Die Christen word nie gevrywaar waar van versoekinge, verdrukking, vervolging en allerhande ander toetse nie.
In teendeel daar is verskeie verse in die Bybel wat dit spesifiek bevestig.
Soos byvoorbeeld Jesus wat waarsku in die gelykenis van die saaier Mat 13:21 en 22, van verdrukking, vervolging, en oor die sorg van die wêreld, verleiding van rykdom.
En Joh 16:33 Weer is dit Jesus self wat praat en Hy sê: In die wêreld sal julle verdrukking hê. 1 Pet 4:12 Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie
Alhoewel die Bybel hierdie dinge as positief sien ervaar ons as mens dit nie altyd so nie, vir ons is dit baie maal negatief.
So lees ons in Jak 1:2 -3 Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val, omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk.
En die bekende gedeelte waar Paulus in Rom 5 verklaar dat ons roem ook in die verdrukkinge, omdat ons weet dat die verdrukking lydsaamheid werk, en die lydsaamheid beproefdheid en die beproefdheid hoop; en die hoop beskaam nie,
So die swaarkry en seerkry in die lewe kan en sal ten goede vir ons uitwerk, die Here beloof dit aan Sy kinders in Rom 8:28 En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.
Daar is egter iets waarvan ons te alle tye bewus moet wees, en dit is die ingebore veg of vlug optrede wat gewoontlik manifesteer by negatiewe situasies wat gereeld na ons kant toe kom.
Die Bybel gaan egter verder en gee opdrag dat veg of vlug eintlik ‘n doelbewuste aksie by Christene moet wees.
1 Tim 6
Paulus maan die gelowige om te vlug van valse leeringe, afguns , twis, geldgierigheid ens.
Vers 11. Maar jy, man van God, vlug van hierdie dinge weg, en jaag ná die geregtigheid, godsaligheid, geloof, liefde, lydsaamheid, sagmoedigheid.
So hy moedig die gelowige aan om te vlug van die sonde en dit wat tot sonde sal lei.
Nog so’ n voorbeeld is 1 Kor 6 18:20 ; Vlug vir die hoerery. Enige sonde wat ‘n mens doen, is buite die liggaam; maar wie hoerery bedryf sondig teen sy eie liggaam.
Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.
Die Woord gee ons ook opdrag om te veg. Net na die oproep om te vlug in 1 Tim 6, kry ons die opdrag om te veg , Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe,
In die Engels lees ons Fight the good fight of faith.
Efes 6 is dan ook die bekende gedeelte oor die Christen se geestelike worstelstryd en die wapenrusting wat God ons bied.
Efes 6:10 -18 Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel.
Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, (let wel ons is besig met ‘n stryd) ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.
Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly. Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord, met die borswapen van die geregtigheid aan, en as skoene aan julle voete die bereidheid vir die evangelie van vrede. Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus. En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees—dit is die woord van God— terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges.
Ek wil vandag egter praat oor veg en vlug in die konteks van ons optrede teenoor mekaar praat.
Met ander woorde hoe tree ons op wanneer ons in ons verhoudinge seer kry, aanstoot neem, of iets gebeur waarin ons verskillende opinies baie maklik in ‘n verskriklike argument kan ontaard of ontaard het.
En in sulke situasies doen ons ook gewoontlik een van twee dinge , of ons gaan oor tot geveg of ons vlug.
Laat ons eers kyk wat gebeur in die veg situasie, en onthou hierdie geveg omstandighede is nou een van waar ons vergeet het dat die Woord sê dat ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.
Ons het nou die geveg een gemaak van teen vlees en bloed .
En dit is nie altyd net teen iemand buite die liggaam van Christus nie, maar baie keer veg ons onderling broer en suster teen mekaar. En dit is ook goed dat ons sommer ook selfondersoek doen en daarop bedag sal wees dat ons nie die een is wat die seer veroorsaak of die aanstoot gee nie. Wees bedag op dit wat jy sê en dit waarna jy luister en veral wat jy maak met dit waarna jy geluister het. Jakobus 3 sê die tong is soos ‘n klein vuurtjie wat ‘n groot hoop hout aan die brand steek, ons moet daarop let dat dit nie ons is wat die vuur aansteek of die die wind is wat die vuur wat deur ‘n ander aangesteek is verder versprei nie. Die tong en wat dit kan doen is sekerlik ‘n booskap op sy eie en wat dit betref wil ek volstaan met die waarskuwing in Spreuke 18:19 ‘n Broer teen wie oortree is, is erger as ‘n sterk stad; en geskille is soos die grendel van ‘n paleis.
In die Engels lees on : A brother offended is harder to be won than a strong city: and their contentions are like the bars of a castle
So wanneer ons in ‘n situasie seer gekry het , of aanstoot geneem het , of in ‘n argument betrokke is of wat ook al, en ons gaan oor in veg, dan doen ons dit in die vlees. En wanneer ons in die vlees is dan neig ons om wêreldse standaarde na te volg. En die wêreld se standaard vir konflik is om as die wenner uit die stryd te tree. Sodra ons in die vlees optree, gaan dit net oor onsself, ons moet ten alle koste wen. Ons is onmiddelik in ‘n magstryd gewikkel.
En ongelukkig is dit so dat self in die kerk ons sal sien dat Christene ook so optree met ‘n boodskap van mag en moenie met my moeilikheid soek nie, wanneer daar konflik tussen twee partye onstaan. Dreigemente, manipulasie en beledigings is dikwels betrokke in sulke gevegte.
Dit is natuurlik nou nie moeilik om te sien hoe die veg optrede die Naam van die Here oneer aan doen nie, of hoe dit uiteindelik kan lei tot groter struweling of konflik binne ‘n gemeente of self die Liggaam van Christus in die algemeen nie.
Dit is natuurlik ook moontlik is om ‘n derde opsie na te volg. Dit is nie net altyd ‘n keuse tussen veg of vlug nie. Jy kan vries ook, U het seker al gehoor van mense wat hulle in ‘n seker situasie bevind het, en hoe hulle sê dat hulle net eenvoudig gevries het, hulle kon nie ‘n beweging maak of geluid uit kry nie.
Wel in die konteks waarvan ons vandag praat is dit ook moontlik om te vries, maar wat anders is, in ons konteks van konflik en of seerkry, is dat mense dit doelbewus kies. En daar mag verskeie redes wees hoekom mense besluit om liewers niks te doen nie, maar wat ook al die rede is, die uiteinde is gewoontlik dieselfde,en hulle leef met skuld gevoelens, selfveroordeling en in baie gevalle ‘n swak selfbeeld.
Alhoewel veg en vries vir die wêreld na twee verskille uitkomste lyk, die een sterk en die ander swak, doen dit aan ons basies dieselfde ding en dit is dat beide veg en vries aan die einde van die dag jou geestes lewe negatief beïnvloed.
Onthou:
Spreuke 4:23 sê Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe.
Veg en vries is uit die vlees, Romeine 8 sê vir ons die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie.
So laat ons kyk na die vlug opsie. En met vlug bedoel ons hier om te gaan skuiling soek. Wanneer ons sit met seerky of konflik dink ek die Bybel is nogal baie duidelik, dat die vlug opsie vir ons is. Nie sommer net ‘n weghardloop na nêrens vlug nie, maar vlug na iemand wat ons weet kan en wil ons help.
Daar is ‘n paar Bybel verse wat ek hier wil aanhaal, en hulle spreek vir hulself.
Ps 62:5:8 Wees net maar stil tot God, my siel, want van Hom is my verwagting! Sekerlik, Hy is my rots en my heil, my rotsvesting; ek sal nie wankel nie. By God is my heil en my eer; die rots van my sterkte, my toevlug is in God. (Let wel dit maak nie saak wat ander mense van jou sê of aan jou doen nie, jou heil en eer, met ander woorde wie jy is, jou waarde word deur God alleen bepaal , nie deur mense.)
Vertrou op Hom altyd, o volk! Stort julle hart uit voor sy aangesig! God is ‘n toevlug vir ons. Sela.
Psa 27:14 Wag op die Here! Wees sterk en laat jou hart sterk wees! Ja, wag op die HERE!
Jes 40:31 maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.
Klaagl 3:26 Dit is goed om in stilheid te hoop op die hulp van die HERE
Die Here verwag van sy kinders om by Hom te kom skuil en by Hom om hulp aan te klop. In Jes 30 word Israël skerp aangespreek omdat hulle nie na die Here wou kom nie, maar eerder op Egipte vertrou het om hulle teen Assiria te help. U kan self daar in Jes 30 gaan lees, dit begin deur Israel opstandige kinders te noem, en waarsku hulle dat die plan wat hulle uitvoer nie uit Hom is nie en dit nie uit Sy Gees is nie. God waarsku dat dit vir hulle net meer skande en smaadheid gaan bring.
Onthou : Vertrou op Hom altyd, o volk! Stort julle hart uit voor sy aangesig! God is ‘n toevlug vir ons
Ons moet leer uit Israël se foute, ons moet leer om te alle tye op God te vertrou. Jou vlug of soeke om hulp moet altyd na God toe wees. In die middel van Jes 30, in vers 15 gee die Here hierdie kosbare belofte;
In terugkeer en rus lê julle heil, in stil wees en vertroue bestaan julle krag
En dan natuurlik die bekende Psa 91 waarvan vers 1 sê: Hy wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtig
Israël wou nie en uiteindelik sou hulle ‘n duur prys betaal.
Vandag as daar seerkry of watter vorm van kwaad ook al in jou hart is, neem dit na God, moenie toelaat dat dit jou hard verhard nie. Luister as die Heilige Gees spreek en sê : Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie (Lees Heb 3 oor Israël wat hulle harte verhard het in die woestyn en wat hul uiteinde was)
Onthou ons word opgeroep om die vredemakers te wees, en daarom ook dat die Woord baie te sê het oor die sagmoediges.
Die wêreld mag meskien die sagmoedige as ‘n swakkeling sien, maar God kyk na die sagmoedige heeltemal anders. Daar word twee persone in die Bybel direk by naam genoem as sagmoedig,
Die Woord leer ons dat Moses was baie sagmoedig, meer as al die mense op die aardbodem. Num 12:3 En die ander persoon is natuurlik niemand anders nie as Jesus self,
In Mat 11:29 noem Hy homself sagmoedig en nederig van hart; En in 2 Kor 10:1 spreek Paulus van die sagmoedigheid en vriendelikheid van Christus.
En nie Moses of Jesus was sag, of sag geaard of lafhartig nie. In teendeel ons lees in Exo 11:8 dat Moses in gloeiende toorn van Farao af weg gegaan het, en weer in Exo 32:19 toe hy van die berg afgekom het, het die toorn van Moses ontvlam, en hy het die tafels uit sy hande gegooi en hulle onder aan die berg verbrysel.
En van Jesus lees ons in Mat 21:12 – 13, hoe Hy die wat in die tempel gekoop en verkoop het uitgejaag en die tafels omgegooi het, en in Mar 3:5 lees ons Hy het hulle met toorn aangekyk.
Ons sien dus in hulle twee, twee persone wat sterk staan wanneer God se eer aangetas word, maar wanneer hulle self beskuldig en te na gekom word, het hulle hulself nie verdedig nie.
Die stelling oor Moses se sagmoedigheid word dan juis gemaak in Num 12 waar Mirjam en Aäron teen hom praat En Jesaja sê van Jesus in Jes 53 : Hy is mishandel, hoewel Hy onderworpe was, en Hy het sy mond nie oopgemaak nie; soos ‘n lam wat na die slagplek gelei word en soos ‘n skaap wat stom is voor sy skeerders—ja, Hy het sy mond nie oopgemaak nie.
Ek wil afsluit met twee gelykenisse van Jesus wat indirek dui op die toestand van die mens se hart en hoe die Vader daarop reageer.
Die eerste gaan oor die verlore skaap en die tweede oor die verlore seun
U kan beide die gelykenisse in Lukas 15 gaan bestudeer.
Wat belangrik is hier, is dat ons let op die ooreenskomste en die verskille tussen die twee gelykkenisse.
Die eerste ooreenkoms is dat in beide gevalle het skeiding gekom tussen die inidvidu en die groep en dan meer spesifiek, skeiding van die herder in die geval van die skape en van die vader in die geval van die verlore seun. Ons verstaan dat in altwee gevalle hier beide die herder en die vader eintlik verwys na Jesus en God die Vader self.
‘n Tweede ooreekoms is dat beide die skaap en en die seun weer terugkom by die groep en dat daar dan groot blydskap is by die herder en die vader dat die een wat verlore was weer terug gevind is.
Wanneer ons egter dieper kyk sal ons twee verskille raak lees, en dit het alles te doen met die toestand van die hart en die reaksie van die herder en die vader daarop.
Die eerste verskil is dat die skaap wat verlore geraak het het dit nie doelbewus gedoen nie, Ons lees in Mat 18 waar die gelykenis ook voorkom, dat die skaap verdwaal het. Hierdie persoon het nie agter gekom dat hy besig is om onder die herder se beskerming uit te beweeg nie.
By die verlore seun sien ons egter hy het ‘n doelbewuste besluit geneem om van sy vader weg te gaan.
Die tweede verskil is daar in dat met die verlore skaap het die herder alles in sy vermoë gedoen om die skaap terug te kry, maar in die geval van die verlore seun het die vader nie agter die seun aangegaan nie, maar steeds gekyk wanneer kom hy terug en hom tegemoet gehardloop toe hy wel terug kom.
En die les hierin is wanneer die moeilike situasies oor ons pad kom, moet ons waak om nie doelbewus ‘n weg in te slaan wat ons van God gaan skei nie. Moenie opsetlik jou hart verhard nie, en moenie aan God aanstoot neem as dinge nie uitwerk soos jy wil nie.
Laat ons gebed wees dat ons almal eensgesind, medelydend, vol broederliefde, ontferming en vriendelik sal wees.
Dat ons nie kwaad met kwaad vergeld of skeldwoorde met skeldwoorde nie, maar seën sodat ons seën kan beërwe.
Dat ons ons tonge bewaar vir wat verkeerd is, en ons lippe dat hulle geen bedrog spreek nie.
Dat ons afwyk van wat verkeerd is, en doen wat goed is; dat ons vrede soek en dit najaag.
Ons dank die Here dat SY oë is op die regverdiges en sy ore tot hulle gebed.
Amen , gaan in vrede en onthou ‘n sagmoedige en stille gees is baie kosbaar voor God.