dood die fisiese liggaamlike dood insluit, maar die dood, in die kontras met die ewige lewe in Christus, wat hier gebruik word, dui ook vir ons aan dat die dood hier veral op die ewige dood of die tweede dood wys.
In Openbaring lees ons dan ook :
Open 2:11 Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Die wat oorwin, sal deur die tweede dood geen skade ly nie.
Open 20:6 Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, …
Open 21:8 Maar wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en gruwelikes en moordenaars en hoereerders en al die leuenaars hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel: dit is die tweede dood.
Soos ons egter reeds gesien het, het God ook gesê, daar is volkome vergifnis deur die bloed. Die Bybel is baie duidelik hieroor, of die ewige dood (in die poel van vuur), of versoening deur die bloed van Jesus. Nie altwee nie!
Wanneer jou kind ‘n oortreding begaan, skuldig bevind en gevonnis word tot R300.00 of 3 Maande gevangenisskap, sal jy hom mos graag wil help. Indien hy/sy nie die geld het nie en dus tronk toe sal moet gaan, sal jy as ouer heel moontlik die boete wil betaal. Deur nou die R300.00 te betaal verhoed jy dat jou kind tronkstraf moet uitdien. Wanneer jy die boete betaal, word die straf as volledig uitgedien beskou, die regter gaan nie nou vir jou vra om nog ‘n week lank ook in die gevangenis te sit nie. Indien hy dit sou doen sal jy hom beslis daarvan beskuldig dat hy jou mislei het en onregverdig in die toepassing van die straf was.
Indien ons dus van ‘n aardse regter verwag om regverdig op te tree volgens wat hy gesê het, hoeveel te meer sal die Heilige God nie aan sy woord getrou wees nie? Om te sê dat God die Vader, Jesus se bloed en liggaam op die kruis, as offer vir ons sondes ontvang het, maar toe ook aangedring het dat Jesus verdere straf moes deurmaak, is om die Almagtige God van onregverdigheid en misleiding te beskuldig.
Sê die Woord dan nie juis vir ons dat God bo ons aardse begrip van regverdigheid is nie?
Mat 7:11 As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid!