Wat is vergifnis

Ons gaan vadag kyk na die Bybelse opdrag om te vergewe.

  1. Wat is vergifnis.
  2. Is ons verplig om te vergewe.
  3. Hoe weet ons dat ons vergifnis opreg is.

Eerstens dan wat is vegifnis

As ons kyk na wat is vergifnis, is dit belangrik om te verstaan wat vergifnis nie is nie.

Byvoorbeeld:

  1. Vergifnis is nie om voor te gee dat iets boos nie gebeur het nie of om voor te gee dat jy nie seer gekry het nie.
  2. Vergifnis is nie om verskoning te maak vir iemand anders se foute, oortredings of swak gedrag nie. 
  3. Vergifnis beteken ook nie dat alle negatiewe gevolge wonderbaarlik uit gekanselleer word nie.
  4. En belangrik, Vergifnis en straf is nie dieselfde nie. In erge kriminele gevalle, soos inbrake, aanranding, verkragtings, moord ens,  sal die gereg sy gang gaan en ‘n oortreder gaan gestraf word ongeag of jy vegewe of nie. 

‘n Bybelse voorbeeld hiervan is die geskiedenis van Dawid en Batseba. Ons lees in 2 Sam 11 hoe koning Dawid oewerspel pleeg met Batseba, die vrou van Uria, en hoe hy ook later vir Uria laat doodmaak.

In hoofstuk 12 lees ons dan hoe die Here Natan na Dawid stuur en hy met die boosheid wat hy gedoen het gekonfronteer word.  Dawid ontvang wel vergifnis, ons lees in vers 13,”So het die HERE dan ook u sonde vergewe”, maar dit het nie ongedaan gemaak dit wat hy gedoen het of die gevolge van dit wat hy gedoen het nie.

Deel van die gevolge van David se sonde was dat die kind sou sterf en dat die swaard uit sy huis sou wyk nie. Die seun wat vir hom en Batseba gebore is sterf dan ook en later sou ons lees van nog 3 ander seuns van Dawid wat dood gemaak word.  ( En net so tussen hakies hier, wees versigtig dat u nie ‘n oordeel vel oor andere nie. Rom 12:19  Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here. 

U sal onthou dat toe Natan na David kom oor die storie van Batseba, het hy begin deur die storie te vertel van ‘n ryk man wat besoek ontvang het , en in plaas van om van sy eie vee te slag en voor te berei vir sy gaste het hy die een ooi lammetjie van ‘n arm man laat vat en vir sy gaste voor berei. Die Woord sê verder Dawid het so kwaad geword toe hy dit hoor dat hy summier ‘n oordeel oor die ryk man gevel het. Die ryk man moes sekerlik sterwe en vier voudig terug gee van wat hy gevat het. Natan sê toe vir Dawid, u is die man. Dawid het natuurlik onmiddelik berou getoon en bely. Die Here vergewe dan ook vir Dawid en Natan kon hom verseker dat hy nie sou sterwe nie, maar die tweede deel van sy eie oordeel wat hy oor die rykman uitgespreek het sou in stand bly. 

Natan sê vir Dawid die swaard sou uit sy huis nie wyk nie en interessant dat dit dan ook so opgeteken is in die Bybel dat Dawid vier van sy seuns verloor net soos hy gesê het dat daar vier voudig terug gegee moes word.

Vir die van u wat nou wonder wie die 4 seuns was.Dit was natuurlik die seuntjie wat vir hom en Batseba gebore is 2 Sam 12:14 – 15 ,  Amon 2 Sam 13:1 – 33,  Absolom 2 Sam 18 :1 – 18 en Adonia 1 Kon 2:13 – 25) 

So wat leer ons uit die Dawid en Batseba verhaal?

Wel ons leer dat God het Dawid vergewe, maar dit het nie beteken dat die boosheid, goed gepraat of verskoon is nie. Dit het ook nie beteken dat die negatiewe gevolge van die daad wonderbaarlik verdwyn het nie, Uria  was nog steeds dood  en die baba is gebore .

En baie belangrik, die straf het nog steeds op Dawid en sy huis neergekom.

Daarom is dit nodig dat ons in die Bybel gaan kyk na wat vergifnis is en nie vergifnis sal weerhou omdat ons ‘n vekeerde verstaan het van wat dit eintlik behels nie. 

Uit die Woord sal ons leer dat vergifnis ‘n geskenk is en ‘n geskenk is iets wat ons verniet ontvang, iets wat ons nie verdien het nie.

In die Bybel lees ons dat God vergifnis skenk. In Jer 5:1 en Jer 50:1 sal U lees dat die Here vergifnis skenk. Ook so in die nuwe Testament, Hand 5:31 sê: “Hom het God as Leidsman en Verlosser deur sy regterhand verhoog om aan Israel bekering en vergifnis van sondes te skenk.

Net soos ons nie vergifnis kan verdien nie, en dit as geskenk van die Here ontvang, so wil Hy dat ons ook die wat teen ons oortree sal vergewe.  Onthou jy vergewe nie iemand omdat hy of sy dit verdien. 

Vergifnis kan nie verdien word nie, indien dit so was sou God ons nooit kon vergewe het nie, want wat sou ek of jy nou kon offer vir die sondes van ons lewe.

Onvergewensgesindheid lei tot bitterheid, woede en haat. En onthou God weet wat in jou hart aan die gang is. Luk 8:17  Want daar is niks verborge wat nie openbaar sal word nie, of weggesteek wat nie bekend sal word en in die lig sal kom nie.

En  Efes 4:31 sê Alle bitterheid en woede en toorn en geskreeu en lastering moet van julle verwyder word, saam met alle boosheid. 

So vergifnis is dus nie alleen jou geskenk aan die ander persoon nie, maar dit maak jou vry van die sonde van bitterheid  en woede.

En omdat vergifnis ‘n geskenk is, iets wat nie verdien kan word nie is vergifnis dus ‘n wils besluit, optrede wat doelbewus uitgevoer word. 

Jesus sê in Mat 16:19

En Ek sal jou die sleutels van die koninkryk van die hemele gee; en wat jy ook op die aarde mag bind, sal in die hemel gebonde wees, en wat jy ook op die aarde mag ontbind, sal in die hemel ontbonde wees.

Vergifnis is een van hierdie sleutels wat jy in jou hand het om jouself mee vry te maak. Die seer, bitterheid en woede in jou, as jy nie daarmee gaan deel nie, sal dit beslis oor gaan in haat. En dit is waar die groot moeilikheid met onvergewens gesindheid lê. 1Joh 4:20 -21  As iemand sê: Ek het God lief—en sy broeder haat, is hy ‘n leuenaar; want wie sy broeder wat hy gesien het, nie liefhet nie, hoe kan hy God liefhê wat hy nie gesien het nie?  En hierdie gebod het ons van Hom dat hy wat God liefhet, ook sy broeder moet liefhê. 

En die liefde gebod is nie net vir jou broeders en susters in Christus nie, nee hoor wat sê Mat 5:43  Julle het gehoor dat daar gesê is: Jy moet jou naaste liefhê en jou vyand moet jy haat. Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg; 

Dit bring ons dan by die tweede vraag, Is ons verplig om te vergewe?

Wel kom ons kyk na wat die Woord van God hieroor te sê het. Moet ek vergewe of het ek ‘n keuse.

Kol 3:12 – 13 Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid.  Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ‘n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen. 

Let wel hierdie is nie ‘n versoek nie maar ‘n opdrag, en baie belangrik die opdrag word aan die kinders van God gegee.  Die opdrag, soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen is spesifiek vir die heiliges en geliefdes, die uitverkorenes van God. 

Vergifnis is so belangrik dat Jesus sê ons ewige bestemming hang daarvan af.

Jesus noem dit as ‘n gegewe in Mat 6:12 (Deel van die Onse Vader gebed)  en vergeef ons, ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe;  En hier moet ek u nou herinner aan wat ons geleer het oor die woorde wat uit Dawid se mond gekom het, hoe dit wat hy gespreek het uit eindelik in sy eie lewe sou waar word. Het U al die onse Vader gebed gebid, wel dan het u bevestig dat God u sal vergewe soos u ander sal vergewe. Het u al ooit gesê dat u ‘n ander persoon nooit sal vergewe vir wat hy of sy u aangedoen het nie.  Onthou daardie woord staan voor God net soos die woorde van die Onse Vader gebed wat ons so gereeld bid voor God staan.

Jesus sê in Mat_12:37  Want uit jou woorde sal jy geregverdig word, en uit jou woorde sal jy veroordeel word

Direk na die onse Vader gebed in Mat 6 vers 14 en 15 sê Jesus dan die volgende:

Want as julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe.

Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie.

Dan lees ons weer in Mar 11:25 -26  En wanneer julle staan en bid, vergeef as julle iets teen iemand het, sodat julle Vader wat in die hemele is, ook julle jul oortredinge mag vergewe.

Maar as julle nie vergewe nie, sal julle Vader wat in die hemele is, ook julle oortredinge nie vergewe nie.

Mat 5:23 – 24

  As jy dan jou gawe na die altaar bring en dit jou daar byval dat jou broeder iets teen jou het, laat jou gawe daar voor die altaar bly en gaan versoen jou eers met jou broeder, en kom dan en bring jou gawe.

Kan julle sien dat vergifnis vir God so belangrik is dat dit nie by Hom saak maak wie die skuldige is nie.  Of jy nou iets teen ander persoon het en of die ander peroon iets teen jou het is vir God om’t ewe. Hy sê jy moet gaan en gaan regmaak.

Dink daaroor, wanneer daar onmin tussen jou en iemand anders is, verwag die Here van jou om die inisiatief te neem.

En onthou of die ander persoon nou sal oorgaan om te erken, en by jou vergifnis vra of nie, jy kan en moet die vergifnis skenk.

Onthou Jesus het aan die kruis gesê, “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” En in daardie stadium het die wat Hom gekruisig het, Sy klere verdeel en die lot daaroor gewerp het , nie om vergifnis gevra nie. ‘n Ander voorbeeld in die Bybel van iemand wat vergewe het sonder dat die oordtreders daarvoor gavra het was Stéfanus. Gaan lees gerus oor Stéfanus in Handelinge 6 en 7, En hoe hy gestenig is en met sy laaste bietjie asem kon uitroep; “Here, reken hulle hierdie sonde nie toe nie”.

Ons kan nou saam lees uit Mat 18 vers 21 tot 35.

Mat 18:21  Toe kom Petrus na Hom en sê: Here, hoe dikwels sal my broeder teen my sondig en ek hom vergewe? Tot sewe maal toe? Jesus antwoord hom: Ek sê vir jou, nie tot sewe maal toe nie, maar tot sewentig maal sewe toe.Daarom word die koninkryk van die hemele vergelyk met ‘n sekere koning wat met sy diensknegte wou afreken.En toe hy begin afreken, word daar een na hom gebring wat tien duisend talente skuldig was.En omdat hy nie kon betaal nie, gee sy heer bevel dat hy verkoop moet word, en sy vrou en sy kinders en alles wat hy het, en dat betaal moet word.Toe val die dienskneg neer en buig voor hom en sê: Heer, wees lankmoedig met my, en ek sal u alles betaal. En die heer van daardie dienskneg het innig jammer vir hom gevoel en hom losgelaat en hom die skuld kwytgeskeld.

Maar toe daardie dienskneg uitgaan en een van sy medediensknegte vind wat hom honderd pennings skuldig was, het hy hom aan die keel gegryp en gesê: Betaal my wat jy skuld.Sy mededienskneg val toe voor sy voete neer en smeek hom en sê: Wees lankmoedig met my, en ek sal jou alles betaal. En hy wou nie, maar het gegaan en hom in die gevangenis gewerp totdat hy die skuld sou betaal het.

En toe sy medediensknegte sien wat gebeur het, was hulle baie bedroef, en hulle het gegaan en aan hulle heer meegedeel alles wat gebeur het. Daarop roep sy heer hom en sê vir hom: Jou slegte dienskneg, al daardie skuld het ek jou kwytgeskeld, omdat jy my gesmeek het;  moes jy nie jou mededienskneg ook barmhartig wees soos ek jou ook barmhartig gewees het nie?En sy heer het hom in toorn oorgegee aan die pynigers (basanistes bas-an-is-tace, van die woord bas-an-id-zo)  totdat hy sou betaal het alles wat hy hom skuldig was.So sal ook my hemelse Vader aan julle doen as julle nie elkeen sy broeder van harte sy oortredinge vergewe nie.

So as ons vinnig opsom wat ons gelees het  in Mat 18:

  1. Dienskneg nommer een skuld sy heer baie en kan nie betaal nie.
  2. Hy plyt by sy heer.
  3. Sy heer kry hom jammer skryf sy skuld af en laat hom gaan
  4. Dienskneg nommer twee skuld vir dienskneg nommer een.
  5. Hy plyt ook.
  6. Maar dienskneg nommer een weier om genade te betoon en laat dienskneg nommer twee toesluit.

Dit is nie moeilik om uit hierdie gelykenis te verstaan dat die heer, God is en die diensknegte ons is nie, en die skuld ons sonde voor God is nie.

Dienskneg nommer een is ek en jy wat groot skuld en onreg en sonde voor God het en dienskneg nommer twee is ons naaste wat ons skuld of onreg teen ons gepleeg het, maar op heelwat kleiner maat as wat ons teen God het.

En dan is daar iets in hierdie gelykenis wat ons gewoontlik nie raaksien nie. En dit is dat die vergifnis wat die heer aan dienskneg een bewys het was voorwaardelik.  Onthou die onse Vader gebed:

vergeef ons, ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe

Toe dienskneg nommer een nie vir dienskneg nommer twee vergewe nie, toe verval die vergifnis wat hy by sy heer gekry het.

Die gelykenis eindig met hierdie woorde

Vers 34 -35

En sy heer het hom in toorn oorgegee aan die pynigers totdat hy sou betaal het alles wat hy hom skuldig was.

So sal ook my hemelse Vader aan julle doen as julle nie elkeen sy broeder van harte sy oortredinge vergewe nie

Moenie dat daar nou onvergewensgesindheid in jou hart lê wat die vergifnis wat jy ontvang het toe jy tot bekering gekom het, ongedaan gaan maak nie.

Vergifnis is nie altyd maklik om te doen nie. Veral waar daar diep en baie seer geestelike wonde opgedoen is. Ek sê nie vandag vir jou dit is altyd maklik nie, maar wat ek wel vir jou kan sê, is God ag dit baie belangrik en met Jesus in jou is dit moontlik.

Getrou aan God se woord wees moet ons vir mekaar sê, dat jy nie ‘n keuse het nie. Vergewe moet ons vergewe. Onvergifnis is die toesluit van deure en dit bind jou. Spreek die ander een vry sodat jy kan vry wees. 

Soos ons reeds vroeër gesê het. Moenie u vergifnis terug hou omdat u dink dit is ‘n straf vir die ander persoon nie.

Heb 3:15  is baie duidelik en ook vir ons vandag:

Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie.  Moenie uitstel nie. Moenie jou hart verhard nie. 

Onthou jy toe jy tot bekering gekom het, hoe jy onder sonde besef voor die Here gekom het en Hom gevra het om jou te vergewe.  God het jou vergewe en nou kom Hy en sê, gaan jy en doen net so.

Bas-an-id-zo –  Waarvan die voord pyniger afgelei is.

Mat 8:6  en sê: Here, my kneg lê tuis verlam en hy ly hewige pyn

Mat 14:24  En die skuit was al in die middel van die see, geteister (Engels tossed) deur die golwe; want die wind was teen hulle. 

En dan die derde vraag: Hoe weet jy jou vergifnis is opreg?

Die toets vir ware vergifnis lê daarin hoe jy dink oor die persoon en die gebeurtenis waarvoor jy die vergifnis geskenk het.

Die Here sê vir ons in Jer 31:34  … want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie. zaw-kar’)

Eerstens, let op wat God sê: Hy sal daaraan nie weer dink nie, Nou ons God en Vader is alwetened, so God weet wat ons verkeerd gedoen het in die verlede, maar HY maak ‘n besluit om nie daaraan te dink nie. En die Here wil dat ons ook so leef. Daarom die opdrag in 2 Kor 10:5 …om elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus,

So wanneer die duiwel weer sy pyle op jou afskiet en jou wil laat glo dat jy nie kan vergewe nie of dat jy nie reg vergewe het nie, vang daardie gedagte en bring dit gehoorsaamheid van Christus.

Die feit dat jy wel die gebeure onhou op sig self is nie bewys dat jy nie vergewe het nie. Dit gaan heel eerder oor hoe jy onthou en hoe jy daarop reageer .

Wat ons dan by ‘n tweede punt in die Bybel bring wat wys hoe die Here reageer op iets wat vergewe is.

Kom ons kyk na Eseg 18 :22,

Eers in die Engels: “All his transgressions that he hath committed, they shall not be mentioned unto him: in his righteousness that he hath done he shall live.

Die Afrikaans lees so : “Al sy oortredinge wat hy begaan het, sal hom nie toegereken word nie; deur sy geregtigheid wat hy gedoen het, sal hy lewe.

 Nou die Hebreeuse word wat in Engels “mentioned” en in Afrikaans “toegereken” vertaal is, is dieselfde woord (zaw-kar) wat in Jer 31:34 as “dink” vertaal is. Met ander woorde wat die Here hier vir ons sê is nadat Hy ons vergewe het sal hy ons ongeregtigheid nie weer teen ons hou nie, Hy gaan die nie weer teenoor ons noem of dit aan ons toereken nie.

Die vraag is dus wanneer daar wel ‘n gedagte oor die persoon wat jou te na gekom het by jou wakker gemaak word, hoe reageer jy.

 Wanneer jy bid, as dit ‘n ongeredde persoon is, bid jy vir hom, vra jy God om hom of haar te red. En as die ander persoon ook ‘n wedergebore Christen is, kry jy dit reg om die Here te vra om hom of haar te seën?

Onthou, die Here is net so lief vir die person wat jy moet vergewe as vir  jou. Sy bloed het ook vir daardie persoon betaal. En Onthou negatiewe gedagtes teen ander is net so goed as om so ‘n person te vervloek. Ons kan nie kwaad bedink teenoor ander nie, maar goed. So spreek lewe en seën en as jy weet die persoon is nie gered nie, bid vir sy / haar siel.

Die vergifnis wat ons gee is op grond van die vergifnis wat ons reeds ontvang, dit is oor wat Jesus vir ons gedoen.  Dit gaan oor Jesus in ons vir wie alle ding moontlik is. Ja met Christus in ons kan en moet ons vergewe.

Ek wil  afsluit met nog ‘n gedeelte oor Dawid. U ken die verhaal van hoe Saul, Die eerste koning oor Israel teenoor Dawid opgetree het , nadat hy besef het dat die koningskap van hom weggeneem word en dit op Dawid geplaas word. “n Mens sou seker Saul as Dawid se nommer een en grootste persoonlike vyand kon beskryf. Saul het vir Dawid gejaag en gesoek om hom dood te maak.

Maar luister nou Dawid se hart nadat Saul dood is. Onthou u wat ons sopas geleer het hoe God vergewe, Eseg 18 :22. God het gesê sal jou oortredeing nie teenoor jou noem en dit nie teen jou hou nie. En dit is presies die voorbeeld wat Dawid navolg in 2 Sam 1:17 – 27, U kan gerus die gedeelte gaan lees, ek gaan net kortliks uithaal om die punt te onder skryf.

Hy sê… Hoe het die helde geval! Vertel dit nie in Gat, verkondig dit nie op die strate van Askelon nie, sodat die dogters van die Filistyne hulle nie verheug, die dogters van die onbesnedenes nie jubel nie!  

Hy eer Saul.. hy noem hom ‘n held, en belanrik luister hier,  hy vermaan die mense om nie sleg oor Saul te praat, hoor u die les hier uit Dawid se optrede? Nadat jy vergewe het moenie sleg praat oor die persoon nie. Met ander woorde moenie die vyande van die persoon wat jy vergeef het iets gee om hulle oor te verbly nie, Onthou ons het gesê die toets vir ware vergifnis is in jou gedagtes en optrede teenoor die persoon wat jy vergewe het

Hoor wat sê hy verder aan, Hy hou aan om net goed oor Saul te praat, 

…. Vinniger as arende was hulle, sterker as leeus.  Dogters van Israel, ween oor Saul, wat julle weelderig beklee het met skarlaken, wat goue versiersels aangebring het op julle gewaad.  .. 

Dawid bring in herinnering die goeie wat Saul gedoen het.

Onthou vergifnis is die wil van God, ons moet vergewe soos God ons vergewe het. Vergifnis is hierdie wonderwerkende geskenk wat jy ander gee, maar eintlik deur te gee, is dit jy wat die vryheid en die voordeel van die geskenk ontvang.

Vader U woord sê U vergeef menigvuldiglik.

Vergeef ons ons skulde waar ons dwaas gehandel het nie ander wou vergewe soos U ons vergewe het nie.

Help ons om so liefde aan ons naaste te bevestig en dat ons nie deur Satan in die saak bedrieg word nie.

Vader ons bid tot U, help ons deur U Heilige Gees om nie  wederstrewig te wees nie, maar om mekaar te verdra en mekaar te vergewe soos Christus ons vergeef het, wanneer die een teen die ander ‘n klag het.

Dankie Vader dat ons genade in u oë gevind het. Dat U al ons ongeregtigheid vergewe, en al ons krankhede genees,

Vader, U Woord sê dat U nooit ongeregtigheid en oortreding ongestraf laat bly nie, maar terselfdertyd loof en prys ons u omdat U lankmoedig en groot van goedertierenheid is , en die ongeregtigheid en oortreding vergewe van duisende.

U alleen ken die hart van al die mensekinders.

Vader ons dank U vir die offer van Jesus, die een wie se bloed uitgestort is tot vergifnis van sonde, die bloed van die nuwe testament.

Amen