Lyding en die Bybel

Ons lees in Lukas 7 van die vrou van Nain wie se seun oorlede is.

En toe Hy naby die poort van die stad kom, word daar net ‘n dooie uitgedra, die enigste seun van sy moeder, en sy was ‘n weduwee; en ‘n groot menigte van die stad was by haar.

En toe die Here haar sien, het Hy innig jammer vir haar gevoel en vir haar gesê: Moenie ween nie!

En Hy het nader gegaan en die baar aangeraak. Daarop staan die draers stil. En Hy sê: Jongman, Ek sê vir jou, staan op!

En die dooie het regop gaan sit en begin praat; en Hy het hom aan sy moeder teruggegee.

Vir baie is hierdie ‘n deel oor een van die groot wonderwerke van Jesus, maar in vers 13 sien ons iets van Jesus wat selfs groter is as die wonderwerk.

“En toe die Here haar sien, het Hy innig jammer vir haar gevoel en vir haar gesê: Moenie ween nie! Jesus voel jammer, Hy gee om en Hy kom troos.

Ons lees ook dieselfde in Joh 11:33  van Jesus se optrede oor Lasarus:

Daar staan geskrywe:

Toe Jesus haar dan sien ween en die Jode wat saam met haar gekom het, ook sien ween, het Hy geweldig bewoë geword in sy gees en Hom ontstel.

Weereens sien ons dat Jesus die dood nie ligtelik neem nie, Hy gee om. En omdat Hy omgee het Hy die Trooster , Die Heilige Gees, gestuur, en daarom kan ons vandag vertroosting kry deur Jesus homself deur Sy Gees wat in ons is.

Onthou Die HERE is genadig en regverdig, en onse God is ‘n ontfermer.

Jesus se uitnodiging is vandag nog net so geldig en Hy sê weer “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.”

 

2 Kor 1: 13- 14 sê dat God self die Vader van ontferminge en die God van alle vertroosting is, wat ons troos in al ons verdrukking, sodat ons die wat in allerhande verdrukking is, kan troos deur die vertroosting waarmee ons self deur God getroos word.

Onthou, dit beteken nie dat omdat ons Christene is ons nie mag erken dt ons swaar kry nie, die Woord sê wees bly met die wat bly is, en ween met die wat ween; Die verskil is net dat Christene nie treur soos iemand sonder hoop nie. Ons Hoop is Jesus Christus, wie beloof het om met ons te wees tot die einde en wanneer Hy ons kom haal sal ons by Hom wees tot in ewigheid.  Wanneer dit kom by swaarky en lyding, is daar net een plek waar ons regtig kan gaan en dit is na die Here.

 

Hebr 4 vertel vir ons van ons Hoë priester, Jesus, wat in alle opsigte nes ons versoek is, maar sonder sonde. Die Woord sê dan ook dat ons daarom met vrymoedigheid na die troon van genade kan gaan om barmhartigheid te verkry, genade te vind en op die regte tyd gehelp word.

Dit is nie maklik om sin uit te maak van pyn en lyding nie. Baie keer moet ons erken dat nou ken ons net ten dele soos 1 Kor 13 leer, en ons kyk deur ‘n spieël in ‘n raaisel.

Ja, dit is waar dat eendag sal ons ten volle ken, maar dit beteken nie dat ons nou heeltemal onkundig moet wees nie. As Christene weet ons dat die dood , swaarky, die dorings en distels  die wêreld ingekom het met die sondeval in die tuin van Eden.

Alles was baie goed totdat Adam ge-sondig het, daarna het dit verander en tot vandag laat die Here swaarkry en beproewing in ons lewens toe.

Deur, na van die Bybelse voorbeelde te kyk weet ons dat daar nie altyd antwoorde kom terwyl jy in die swaarkry tyd is nie.  Job is ‘n goeie voorbeeld. Hy het alles verloor , sy eiendom, sy kinders en sy gesondheid. Gedurende hierdie beproewing het die Here nie vir Job gesê waaroor dit gaan nie.

Wat ons wel weet is dat Job ten spyte van sy omstandighede nog steeds op God vertrou het. Die Woord sê dat by dit alles het Job nie gesondig en aan God niks ongerymds toegeskrywe nie.

Die ander voorbeeld van iemand wat met God geworstel het oor die moeilike tyd waardeur hy gegaan het en ook nie op al sy vrae antwoorde gekry het nie is Dawid.  Veral in Psalm 22 kan ons sien hoe Dawid na die Here uitroep sonder om  antwoorde te kry. En net soos Job sal hy nie van God kwaad praat nie, maar die Here bly eer en prys en aanbid.

Wat u ook al van vandag se boodskap onthou is hierdie vir my die fundamentele beginsel om te onthou.  Moenie opgee nie. As jy midde in hierdie vuurdoop is, hou vas aan die belofte dat die Here by jou is , al voel dit glad nie so nie.  Moenie jou hart verhard nie. Onthou dit is jou besluit hoe jy gaan optree enige situasie.

Die son wat skyn maak die modder hard maar die botter sag. Dit is dieselfde son maar die samestelling van die modder en die botter wat gaan bepaal of dit hard of sag word.

Moenie jou hart verhard en opgee nie.  Moenie God blameer en van Hom wegdraai nie in moeilike tye nie.

Luister wat sê die Here vir Israel, en onthou as jy in Christus is, is jy ingeent op Israel :

Jes 43:1-2   Maar nou, so sê die HERE, jou Skepper, o Jakob, en jou Formeerder, o Israel: Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos; Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne!

As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere—hulle sal jou nie oorstroom nie; as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie.

Gaan lees weer Romeine 8 vanaf vers 18:

Daar sal u sien dat:

  • Die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat op ons wag nie
  • Die Gees ons swakhede te hulp kom
  • Die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge
  • Alles werk ten goede mee vir hulle wat God liefhet
  • As God vir ons is wie kan teen ons wees
  • Niks kan ons skei van die liefde van God nie

Onthou wat Jesus deurgegaan het ter wille van jou en my:

  • Hy was verag en deur die mense verlaat, ‘n man van smarte en bekend met krankheid; ja, soos een vir wie ‘n mens sy gelaat verberg
  • Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel
  • Hy is mishandel, hoewel Hy onderworpe was, en Hy het sy mond nie oopgemaak nie

Mense mag miskien vir jou sê die Here wil jou sterk maak, daarom dat jy deur die moeilike tyd gaan en natuurlik voel dit glad nie vir jou of jy nou sterker word nie. Die rede is eerder dat God nie vir jou wil sterker maak nie maar wel jou geloof.

Luister na Paulus in 2 Kor 12

En dat ek my oor die voortreflikheid van die openbaringe nie sou verhef nie, is my ‘n doring in die vlees gegee, ‘n engel van die Satan, om my met die vuis te slaan, dat ek my nie sou verhef nie.

Hieroor het ek die Here drie maal gebid, dat hy van my sou wyk.

En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon.

Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in benoudhede, om Christus wil. Want as ek swak is, dan is ek sterk.

Luister mooi, hy praat van sy swakhede en dat hy daarin behae het, nie dat hy as persoon al sterker word nie, want dit is wanneer hy erken dat hy swak is dat God kragtig na vore kom.

U weet iemand het eenmaal gesê jy kry nog nie swaar as jy nog lang termyn beplanning doen nie.  Natuurlik is daar seisoene in jou lewe en  dit kan selfs wees dat jy al geruime tyd met ‘n sekere swaarkry moet saamleef.

Dit is egter daardie “deur die vuur gaan”  situasie wanneer jy na God uitroep, net om deur die dag of jou onmiddelike omstandighede te kom wat werklik jou eie swakheid sal uitwys.

Hoe meer benard jou situasie is, hoe meer sal jy van jou eie swakheid en onvermoë bewus word en hoe meer sal jy vir Jesus die eer gee nadat jy daardeur is.

Waarom laat die Here swaarkry en beproewing in jou lewe toe?

Daar is wel gevalle in die Woord waar die Here baie duidelik en spesifiek vir iemand gesê het hoekom. Dink maar net aan ons voorbeeld van Paulus se doring in die vlees en in die Ou Testament  toe Dawid oewerspel gepleeg het en Uria laat dood maak het.  Toe die kind wat vir hom en Bátseba  gebore is, siek word, het Dawid presies geweet waaroor dit gaan.

 

Daar is dan ook die gevalle waar die persoon eers later uitgevind het, dink byvoorbeeld aan Josef wat as slaaf verkoop en in Egipte vals beskuldig en in die tronk gegooi is.

 

Eers jare later toe sy broers gedurende die hongersnood in Egipte kom kos koop, het Josef besef waarom die Here toegelaat het dat hy as slaaf verkoop is.

 

Dan is daar natuurlik ook gevalle waar die Here glad nie ‘n antwoord gee nie. Dink byvoorbeeld aan die toring van Siloam wat geval en mense gedood, het , Jesus sê nie waarom juis daardie 18 mense dood is nie.  Wat Hy wel doen is om aan die wat daar staan ‘n waarskuwing te rig dat die 18 nie dood is omdat hulle meer sonde gehad het nie.

Waarop ons dus wel kan fokus is nie die oorsake van die swaarkry nie, maar wel op die eindproduk wat die swaarkry gaan meebring.

Hier is so ‘n paar resultate van beproewing wat deur die Woord uitgelig word.

1) 1Pet 1:7  die beproefdheid van ons geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, sal bevind word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus;

2) Hebr 2:18 Want deurdat Hy self onder versoeking gely het, kan Hy dié help wat versoek word. Net so kan ons ook wanneer ons self deur swaarkry gegaan soveel beter die help wat in moeilike omstandigehede is.

3) 2 Kor 4:17  Want ons ligte verdrukking wat vir ‘n oomblik is, bewerk vir ons ‘n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid; Die verdrukking van die oomblik gaan  ‘n ewige heerlikheid tot gevolg hê

Onthou dus wanneer jy deur swaarky en beproewing gaan moenie opgee nie.

Leer van Daniel se drie vriende wat in die vuuroond gegooi is. Hulle het die duidelik  gestel dat dit nie saak maak of God hulle red of nie, hulle sal nie voor ander gode buig nie.

En onthou geen sonde is te veel of te erg om vergewe te word nie. As daar iets in jou lewe is wat jou nog van die Here af weg hou, kan die tyd van beproewing dalk net wees om jou’n kans te gee om uit die koninkryk van die duisternis oor te kom in die koningkryk van die lig. Presies daarvoor het Jesus na die aarde gekom om te ly en met sy lewe te betaal dat nie een van ons verloor moet gaan nie.

Die HERE sal jou seën en jou behoed;

Die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees;

Die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.

Amen