Jesus is God

Christene is monoteïste wat glo dat God een is.

God is een, in wese, maar deur Sy Woord openbaar hy hom self aan ons as drie unieke onderskeibare persone. Naamlik, God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees. Ons noem dit, die Drie-eenheid of Triniteit.

‘n Baie duidelike aanduiding dat die Seun en die Vader onderskei word, vind ons in Ps 2:7 Ek wil vertel van die besluit: Die HERE het aan My gesê: U is my Seun, vandag het Ek self U gegenereer.

En ons praat dan nou oor die tweede persoon in die Drie-eenheid, naamlik onse Here Jesus Christus en die belangrikheid daarvan dat ons Hom as God sal eer.

In die Christen geloof, soos ons vorder op ons pad met die Here, sal ons met verskille leerstelling uit die Bybel te doen kry. Party is fundamenteel tot ons geloof, soos bv. die opstanding van Jesus.

Paulus sê in 1 Kor 15:14 En as Christus nie opgewek is nie, dan is ons prediking vergeefs en vergeefs ook julle geloof;

En Paulus sê dit hier in die konteks van sekere mense wat beweer dat daar nie ‘n opstanding is nie. Die opstanding van Jesus is belangrik vir ons omdat dit nie alleen daarop dui dat Hy die dood oorwin het nie, maar ook dat sy offer aanvaarbaar was vir ons regverdigmaking.

Rom 4:25 sê Jesus was oorgelewer ter wille van ons misdade en opgewek ter wille van ons regverdigmaking. Vry vertaal kan ons sê, omdat die offer van Jesus aanvaarbaar was, is ons regverdig verklaar en as bewys daarvan het Jesus opgestaan.

Net soos die opstanding dus deel vorm van die fondasie van die Christen geloof, is dan ook die leerstelling dat Jesus God is. Wie en wat Jesus is en wat jy daaromtrent glo is fundamenteel tot die Christen geloof. Dit is so belangrik dat Jesus dit pertinent aan Sy dissipels vra.

Eers vra Jesus in die algemeen, Wie sê die mense dat Ek, die Seun van die mens, is?  Maar dan maak Hy dit persoonlik; Mat 16:15 Hy sê vir hulle: Maar julle, wie sê julle is Ek?

Die antwoord op hierdie vraag is so belangrik dat redding direk daaraan gekoppel is.

Toe Jesus met die Fariseërs in Joh 8 praat, maak Hy die stelling dat Hy nie van hierdie wêreld is nie maar van bo. In vers 24 sê Hy dan: “want as julle nie glo dat dit Ek is nie, sal julle in jul sondes sterwe.” Duideliker as dit kan ons dit seker nie kry nie, Jesus sê as jy nie glo dat Hy God is nie, sal jy nie gered word nie.

Baie maak die, Ek IS , konneksie direk met die “EK IS” van Exo_3:14 wat lees “En God sê vir Moses: EK IS WAT EK IS. Ook sê Hy: So moet jy die kinders van Israel antwoord: EK IS het my na julle gestuur”.

Party teoloë sou beweer dat ‘n beter vertaling sou wees om te sê “ Ek is wie ek beweer om te wees”. Maar dit sou geen verskil maak nie, want soos ons nou sal aandui uit die skrifte is dit presies wie Jesus die heel tyd tydens Sy bediening gesê het Hy is; naamlik Die Messias , Seun Van God en een met die Vader.

Sou ons egter net aanlees tot aan die einde van die hoofstuk kom ons by die ander bekende “Ek IS” gedeelte ,naamlik Joh 8:58 wat lees : “Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, voordat Abraham was, is Ek.” (Engels I AM )

Daar kan dus geen twyfel wees dat Jesus hier ‘n ernstige waarskuwing gee oor hoe ons oor Hom moet dink nie.

Kom ons kyk ook net vir ‘n oomblik na Rom 10:9 Dit lees |”:As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word;

Wie moet ons bely, nie net Jesus nie, maar die Here Jesus. “As jy met jou mond die Here Jesus bely

Dit is dan ook waarom die ware Christen geloof nie aanpasbaar of versoenbaar is met enige van die ander gelowe of sektes nie. Die boodskap wat al hoe meer die wêreld ingestuur word is dat ons almal maar dieselfde God dien, net op verskillende maniere, maar dit is nie die waarheid nie.

Rom 10:13 Want: Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word. Weereens word daarna verwys dat jy die Here moet aanroep; Hierdie is ‘n aanhaling uit Joël 2:32 En elkeen wat die Naam van die HERE aanroep, sal gered word; want op die berg Sion en in Jerusalem sal daar ontkoming wees soos die HERE gesê het, en onder die vrygeraaktes die wat die HERE sal roep.

Die Woord is duidelik, alleen die wat die Naam van die Here aanroep sal gered word, nie die naam van ‘n profeet of een of ander goeie mens nie.

Ons lees in Psa 49: Niemand kan ooit ‘n broer loskoop nie; hy kan aan God sy losprys nie gee nie.

Die geldigheid van die Christen geloof hang dus daarvan af, of Jesus God is of nie. Dit belangrikheid daarvan lê daarin dat Jesus dit wat Hy belowe het sou moes kon doen.

Dink maar net aan die 7 “Ek is”, uitsprake van Jesus in Johannes.

Joh 6:51   Ek is die lewende brood;

Joh 8:12   Ek is die lig van die wêreld;

Joh 10:9   Ek is die deur;

Joh 10:14 Ek is die goeie herder;

Joh 11:25 Ek is die opstanding en die lewe;

Joh 14:6   Ek is die weg en die waarheid en die lewe;

Joh 15:1   Ek is die ware wynstok;

Die hele Joh 14:6 lees soos volg: Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie

Dit word dan ook in Hand 4:12 bevestig waar van Jesus gesê word:  En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.

Dit is dus te verwagte dat die godheid van Jesus deur die wêreld aangeval sal word. U sal byvoorbeeld die boek van Dan Brown , The Da Vinci Code, onthou waarin hy sê dat Jesus slegs as God aanvaar is nadat dit deur Constantine verklaar is. ‘n Boek wat deur miljoene gekoop en gelees is. Dit was ‘n direkte aanval op die godheid van Jesus.

Voordat ons verder gaan fokus op Jesus as God, net die volgende oor Jesus as mens, want dit is belangrik dat ons nie uit die oog verloor dat Jesus ook ten volle mens was hier op aarde nie. Jesus het aarde toe gekom ten volle mens, sodat hy kon sterf en met sy onbesmette bloed die prys vir ons sondes kon betaal .

Die feit dat Jesus man en God is, is dan ook hoekom Hy as Middelaar vir ons kon optree. Die Woord sê in 1Tim 2:5 – 6 Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus,  wat Homself gegee het as ‘n losprys vir almal, as die getuienis op die regte tyd,

Om die brug te vorm tussen mens en God was dit belangrik dat Jesus beide kante geanker moes wees. Met ander woorde Hy moes mens wees maar terselfdertyd ook God.

Die twee hoof redes vir Jesus om mens te word was dus

1) om as ons Middelaar op te tree, moes HY een van ons wees en

2) om aan die kruis te sterf, moes Hy ook mens wees , want God kan nie sterf nie, die Woord leer ons God is van ewigheid to ewigheid. Slegs as mens kon Jesus op die kruis sterf.

En U ken die bekende skrif wat ons waarsku teen die wat nie Jesus as mens erken nie.

1 Joh 4:2 – 3 sê Hieraan ken julle die Gees van God: elke gees wat bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het, is uit God;  en elke gees wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie, is nie uit God nie; en dit is die gees van die Antichris waarvan julle gehoor het dat hy kom, en hy is nou al in die wêreld.

Interessant om daarop te let dat Jesus ‘n natuurlike geboorte en natuurlike sterfte gehad het, maar Sy bevrugting en opstanding was bo-natuurlik. Met ander woorde sy geboorte en sterfte dui daarop dat hy mens is, en Sy bevrugting en opstanding dui daarop dat Hy God is.

In die meeste gevalle sal daar nie verskil word dat Jesus, die mens, op aarde was nie. Die omstredenheid ontvou eers wanneer ons Jesus as God belei. Die godheid van Jesus word totaal en al deur bv. Jode (Die nie- messiaanse Jode) en Moslems ontken. So is daar ook die Jehovah Getuies wat nie glo dat Jesus God is nie.

En vandag nog wanneer die wêreld Jesus se vraag hoor : wie sê julle is Ek?  Is daar slegs een van drie keuses;

  1. Jesus is ‘n leuenaar en bedrieër wat doelbewus mense onder die verkeerde indruk gebring en laat bly het.
  2. Jesus is ‘n geestes versteurde wat werklik geglo het Hy is die verlosser maar dit nie was nie.
  3. Jesus is wie hy gesê het Hy is, dat hy waarlik God is.

Dit is dus onmoontlik om te sê dat Jesus slegs ‘n goeie en aangename man, godsdienstig, profeet of leermeester was.

Ons fokus is dus vandag op die vraag: ‘Leer die Bybel wel dat Jesus God is?’ Met ander woorde hoe sal ons uit die skrifte wys dat Jesus God is.

Baie mense besef dit nie, en sal ontken dat Jesus homself God genoem het, maar kyk gerus weer na Mat 7:21 -22 Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie?

Die Griekse woord Kurios, (koo ‘-ree -os) wat hier as “Here” vertaal is, beteken onder andere God , of dan die een met die hoogste gesag ( supreme authority). Onthou die konteks is hier die wat by die koninkryk van die hemele wil ingaan en Jesus sê Hy gaan hulle nie toelaat nie. So uit die konteks waarin die woord Kurios gebruik word sien ons dit dus dat dit op hemelse gesag dui en die beswaar van sommige dat Kurios, ook op menslike gesag kan dui is dus nie geldig nie.

Vergelyk ook Luk_6:46 En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?  Of Joh_13:13 Julle noem My Meester en Here, en julle is reg, want Ek is dit.

Let wel hier sê Jesus reguit dat hy die “Kurios” Here is. Johannes 13 is waar Jesus sy dissipels se voete gewas het.

So word Jesus dan nie net as Kurios beskryf net maar ook as God. Mat 1:23 Kyk, die maagd sal swanger word en ‘n seun baar, en hulle sal Hom Emmánuel noem, dit is, as dit vertaal word: God met ons.

Die Woord hier as God vertaal is die Griekse woord “Theos”. Ons vind dieselfde in Joh 1:1 In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Weereens word Jesus hier as Theos beskryf.

So eerstens kan ons sê dat die leering dat Jesus God is, is gebaseer op die feit dat die Bybel na Hom as God verwys en dat Jesus na homself as Here verwys.

Tweedens kan ons kyk na Jesus se uitsprake dat Hy “Die Seun van God” en “Die Seun van die mens” is.

Die title “Seun van God” kom meer as 27 keer voor in die evangelies. Jesus self het hierdie title egter nie baie gebruik nie. Twee duidelike direkte voorbeelde waar Jesus, homself hierdie title gebruik het, sou egter wees:

Luk_22:70 toe hulle Hom vra: Is U dan die Seun van God? En Hy antwoord hulle: U sê dat Ek dit is. ( wat basies ‘n bevestiging was) En Joh_10:36 waar Jesus direk erken dat Hy gesê het: Ek is die Seun van God?

Markus begin dan ook sy evangelie met die woorde: “Die begin van die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God”.

Ander wat dit meer gereeld gebruik het is die demone wat Jesus erken het en na hom as “Die Seun van God verwys het”, Die satan wat Jesus versoek het met die woorde “As u die Seun van God is” doen dit of dat….  En dan gewone mense soos Nathaniel en Petrus wat Jesus so aangespreek het.

In die Joodse taal gebruik word die term “seun van” in baie gevalle gebruik om aan te dui dat dit van dieselfde orde of natuur is.

Byvoorbeeld 1 Kon 20:35 wat praat van die “profete-seuns” of in Engels “sons of the prophets”. En Neh 12:28 “seuns van die sangers“ of in Engels “the sons of the singers “ Met ander woorde hierdie was nie seuns wie se pa’s profete of sangers was nie, maar hulle was self profete en sangers.

Jesus se tydgenote het dit dan ook so verstaan, daarom dat hulle Hom wou doodmaak. In Joh 19:7 sê hulle dat Jesus die doodstraf moet kry volgens hulle wet omdat Hy Homself “Seun Van God” maak.  Joh 19:7 Die Jode antwoord hom: Ons het ‘n wet en volgens ons wet moet Hy sterf, omdat Hy Homself die Seun van God gemaak het.

Wanneer Jesus dus na homself verwys as die ‘Seun van God’ is dit presies wat Hy bedoel, naamlik dat Hy van dieselfde orde of natuur as God is, met ander woorde Hy is God. Dit is wat die Jode as God lasterlik beskou het en daarom dat hulle Hom wou doodmaak.

Ons lees in Joh 10:33 Die Jode antwoord Hom en sê: Dit is nie oor ‘n goeie werk dat ons U stenig nie, maar oor godslastering, en omdat U wat ‘n mens is, Uself God maak.  Let wel die Jode het geweet dat Hy sê Hy is God. Hulle sê ons wil U stenig omdat U wat ‘n mens is, Uself God maak.

In teenstelling met hoe min Jesus die titel “Seun van God” gebruik het vir Homself, gebruik Hy aanmekaar die titel “Seun van die mens” in die evangelies. Tereg word daarop gewys dat Jesus hierdeur Homself vereenselwig met die menslike ras. Daar is egter ‘n ander betekenis hieragter en dit is dat Jesus hierdeur ‘n Ou Testamentiese profesie oor die Messias op Homself van toepassing maak.

So, elke keer wanneer Hy na Homself as die Seun van die mens verwys, het Hy nie net bevestig dat Hy volledig mens is nie, maar terselfdertyd beweer dat Hy die Messias is.

Kom ons kyk na : Mat 26:62 – 66 Daarop staan die hoëpriester op en sê vir Hom: Antwoord U niks nie? Wat getuig hierdie manne teen U?  Maar Jesus het stilgebly. En die hoëpriester antwoord en sê vir Hom: Ek besweer U by die lewende God dat U vir ons sê of U die Christus, die Seun van God, is?  Jesus antwoord hom: U het dit gesê. Maar Ek sê vir u almal: Van nou af sal u die Seun van die mens sien sit aan die regterhand van die krag van God en kom op die wolke van die hemel.  Toe verskeur die hoëpriester sy klere en sê: Hy het godslasterlik gespreek, wat het ons nog getuies nodig? Kyk, nou het julle sy godslastering gehoor!  Wat dink julle? En hulle antwoord en sê: Hy is die dood skuldig.

En die rede vir die hoëpriester se reaksie vind ons in Dan 7:13 -14  Dit lees: Ek het gesien in die naggesigte, en kyk, met die wolke van die hemel het Een gekom soos die Seun van ‘n mens, en Hy het gekom tot by die Oue van dae, en hulle het Hom nader gebring voor Hom.

En aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer; sy heerskappy is ‘n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie. 

Die hoëpriester het dus geweet wat die title “Seun van die mens” beteken. Hy het geweet dit verwys na hulle verwagte Messias wat sou kom op die wolke en verewig heerskappy uitoefen, net soos dit in Daniel 7 geprofeteer is.

Dieselfde word in Joh 12:34 bevestig:  Die skare antwoord Hom: Ons het uit die wet gehoor dat die Christus tot in ewigheid bly; en hoe sê U dat die Seun van die mens verhoog moet word? Wie is hierdie Seun van die mens?  Weereens verwys die Jode na die Christus as die “Seun van die mens”,

Ons kan dan net ook verwys na Joh 20:30 – 31 : Let wel dit lees : Nog baie ander tekens het Jesus voor sy dissipels gedoen wat in hierdie boek nie beskrywe is nie;  maar hierdie is beskrywe, dat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God; en dat julle deur te glo die lewe kan hê in sy Naam.  

Met ander woorde dit wat in die Bybel van Jesus gesê word, is daar geskryf sodat ons kan glo dat Jesus God is, dit sê duidelik dat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God;

Beswaar teen Jesus as God.

Gewoontlik word Joh 14:28 as eerste beswaar aangebied.

Julle het gehoor dat Ek aan julle gesê het: Ek gaan weg en Ek kom weer na julle toe. As julle My liefgehad het, sou julle bly wees dat Ek gesê het: Ek gaan na my Vader, omdat my Vader groter is as Ek.

Fil 2:5 – 8 Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was.  Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie,  maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword;  en in gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.

Dus in Fil 2 word Jesus gelyk gestel aan God die Vader, maar in Joh 14 sê Jesus dat die Vader groter is as Hy. Die oënskynlike probleem word egter gou opgelos wanneer ons na die woorde kyk wat gebruik is.

In Joh 14 vind ons die woord “meizon” wat dui op die groter posisie wat die Vader in die hemel het as Jesus op aarde, en in Fil 2 kry ons die woord “isis” (ee’sos) wat dui op die aard of wese van God.  Ons kan dit verduidelik aan die hand van ‘n sport span. Die kaptein en spelers is almal mense, en so in aard en wese gelyk, maar vir die duur van die wedstryd is die kaptein groter in posisie as die spellers.

So daar is dus geen weerspreking hier nie, Ja terwyl Jesus op aarde was het God die Vader ‘n groter posisie as Hy gehad, maar in natuur en aard was en is hulle dieselfde, naamlik God.

Ons sou natuurlik ook uit die Woord kon wys dat bo en behalwe dit wat ons nou alles gesê het, Jesus ook nog beskik het oor al die Goddelike eienskappe en dat Hy ook Goddelike dade gedoen het.

Jesus beskik oor Goddelike eienskappe.

    1. Ewigheid ( Hy het geen begin of einde nie)
    2. Alomteenwoordigheid ( is oral)
    3. Alwetendheid (Weet alle dinge)
    4. Almagtigheid
    5. Onveranderlikheid (Verander nooit nie)

Jesus doen Goddelike dade.

  • Skepper van alle dinge
  • Vergifnis van sonde ( Hy vergewe sondes)
  • Redding
  • Opwekking van die dooies in die opstanding.
  • Voltrekking van die oordeel 

Die stukkie oor die Lewensredder hieronder kom uit ‘n ou Juig tydskrif…

DIE LEWENSREDDER Die mensdom is besig om te verswelg in ‘n sonde-oseaan. Die wêreldgodsdienste is besig om ‘swemhandleidings’ uit te deel en probeer om die drenkelinge te leer swem. Jesus Christus is egter die Lewensredder wat Self in die oseaan ingeduik het om die wat besig was om te vergaan, te red – ten koste van Sy eie lewe.

“Daar is geen redding by iemand anders nie. Daar is geen ander naam op aarde wat mense kan aanroep om gered te word nie.” Hand 4:12. Is Jesus Christus jou Heer en Verlosser? Of sal Hy jou ewige Regter wees? Die vraag is nie: sál jy voor Hom buig nie, maar wánneer sal jy voor Hom buig?

“Daarom het God Hom ook tot in die hoogste posisie verhoog en aan Hom die Naam gegee wat belangriker is as elke ander naam. So sal by die noem van Jesus se heerlike Naam elke knie in die Hemel en op die aarde en onder die aarde buig, en elke tong sal er­ken: ‘Jesus Christus is Here!’ En so sal God die Vader verheerlik word!” Fil 2:9-11. Die eerste keer het Hy gekom as Lam wat die sonde van die wêreld wegneem. Die tweede keer, wanneer Hy weer kom, kom Hy nie as Redder nie, maar as Regter, Ko­ning van die konings en Heer van die here, ‘n oorwinnaar en ewige Regter.

Ons buig òf vandag, terwyl dit nog genadetyd is, voor Hom, òf ons sál eendag op die Oordeelsdag voor Hom móét buig – sonder die keuse. Die Genadedeur sal dan dig gesluit wees en alle hoop en vergiffenis sal tot niet wees. Ons buig òf nou voor Hom wat ons Heer en Meester is, òf op die Oordeelsdag wanneer Hy sit as die ewige Regter wat gaan oordeel. Is Jesus jou Redder of jou Regter?