Leef ons in die eindtye? Of anders gestel : Is die wederkoms van Jesus Christus naby?
Ons lees in die Nuwe Testament van die wederkoms van Christus en meeste verstaan dit as ’n fisiese gebeurtenis.
Uit die Woord leer ons dat die wederkoms nie onodiglik vertraag word nie, maar dat God lankmoedig is, en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.
Ons lees ook van die afval wat sal kom en die seun van die verderf, die ongeregtige wat geopenbaar sal word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak,
Uit die Woord leer ons ook om geduldig wees; en ons harte te versterk want die wederkoms van die Here is naby. Sodat ons onberispelik sal wees in heiligheid voor onse God en Vader by die wederkoms van onse Here Jesus Christus met al sy heiliges.
En Johannes leer ons in 1Jn_2:28 Bly in Hom ( Jesus Christus), sodat jy vrymoedigheid kan hê wanneer Hy verskyn en nie beskaamd van Hom weggaan by sy wederkoms nie.
So die wederkoms is ‘n werklikheid En ek glo reg oor die eeue heen het mense al geglo dat hulle in die eindtye leef, baie van die dinge wat voorspel word was ook waar in ons voorgeslagte se tyd. Daar is egter een ding wat uitstaan as ‘n merker wat die laaste tye ‘n werklikheid maak en dit is die herstel van Israel.
Jer 16:14 -15 Daarom, kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat daar nie meer gesê sal word: So waar as die HERE leef, wat die kinders van Israel uit Egipteland laat optrek het nie; maar: So waar as die HERE leef, wat die kinders van Israel laat optrek het uit die Noordland en uit al die lande waarheen Hy hulle verdryf het. Ja, Ek sal hulle terugbring in hulle land wat Ek aan hulle vaders gegee het.
Sedert Mei 1948, toe Israel weer ‘n eie onafhanklike staat geword het, is die Here besig om Jode reg oor die wêreld weer terug te bring na Israel.
Let ook daarop dat hulle met hulle eie taal terug keer, voorwaar ‘n wonderwerk as jy daaraan dink dat vir amper 2 000 jaar hulle reg oor die aarde verstooi was.
Die herstel van Israel het egter teweeg gebring dat eindtyd profesieë in vervulling kan gaan.
So terug na ons vraag Leef ons in die eindtye.
Ons lees in Mat 24 dat twee dae voor die Krusiging van Jesus, sy dissipels, Jesus oor sy wederkoms uitvra.
Mat 24:3 En toe Hy op die Olyfberg gaan sit het, kom die dissipels alleen na Hom en sê: Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?
En dan vertel Jesus vir hulle van verskeie dinge wat sou gebeur , oorloë, hongersnoode, pessiektes, aardbewings, verdrukking van Sy volgelinge, valse profete, die ongeregtigheid wat sal vermeerder en die liefde van die meeste wat gaan afkoel.
En onder andere noem Jesus twee dinge wat direk verband hou met die evangelie en die morele toestand van die mens.
Eerstens dat die evangelie aan alle nasies verkondig sal word, voordat Hy weer kom.
Mat 24:14 En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ‘n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.
En tweedens dat die mens net voor Sy wedekoms weer gaan leef soos in die dae van Noag
Luk 17:26 -32 En soos dit gebeur het in die dae van Noag, so sal dit ook wees in die dae van die Seun van die mens: hulle het geëet en gedrink, hulle het getrou en is in die huwelik gegee tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het, en die sondvloed gekom en almal vernietig het.
Net soos dit ook gebeur het in die dae van Lot: hulle het geëet en gedrink, gekoop en verkoop, hulle het geplant en gebou. Maar op die dag toe Lot van Sodom uitgaan, het vuur en swawel van die hemel af gereën en almal vernietig.
Net so sal dit wees in die dag wanneer die Seun van die mens geopenbaar word. In daardie dag moet hy wat op die dak sal wees, terwyl sy huisraad in die huis is, nie afkom om dit weg te neem nie; en so ook moet hy wat op die land sal wees, nie omdraai na wat agter is nie.
Dink aan die vrou van Lot!
Kom ons kyk eers na Jesus se uitspraak dat die evangelie aan alle nasies verkondig sal word voor die einde kom.
En die logiese vraag is dus, hoe naby is ons aan die vervulling van hierdie profesie van Jesus. Is dit dalk ‘n teken dat ons aan die einde van die tye gekom het?
Die word “ethnos” wat as nasies vertaal is beteken eintlik etniese groepe. Op die oomblik word bereken dat daar minder as 200 etniese groepe is wat nog glad nie die evangelie boodskap gehoor het nie. Daar is wel heelwat groepe wat nog as onbereik gereken word op grond daarvan dat minder as 2% van hulle populasie Christene is.
Dit is moelik om werklik akkurate statistiek te kry aangesien definisie nie altyd dieselfde is nie maar oor die algemeen word aanvaar daar is so 12 000 verskillende mense groepe in die wêreld, en ongeveer 6 000 van hierdie groepe sou klassifiseer as onbereik, in die sin dat minder as 2% van hul bevolking Christene is.
Die punt wat ons egter hier wil maak is dat Jesus se stelling daarop gedui het dat elke groep sou hoor en nie dat almal Hom sou aanvaar nie. In Open 5:9 lees ons “Toe sing hulle ‘n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, “
So uit elke stam en taal en volk en nasie, sal daar verteenwoordiging voor God se troon wees, en met die tegnologie en ander hulpbronne vandag beskikbaar go ek dat Jesus se profesie dat alle nasies sal hoor, binne die volgende paar jaar vervul sal word.
Let wel Jesus sê dat alle groep sal hoor, nie dat almal gered sal word nie, en na 2000 jaar kan ons werklik sê dat daardie mylpaal nou in sig is.
Onthou egter dat alhoewel ons die seisoen kan identifiseer ons nooit ‘n datum en tyd sal kan gee nie.
En onthou 2 Pet 3:9 Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.
Die Here mag in Sy groot genade en liefde dalk nog ‘n rukkie wag nadat alle nasies gehoor het sodat nog meer mense gered kan word.
Tweedens dan kyk ons na Jesus se uitspraak oor Noag en lot.
Ons lees in Genesis die verhaal van God wat besluit het om die aarde en alles met ‘n lewens gees daarin met ‘n watervloed uit te wis. Ons lees hierdie verhaal in Genesis 6 to 9.
Kom ons kyk na die gedeelete in Gen 6:1 – 8
Toe die mense op die aarde begin vermeerder en daar vir hulle dogters gebore is,
sien die seuns van God dat die dogters van die mense mooi was, en hulle het vir hulle as vroue geneem almal wat hulle verkies het. Toe sê die HERE: My Gees sal nie vir ewig in die mens heers nie, omdat hy ook vlees is; maar sy dae sal wees honderd en twintig jaar.
In dié dae was die reuse op die aarde, en ook daarna, toe die seuns van God by die dogters van die mense ingegaan en dié vir hulle kinders gebaar het. Dit is die geweldiges uit die ou tyd, die manne van naam.
Toe die HERE sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was, het dit die HERE berou dat Hy die mens op die aarde gemaak het, en daar was smart in Sy hart. En die HERE sê: Ek sal die mens wat Ek geskape het, van die aarde verdelg, die mens sowel as die vee en die kruipende diere en die voëls van die hemel; want dit berou My dat Ek hulle gemaak het.
Maar Noag het genade gevind in die oë van die HERE.
Baie mense vandag is nie bereid om te erken dat hierdie Noag vloed waarvan ons in die Bybel lees, werklik gebeur het of ‘n dat dit ‘n wêreld wye vloed was nie.
Reg deur die Bybel bevestig God egter dat dit ‘n werklike historiese gebeurtenis was, en dat die vloed wêreld wyd was.
Byvoorbeeld: Die Here verwys daarna in Sy belofte van vrede aan Israel in Jes 54;
Jes 54:9 Soos in die dae van Noag is dit vir My: soos Ek gesweer het dat die waters van Noag nie meer oor die aarde sou gaan nie, so het Ek gesweer dat Ek nie op jou toornig sal wees of jou sal dreig nie.
En in Eseg 14:14 noem die Here vir Noag saam met Daniël en Job.
In Heb 11:7 word Noag as een van die geloofs helde genoem, ons lees: Deur die geloof het Noag, toe hy ‘n goddelike waarskuwing ontvang het aangaande wat nog nie gesien was nie, met eerbiedige vrees die ark gereed gemaak tot redding van sy huisgesin, waardeur hy die wêreld veroordeel het en ‘n erfgenaam geword het van die geregtigheid wat volgens die geloof is.
So wanneer ons kyk na die mense wat geleef het in Noag en Lot se tyd en die mense vandag, glo ek daar is wel ‘n paar raak punte wat, meer as ooit tevore bevestig dat ons vandag leef soos in die dae van Noag.
- Daar was baie mense op die aarde, Gen 6:1 sê dat die mense het op die aarde begin vermeerder. Net so vandag het ons ‘n wêreld bevolking van ongeveer 8 Biljoen. Nie baie lank gelede nie was dit 7 Biljoen.
- Saam met die vemenigvuldiging van die mense het geweld en kriminele aktiwiteit toegeneem. Gen 6: 5 sê die boosheid van die mens op die aarde groot was en dat al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was.
Vers 11 sê die aarde was verdorwe voor die aangesig van God, en die aarde was vol geweld.
Ons kan maar net na die Suid Afrika misdaad statistiek kyk om te sien dat die Here net sowel daardie woorde oor ons kon gespreek het.
Ons het gemiddeld 70 moorde per dag terwyl daar ‘n kontakmisdaad elke 50 sekondes van die dag gepleeg word.
- En dan veral as ons kyk na die verhaal van Lot sien ons hoe seksuele perversie aan die order van die dag was.
Die Here sê in Gen 18:20 “Die geroep oor Sodom en Gomorra is waarlik groot, en hulle sonde is waarlik baie swaar.”
En dan kry ons in Gen 19 vanaf vers 1 tot 5 ‘n aanduiding van onder andere die seksuele sonde wat ook in Sodom algemeen was:
Gen 19:1 -5 En die twee engele het in die aand in Sodom aangekom, terwyl Lot in die poort van Sodom sit; en toe Lot hulle sien, het hy opgestaan om hulle tegemoet te gaan en hom gebuig met die aangesig na die aarde toe
en gesê: Kyk tog, my here, draai tog uit na die huis van u dienaar en bly die nag oor en was u voete; dan kan u vroeg opstaan en u reis voortsit. Maar hulle antwoord: Nee, ons sal op die plein vernag. Maar hy het baie by hulle aangehou, sodat hulle na hom uitgedraai en in sy huis gekom het. En hy het vir hulle ‘n maaltyd berei en ongesuurde koeke gebak, en hulle het geëet.
Hulle het nog nie gaan slaap nie toe die manne van die stad, die manne van Sodom, die huis omsingel: jonk en oud, die hele bevolking, almal saam. En hulle het na Lot geroep en aan hom gesê: Waar is die manne wat vannag na jou gekom het? Bring hulle na ons toe uit, dat ons hulle kan beken.
In die Bybel wanneer die woord beken gebruik word in die verhouding tussen twee mense dui dit gewoontlik op ‘n seksuele daad. So lees ons dat :
Adam sy vrou Eva beken het, en sy het swanger geword en Kain gebaar. Kain het sy vrou beken, en sy het swanger geword en Henog gebaar.
Van Josef en Maria word daar geskryf, Josef het gedoen soos die engel van die Here hom beveel het en sy vrou by hom geneem en hy het haar nie beken totdat sy haar eersgebore Seun gebaar het nie; en hy het Hom Jesus genoem.
In 2 Pet 2:6 – 7 lees ons dat Sodom en Gomorra tot as verbrand was, as gevolg van die goddelose mense daar wat losbandig en sedeloos gelewe het.
As ons nou sou vra hoe lyk dit vandag, dan moet ons erken losbandigheid, sedeloosheid en seksuele perversie is nie net aan die toeneem nie, maar word ook al meer en meer as die normaal voorgehou , veral in die westerse wêreld.
In die media en in baie flieks vandag word dit gepropageer. Self die twee geslagte wat God geskep het word vandag nie meer geag nie.
Gen 1:27 En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.
So dan op die vraag, leef ons in die eindtye, leef die mense vandag soos in die dae van Noag en Lot, kan ons sekerlik onomwonde ja sê.
En dit bring ons dan eintlik by ‘n ander belangrike vraag, en dit is hoe leef ek en jy vandag?
Is jy vandag soos Lot se vrou of is jy vandag soos Noag?
U sien, oor die eindtyd , en die tekens van die tye kan ons gospels, ons kan daaroor debateer, en u kan ‘n ander siening hê as dit wat ek hier weergegee het, maar op die vraag, word jy saam met Lot se vrou getel of word jy saam met Noag getel kan jy nie met iemand oor debateer nie.
Dit is slegs ‘n geval van self ondersoek is jy in die regte verhouding met God, is jy ‘n volgeling van Jesus , ja of nee.
Onthou die woorde van Jesus: Hy het gesê, Dink aan die vrou van Lot! Waarom hierdie woorde? Dink aan die vrou van Lot!
Lot se vrou was tussen gelowiges, maar haar hart was by die lewe van die mense van Sodom. Die opdrag aan Lot en sy huisgesin was duidelik, gaan uit, vlug en moenie omkyk nie, moenie gaan staan nie.
Sy kon dit egter nie reg kry nie, sy het om gekyk, sy kon dit nie reg kry om die vleeslike lewe van Sodom agter haar te plaas nie. Lot se vrou was ‘n ondersteuner en nie ‘n volgeling nie, toe haar lewenswyse beinvloed word toe kom haar ware gesindheid na vore. Onthou Lot was ‘n gesiene man , die Bybel sê hy het in die poort gesit,
En ons lees in Gen_13:5 En Lot, wat saam met Abram getrek het, het ook kleinvee en beeste en tente gehad.
Maar toe hulle moes vlug kon hy niks saam neem nie. Lot se vrou was omring van geloof maar geen geloof haar self nie. Onthou sy het ook vir Abraham geken, die vader van die gelowiges.
Sy het egter probeer vashou aan die wereld wat besig was om te vergaan. Daarom is dit vir ons so belangrik om te doen wat Fil 3:14 sê
Vergeet van die dinge wat agter is , strek uit na dit wat voorlê
En Luk 21:36 Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan.
Teenoor die verhaal van Lot se vrou staan Noag. Die Woord sê in Heb 11:7 hy het ‘n erfgenaam geword van die geregtigheid volgens die geloof.
Staan jy vandag in die kamp van Noag.
U sien Rom 10:9 – 10 sê As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding
Want dit wat die Ark vir Noag was, dit is Jesus Christus vir ons.
Soos wat daar net een ark was, so is daar vandag slegs een redder, Jesus Christus. Joh 14: 6 Jesus is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur Hom nie.
Soos wat die ark net een deur gehad het so is Jesus die enigste deur;
Joh 10:9 Jesus sê: “ Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word, en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind. “
Maar net soos die mense in Noag se tyd geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het, tot op die dag dat Noag in die ark gegaan het, en dit nie verstaan het voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie.
Net so is die mens vandag so besig met hulle lewens dat hulle nie tyd het vir God nie en soos Jesus dit gestel , baie sal dit nie verstaan voordat die oordeel weer kom nie.
Die Woord sê verder dat Lot se skoonseuns het hom gehou vir iemand wat gekskeer.
Dit is nie ongewoon vandag dat in die media en in films en op TV daar met Christene die spot gedryf word of hulle in ‘n negatiewe lig gestel word nie.
En selfs dit het God in Sy Woord gesê sal gebeur:
2Pe_3:3 Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel
Jud 1:17 – 18 Maar julle, geliefdes, moet die woorde onthou wat tevore gespreek is deur die apostels van onse Here Jesus Christus, dat hulle vir julle gesê het: In die laaste tyd sal daar spotters wees wat volgens hul eie goddelose begeerlikhede wandel.
En soos die Almagtige die deur agter Noag toegesluit het, so verseël Hy ons in Christus,
Efes 1:11 – 14 in Hom in wie ons ook ‘n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil, sodat ons kan wees tot lof van sy heerlikheid, ons wat reeds tevore op Christus gehoop het,
in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte, wat die onderpand is van ons erfdeel om sy eiendom te verlos tot lof van sy heerlikheid.
Ons is verseël in Christus, die storms en aanslae van die wêreld sal teen jou kom, net soos die ark in die storm was, Net soos Noag veilig in die Ark was, so is ons veilig in Christus Jesus.
Paulus sê in Rom 8, al gaan dit ook sleg, hy weet niks en niemand kan ons skei van die liefde van Jesus nie.
Ons lees vanaf vers 35 tot 39
Wie sal ons skei van die liefde van Christus verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard? Soos geskrywe is: Om U ontwil word ons die hele dag gedood, ons is gereken as slagskape.
Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het.
Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.
Verder was die ark met pik gesmeer, ek lees graag vir u dit in die Engels gee want daar kom die woord pitch twee maal voor en nie net een maal soos “pik” in die Afrikaans nie.
Gen 6:14 Make thee an ark of gopher wood; rooms shalt thou make in the ark, and shalt pitch it within and without with pitch.
Vir die pik aan die binnekant word die Hebreeuse woord kâphar ( kaw-far) gebruik, en dit is dieselfde woord wat as atonement of dan versoening vertaal is. Ons lees in Lev 17:11 Want die siel van die vlees is in die bloed, en Ek het dit aan julle op die altaar gegee om vir julle siele versoening te doen; want die bloed bewerk versoening deur die siel.
Vir die pik aan die buitekant word Hebreeuse woord kôpher (ko’-fer) gebruik, en dit is weer dieselfde woord wat as ransom of redemption vertaal word.
1Ti 2:5 -6 For there is one God, and one mediator between God and men, the man Christ Jesus; Who gave himself a ransom for all, to be testified in due time.
Rom_3:25 Hom het God voorgestel in sy bloed as ‘n versoening deur die geloof, om sy geregtigheid te bewys deurdat Hy die sondes ongestraf laat bly het wat tevore gedoen is onder die verdraagsaamheid van God .
Jesus het Homself gegee het as ‘n losprys vir almal
Ek wil afsluit met hierdie oproep van Petrus aan die ongelowiges uit Hand 2:38: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.
En aan die gelowige broeders en susters die vermaning in Hebreërs
Heb 3:12 – 15 Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ‘n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie.
Maar vermaan mekaar elke dag so lank as dit vandag genoem word, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie. Want ons het deelgenote van Christus geword, as ons net die begin van ons vertroue tot die einde toe onwrikbaar vashou;
omdat daar gesê word: Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie soos in die verbittering nie.
Amen